‘Enorme agterstand’ weens justisie se gekraakte IT-stelsel

testament

(Argieffoto: Asesoria-marbella.com)

Die kuberaanval op die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling se IT-stelsel sowat drie weke gelede is steeds besig om groot dele van die regstelsel lam te lê – en regslui en gewone burgers wat van die howe afhanklik, sit hande in die hare.

ʼn Prokureur waarsku boonop nou dat enorme agterstande wag wanneer die stelsel uiteindelik weer in werking tree.

“Die meester van die hooggeregshof kan niks doen nie. Hulle doen gewoonlik nie veel nie, maar nou het hulle nóg ʼn rede,” het ʼn radelose Pretoriase prokureur Dinsdag gesê.

“Jy kan nie ʼn boedel aanmeld nie, lêers is weg, daar is hengse vertragings want daar is geen ander roete as net deur die meester se kantoor nie. Elke enkele ding staan stil,” sê sy.

Die prokureur sê selfs die bodes wat prokureurs gebruik – en hulle ken elke moontlike opsie wat ʼn mens by die hof kan probeer – kan nie hond haaraf maak nie.

Die kuberaanval aan die begin van die maand het bykans al justisie se stelsels geraak en hoewel daar volgens die departement sedertdien vordering gemaak is om sekere kritieke dienste weer aanlyn te bring, is eksekuteursbriewe steeds van die belangrike dokumente wat nié uitgereik kan word nie.

ʼn Bloemfonteinse vrou wat ʼn welsynsorganisasie bedryf, sê die instelling het onlangs ʼn huis van ʼn bejaarde weldoener ná die vrou se dood geërf. Weens die stelsel wat grootliks tot stilstand geknars het, kan hulle egter nie ʼn eksekuteursbrief bekom sodat die eiendom verkoop kan word nie.

Die probleem het nou ʼn rimpeluitwerking.

“Die munisipale rekening en die erfbelasting vir die eiendom bly ophoop – en ons is voortaan daarvoor verantwoordelik – maar ons kan nie die eiendom verkoop nie omdat ons nie ʼn eksekuteursbrief kan bekom nie,” sê sy.

Die departement van justisie het ʼn week gelede, in sy laaste bywerking oor die situasie, gesê as ʼn tussentydse maatreël word dokumente wat byvoorbeeld benodig word om toegang tot ʼn oorledene se bankrekening vir die betaal van begrafniskoste te kry, met die hand verwerk.

Weens die gevaar van bedrog kan dieselfde egter nie met eksekuteursbriewe gedoen word nie.

Die voogdyfonds was tot ʼn week gelede ook steeds ontoeganklik, hoewel die departement onderneem het om elke moontlike poging aan te wend om vandeesweek funksionaliteit te herstel.

Dié fonds wat deur die meester gehanteer en geadministreer word, betaal geld uit aan ʼn minderjarige wanneer dié ʼn direkte erfgenaam is. Voogde van die minderjarige kinders moet dan ʼn eis by die voogdyfonds indien vir alles van skoolgeld tot kos en klere.

Dit is reeds ʼn enorme administrasieproses en kinders is grootliks afhanklik van die stelsel om die eise tydig te hanteer. Weens die kuberaanval is die fonds egter ook ontoeganklik.

Navrae hieroor aan die departement oor watter vordering daar tot dusver gemaak is om funksionaliteit van die stelsel ten volle te herstel, was tot dusver onbeantwoord.

Die prokureur met wie Maroela Media gepraat het, sê wanneer die stelsel weer aanlyn gebring word, hulle enorme agterstande verwag.

“Ons is nou net deur verlede jaar se agterstande en probleme, hoeveel erger kan dit nog word?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willempie ·

Niks abnormaals nie. Sedert 1994 het alles in RSA agteruit

Willempie ·

Niks abnormaals nie. Sedert 1994 het alles in RSA agteruit gegaan … danksy ANC.

SlinkseKoljander ·

Maar ons mens is moes bekwaam en geleerd om die tipe goed uit te sorteer, of moet hulle nou weer met hulle 30% slaag syfer kom bak handtjies staan en hulp vra?

marius ·

“Hulle doen gewoonlik nie veel nie …” Lekker gelag !

Ou Baardbek ·

Marius, DIT is nou voorwaar die waarheid!! Hulle doen inderdaad gewoonlik nie veel nie!!

Corrie ·

Die landroskantoor in Kempton Park reageer sedert Julie 2020 nie op eposse wat aan hulle gestuur word nie. Sukkel om magtiging van die hooflandros te kry om moeder se boedel af te handel.

Baardman ·

Nou het hulle darem weer n geldige verskoning vir hulle onkunde en onvermoë om enige iets reg te doen. Useless klomp belasting geld absorbeerders!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.