Enorme daling in brandstofpryse verwag

Argieffoto

Brandstofpryse gaan einde van die maand ’n enorme daling toon.

Volgens die Outomobiel-Assosiasie (AA) kan 95-oktaan-brandstof met sowat R2,18 per liter daal en 93-oktaan-brandstof met R2,05 per liter. Diesel sal na verwagting met sowat R1,65 per liter daal en paraffien met R1,98 per liter. Die dalings moet egter gesien word in die lig van die 25c-styging in die brandstofheffing wat in April in werking tree. Die verhoging in die heffing behels 16c vir die algemene brandstofheffing en 9c vir die padongelukkefondsheffing.

Wanneer die heffing met die vooruitskatting in ag geneem word, is die voorspelling dat 95-oktaan-brandstof met R1,93 per liter sal daal en 93-oktaan-brandstof met R1,80 per liter. Diesel sal dan met R1,30 per liter daal en paraffien met R1,39.

Die skerp daling in brandstofpryse word beskou as die grootste nog. “Die laaste keer dat die olieprys so skielik gedaal het, was tydens die Golfoorlog bykans 30 jaar gelede. Die daling is wel goeie nuus vir Suid-Afrikaners,” het die AA in ’n verklaring gesê.

“Ongelukkig vind hierdie enorme daling plaas op ’n tydstip waar motoriste ingeperk is, maar ons sal hulle daaraan herinner dat hulle steeds ingevolge die afsonderingsregulasies toegelaat word om hul voertuie te vul.”

Die skerp daling bring veral verligting vir vervoermaatskappye en so ook die ekonomie, wat in dié tyd veral swaartrek.

Te midde van die dalings, duur die olie-oorlog tussen Saoedi-Arabië en Rusland egter onverpoos voort. Die vraag na olie word verder onderdruk namate finansiële markte tuimel weens die Covid-19-pandemie.

Die AA het ook aangekondig dat hy gratis batterynoodhulpdiens aan gesondheidspraktisyns tydens die afsonderingstydperk sal verleen. “Dit is van kritieke belang dat dokters en verpleegsters by pasiënte kan uitkom en nie deur iets soos ’n motorbattery gekeer sal word nie.”

AA versoek sy lede wat nooddienste benodig, om van hul gratis selfoontoepassing gebruik te maak eerder as om die oproepsentrum te kontak.

Die AA doen ook ’n beroep op motoriste om aan die afsonderingsregulasies te voldoen en alle verkeerswette nakom.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alet ·

En geen iemand gaan die daling geniet nie want almal sit by die huis. Wanneer daar weer gery moet word gaan die styging seker weer met dieselfde bedrag op.

Boksombende ·

Of mens dit nou kan gebruik of nie maak nie saak nie. Jy gaan nogsteeds geld spaar want jy mag amper nerens met jou kar ry nie.

Cherokee ·

Ag Trompie, wees realisties. Volgens jou redenasie sal dit ook nie verskil maak as dit styg nie, wat 50% die waarheid is, maar.. as die isolasie termyn staak wanneer belowe is, soos 16de, dan het jy ‘n ander twee weke om jou tenk goedkoper vol te maak. Wees asseblief wakker en maak gebruik van scores wanneer dit opduik.

Hennie ·

Dis net vir my vreemd! Wanneer die olieprys met ‘n dollar of twee styg betaal ons maklik tussen R1 – R2 toe meer per liter brandstof in SA. Nou het die olieprys met 30 dollar+ gedaal en ons word geseën met ‘n verlaging van biki meer as R1 in SA. Die dollar prys is tog immers 40% Laer, so my berekening sê ons petrolprys moet ten minste met R8 per liter daal. Of is my berekening ongegrond?

SomeOne ·

ENORME daling, wat is r2 per liter as ons tans reeds deur ons nekke vir brandstof betaal

MAGRIETHA ·

Wees positief en dankbbaar dit daal dit sal help om voedsel pryse af te stoot ens

Cherokee ·

Vergeet dit MAGRIETHA . Het nog net gesien dat voedsel pryse styg weens verhoogde brandstof pryse maar nooit soos in nooit as te never dat dit daal wanneer brandstof pryse daal.

A.S ·

Ek dink die Regering en Dept van Onderwys kan skool fonds vries vir nou, kinders kan nie skool gaan en onderrig kry nie en baie ouers kan daai geld spaar vir ander benodighede. Baie mense in SA sukkel om skool fonds te betaal en kan daai geld nou gebruik vir kos in hierdie moeilike tyd.

msp ·

Ai, dink net hoe heerlik ek nou op vakansie kon gegaan het, as virus verby is sal dit seker weer die hoogte inskiet. Maar ons sal maar seker moet wag en sien, hoop en bid maar ek is verkeerd. :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.