Enorme agterstand by forensiese laboratoriums

(Foto: Unsplash)

Die “katastrofiese” agterstand met die verwerking van DNS-bewysstukmonsters by die Nasionale Forensiese Wetenskaplaboratoriums nader volgens die DA nou 100 000 sake en ontneem duisende slagoffers van geslagsgebaseerde geweld die kans op geregtigheid.

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, sê die polisie se prestasieverslag vir die derde kwartaal wat aan die parlementêre portefeuljekomitee voorgelê is, wys dat die polisie 62% van bewysstukke binne die voorgeskrewe tydperk van 90 dae afgehandel het.

Die verwerking van DNS-bewysstukke word gemeet teen die teiken dat 80% van alle bewysstukke binne 90 dae verwerk moet word.

Whitfield sê die 62% beteken 27 801 uit 44 253 bewysstukke is binne die 90 dae spertyd verwerk, maar dat 16 452 bewysstukke nié tydig verwerk is nie.

“Die polisie moet nog sy verslag vir die vierde kwartaal aan die parlement voorlê, maar ek het betroubaar verneem dat die situasie selfs verder versleg het en dat die agterstand nou opgeskiet het tot amper 100 000 DNS-bewysstukke wat nog nie afgehandel is nie,” het hy gesê.

“Gegewe die dringendheid van die kwessie het ek aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf en hom gevra om in te gryp waar die minister van polisie versuim het en die kwessie, wat duisende slagoffers van geslagsgebaseerde geweld sonder geregtigheid laat, te pak.”

Whitfield sê sonder ʼn behoorlik funksionerende DNS-toetsvermoë by die laboratoriums kan die oortreders van die grusaamste misdade nie aan die pen ry nie en gaan pogings om geslagsgeweld te stuit net nóg een van Ramaphosa se onvervulde beloftes bly.

“Verlede week is ek ingelig dat die aanklaer aan die familie van ʼn vyfjarige dogtertjie wat wreed verkrag en vermoor is, gesê het dat haar vermeende aanvaller – wat op borgtog vir ander verkragtingsaanklag vrygelaat is – nie in hegtenis geneem kan word nie. Dít omdat daar nie toetsmiddels by die laboratoriums beskikbaar is om die DNS-toets te doen wat hom met die misdaad kan verbind nie.”

Whitfield sê daar is inderdaad ʼn kritieke tekort aan reagense en ander middels wat bydra tot die toenemende agterstand by laboratoriums. Hy sê wanbestuur en begrotingsbeperkings het ʼn verwoestende uitwerking gehad op die laboratoriums se vermoë om die basiese benodigdhede aan te koop om DNS-toetse te doen. Dié toetse is dikwels deurslaggewend tydens die vervolging van verkragters en moordenaars.

Die DA het die probleme met DNS-toetse al verskeie kere aan die groot klok gehang en reeds verskeie vrae daaroor in die parlement gestel. Die party het ook gevra dat die wetsontwerp oor forensiese prosedures aan die parlement voorgelê word sodat DNS-monsters van misdadigers geneem kan word voordat hulle vrygelaat word. Dié agterstand duur reeds sowat vier jaar.

Die polisie het verlede jaar ook ʼn ernstige tekort aan verkragtingstoetsstelle ondervind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Persheks

Al WEER groot hoed wie se syfers nooit reg is nie en nie kan tel nie! Genade gee my krag regtig waar. Wonder wie gaan die skuld kry? Mmmmmm seker apartheid se skuld of Covid eish