Enkelma se stryd vir serebraal gestremde kind

Cara Rotherforth (Foto: Facebook)

Die vyfjarige Cara Rotherforth van Pretoria lyk op die oog af soos ’n gewone kind van haar ouderdom met ’n glimlag wat om haar mondhoeke speel en prettige bollas weerskante van haar kop.

Klein Cara is egter op die ouderdom van drie as serebraal gestrem en outisties gediagnoseer nadat sy reeds op nege maande tekens van serebrale gestremdheid begin toon het. “Op die oog af lyk sy normaal, maar wanneer sy probeer loop of praat, kom die kyke van mense,” sê Charmique Rotherforth, Cara se ma, wrang.

Charmique het Maroela Media Donderdag vertel van die uitdagings wat sy as enkelma daagliks beleef.

Wat beteken dit om ’n serebraal gestremde kind in haar huis te hê? “Eerstens is daar geld vir niks.” Cara moet een keer per week na ’n fisioterapeut, ʼn arbeidsterapeut, ʼn spraakterapeut en ʼn chiropraktisyn gaan – terapie wat die mediese fonds skaars dek.

Cara is nou vyf jaar oud, maar kan nie praat of loop nie. “Sy het erge breinskade opgedoen en al wil sy, kan haar brein nie vir haar liggaam sê om te loop nie.” Haar rug en bene trek skeef en haar hande trek binnetoe. Sy is ook op doeke en drink aanvullingsmelk. “Dis soos om ’n pasgebore baba vir die res van jou lewe te hê,” erken Charmique.

Charmique en Cara Rotherforth (Foto: Facebook)

Sy vertel dat sy ook nie meer juis uit die huis gaan nie, aangesien dit swaar is om te sien hoe mense vir Cara snaaks aankyk.

Charmique werk voltyds om die pot aan die kook te hou terwyl haar ma bedags na Cara omsien. Om ’n skool te kry wat kans sien vir Cara se behoeftes is ’n uitdaging op sy eie. Charmique vertel dat daar nie ’n skool in Pretoria of Johannesburg is wat na Cara kan kyk nie, al val sy nié in die ergste graad van serebraal gestremdheid nie.

Te midde van alles, bly Cara breed glimlag. “Sy is so ’n vriendelike kind. Ek haal my hoed vir haar af dat sy nogsteeds glimlag ten spyte van alles. Ek leer by háár,” sê Charmique.

Cara kan slegs kruip en kan glad nie soos ander kinders van haar ouderdom alleen buite die huis wees nie. Die idee van ’n mediese loopraam het egter oor Charmique se pad gekom om haar Cara-kind die kans te gun om in ’n mate op haar eie oor die weg te kom.

“Dit gaan oor my dogtertjie. Sy sal só gelukkig wees as sy self kan loop.”

Cara Rotherforth (Foto: Facebook)

Die koste van só ’n loopraam beloop egter duisende rande waarvan Cara se mediese fonds net ’n fraksie dek. Charmique het egter nie ’n keuse nie en word genoodsaak om geld vir die loopraam in te samel. “Sy moet nou een kry, anders is daar nie veel wat die terapeute meer vir haar kan doen nie,” verduidelik sy.

Cara het tot en met nou stadig verbeter met elke terapiesessie en klein dinge soos om iets met haar vingers raak te vat is ’n oorwinning in die Rotherforth-huis.

Charmique het sowat tien maande gelede verloof geraak en sien uit daarna dat Cara met behulp van die loopraam saam met haar die paadjie sal kan afstap wanneer die huishouding ’n gesinslid ryker word.

“Die belangrikste ding is dat sy haarself kan geniet en kan loop.”

Besoek die Cara’s Future-Facebookblad vir meer inligting oor Cara se vordering, asook hoe om ’n finansiële bydrae tot haar loopraam te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jane ·

AG maar sy is pragtig . regtig ‘n mooi meisiekind . Sterkte, ek hoop julle is gelukkig getroud en dat sy die mooi dag saam met julle kan vier IN haar nuwe loopraam …

Lindtjies ·

Ek wens mense wil meer sensitief wees. My seun het ook ‘n gestremdheid en mense staar hom ook aan. Daar is al gesê hy loop soos ‘n dronk persoon. Die ergste was toe iemand in die dorp na my toe gekom het en gevra het hoekom loop hy so of hy so gebore is of daar iets met hom gebeur het. Die tierwyfie kom uit my uit as enige persoon hom aanstaar of opmerkings maak. Ek sal hom met alles in my beskerm.

Pauline ·

Maroela Media; is die dogtertjie, Cara, se van Rotherford, en haar ma, Charmique, se van Rotherforth? Dit is hoe dit dwarsdeur die artikel voorkom .

Tania Heyns ·

Dagsê Pauline

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Albei se van is inderdaad Rotherforth. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Ann ·

Ek het glad nie kennis van spesiale behoefte-kinders nie, maar ek sal hulle NOOIT NOOIT aanstaar of terg, vinger wys of wat ook al nie. Die mense wat dit doen, het duidelik nog nie ‘n beproewing gehad nie. My kinders weet ook dat hulle nie maatjies moet terg wat spesiale behoeftes het nie. Hulle sal eerder maats maak en help waar hulle kan.

