Enkele ure oor vir skoolaansoeke in Gauteng

Panyaza Lesufi (Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die Gautengse departement van onderwys het reeds byna 750 000 leerders se aansoeke vir die 2023-akademiese jaar ontvang, maar maan dat diegene wat nog nie dié proses afgehandel het nie, nou moet spring.

Die departement het Vrydag gewaarsku dat alle aansoeke vir die komende skooljaar vandag (19 Augustus) om middernag sluit. Die betrokke dokumentasie sal wel nog ná die sluiting fisiek by skole afgegee kan word.

Ouers en voogde wat die proses vandag nog moet afhandel, hoef egter nie bekommerd te wees nie, aangesien vanjaar se aanlyn aansoekproses skynbaar seepglad verloop.

“Ons is trots daarop dat ons aanlyn aansoekproses daarin geslaag het om so ʼn groot aantal suksesvolle aansoeke te fasiliteer. Ons het ook min klagtes van aansoekers opgemerk, wat getuig van die stelsel se konstante verbetering,” het Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, gesê.

Sedert die aanlyn skoolaansoeke in Julie geopen het, het die departement altesaam 323 294 aansoeke vir gr. 1 gekry en 448 168 aansoeke vir gr. 8.

Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ook gesê dat hy beïndruk is met die vordering wat vanjaar met die stelsel gemaak is.

“Die SOS is dankbaar dat daar vanjaar werklik min probleme met die aanlyn aansoekproses was. Dit wil voorkom asof die meeste van verlede jaar se probleme nou die hoof gebied is en talle skoolhoofde met wie ons gekommunikeer het, het dit beaam,” sê Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by SOS.

“Ons hou nou asem op dat die volgende rondte van die proses vlot sal verloop.”

Jou aansoek is nie te laat

Die departement het ouers en voogde van toekomstige gr. 1- en gr. 8-leerders herinner indien hulle reeds aansoek gedoen het, maar nie die nodige dokumente ingedien het nie, om dit dringend op die stelsel op te laai of binne sewe dae by die betrokke skool in te handig. Die sperdatum hiervoor is 30 Augustus.

“Dokumente sal nie ná 19 Augustus op die stelsel gelaai kan word nie, aangesien die aanlyn aansoektydperk dan eindig,” lui die departement se skrywe aan ouers en voogde.

“Aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerders wat gedoen is sonder om die nodige dokumente in te dien of op die stelsel te laai, sal as onvolledig beskou word. Plasings vir hierdie aansoeke sal dan slegs by beskikbare skole gedoen word en sal eers in Desember geskied.”

Die departement hoop om alle ouers en voogde wat suksesvol aansoeke ingedien het tussen 3 en 31 Oktober oor die plasings te laat weet.

Nadat ouers en voogde ʼn SMS met die plasings ontvang het, moet ʼn skool binne sewe skooldae aanvaar word.

  • Indien jy enige probleme met jou aansoek ervaar of enige aansoekverwante navrae het, kan die departement se inbelsentrum by 0800 000 789 gekontak word of stuur ʼn WhatsApp na 060 891 0361.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Amper 100 000 meer graad 8s as vir graad 1 wat beteken die geboortesyfer val of nog +- soveel aansoeke is uitstaande. Lesufi glo sy plan om so vroeg alles te probeer orden, werk. Wag tot na Kersfees. Daar wag weer ‘n tranedal voor skoolhekke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.