Iemand ·

Ja, mens moet nie staar nie, maar ek dink ook dis sleg as almal hul koppe wegdraai wanneer n gestremde verby kom. Ek wil my ki,d leer dat sy n gestremde in die oe kyk en groet soos wat mens ander mense groet wat verby stap.

Goofy ·

Charmique. Have to tried Alma School in Pretoria?
They are situated in Eloffsdal and provide special education for severe physically and intellectually disabled children.
Cara may be too young to be admitted yet, but if she can’t get in now, then get her on the waiting list. They are amazing and may open doors for you and Cara that will change your lives forever.

Charmique ·

Hi Goofy

the problem with cara is she’s not potty trained and she cant feed her self so for her to get into Alma she needs to be potty trained and be able to feed herself .

Regards.

AZ ·

In kemptonpark is daar n plek met die naam Casa Caritas wat na serebraal gestremdes omsien. Ek ken nie hul reels nie, maar jy kan gerus op FB of telefonies met hulle in verbinding tree vir meer inligting.

Gesiggie ·

Maak nie saak wat se gebrek jy het… vir Jesus en vir jou Ouers sal jy altyd die Engel kind wees… hoekom mense staar? verstaan ek nie… dit is nie of dit die eerste keer is wat hul iemand met n gestremdheid sien, Cara jy is n Sonstraailtjie… en jy gaan nog baie vreugde in Mamma en ander mense se lewens bring. Hoop almal sal hul harteen beursies kan oopmaak vir die kosbare dogter. Good Morning Angels gee altyd baie, ek is seker daar is iemand daar buite wat aan hul n brief kan stuur ( Iemand wat die gesin ken) hou altyd aan glimlag Cara.. Jesus het jou Lief. En vir die Mamma, Bly Glo en vertrou, want Jesus sal jou altyd stuif vashou.”

leser ·

sterkte charmique met cara, hou vas aan jou geloof met Jesus, Hy hou jul vas

Lila ·

Ek het dieselfde probleme en uitdagings met my gestremde kind. Sukkel ook om plek te kry om na haar om te sien… veral as sy die dag 18 is. Wat die loopraam betref: ek het sommer ‘n stootwaentjie (stroller) gebruik, net swaar gelaai sodat hy nie te vinnig rol nie.

Sê maar net ·

Daar is ‘n skooltjie in Pta genaamd GoedeHoop. Ek het vir so dogtertjie daar gefasiliteer. Sy was nog nie gepotty train nie. As die moeder ‘n voltydse fasiliteerder kan kry sal sy baie baat vind daarby en nie die las alleen hoef te dra nie.

Antie ·

Hettie van Angels Hotel in Roseville kyk ook na gestremde kinders en grootmense en Hettie is soos ‘n engel oor al haar gestremde kinders en grootmense wat sy versorg.

Karen ·

My dogtertjie is in Chrysalis in Lynnwood. Hulle is fantasties.

Jan van Schoor ·

Pretoria Skool vir Serebraal gestremdes in Dr Savagestr. en Nuwe Hoop in Alphen Park akkomodeer sulke kinders. Die personeel by Pretoria Skool is uitstekend.

Mrs.B ·

Ek is een van die mense wat kyk en weer kyk as ek gestremde kinders of mense sie, nie omdat ek dink dit is snaaks of wil spot nie maar omdat ek my verstom aan die deursettings vermoe van die pragtige mensies. En wanneer ek so na hulle staar, bid ek en vra onse Vader om sy hand van beskerming oor julle te hou want julle sit ‘n glimlag op my gesig. Julle mensies is altyd so pragtig en vriendelik, ek kry altyd ‘n glimlag terug met ‘n skaam wuif van die hand, net om te groet. Ek sal elke keer 2 keer kyk, want met die 2de kyk sien mens die mooi in die mensie voor jou.

marina van niekerk ·

Ek het twee outistiese kinders. ek is al imuun teen mense inteendeel lief die mense my kinders. Sterkte ek dink aan jou.

ANON ·

Ek kanie help om te smile as ek Cara sien ( of enige gestremde siel nie)
hul is vir my spesiale mense en wonderlik bo beskrywing.
ek staar nie as ek so mens sien nie maar eerder smile , ek kyk nie oor ek oordeel nie ek kyk oor ek verwonder is deur die spesiale mensies.
hulle harte is meer”pure” en vol liefde as wat ons ooit kan wens om te wees – daars so n spesiale plekkie wat ek vir hulle het

E.K. die eerste ·

So bly hier is hele paar mense wat sentrums aanbeveel vir die mamma. Ek hoop sy kom reg dat sy ook bietjie tydjie vir haarself kan he en net kan ontspan in die wete die meisietjie is in goeie hande. Sterkte mamma – jy is UITGEKIES omdat God geweet het JY sal die regte ma vir Cara wees. Ek kan dink dis moeilik geldelik, emosioneel en fisies maar daar is mense wat aan julle dink – sterkte op jou pad vorentoe.

Nee flip ·

Watse lewe het mense met sulke kinders? Ek is nie sterk genoeg om my lewe so op te offer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.