‘Enorme daling’ in misdaad oor feestyd

Polisielede op patrollie in Limpopo. (Foto: SA Polisie)

xxx

Polisieminister Bheki Cele sê misdaad het die afgelope feestyd beduidend gedaal, hoewel daar nog etlike misdade is wat kommer wek.

Cele het Dinsdag terugvoer gegee oor die polisie se vakansie-operasies.

Hy het gesê die afgelope feestyd – wat volgens die polisiekalender van 15 Oktober tot 11 Januarie strek – was die veiligste een die afgelope paar jaar. “Die tydperk het ʼn enorme daling in die meeste ernstige misdade gehad, met minder mense wat vermoor is as in die ooreenstemmende tydperk ʼn jaar gelede. Die nasionale moordsyfer het in dié tyd met 1,4% gedaal,” het Cele gesê.

Volgens die minister het alle kontakmisdade, soos brandstigting en opsetlike saakbeskadiging, die afgelope vakansietyd gedaal. “Huise en sakepersele was veiliger,” het Cele in Durban gesê.

“Eiendomsverwante misdaad, soos huisbraak en ander inbrake, diefstal uit motorvoertuie en veediefstal, het met 10,2% gedaal.”

Cele het gesê ten spyte van die daling, is daar steeds hardnekkige misdaad wat dringende ingryping en hulpbronne benodig.

Altesaam 388 verdagtes is in dié tyd vir kapings aangekeer. Vragmotorkapings het in dié tyd met 9% toegeneem en motorkapings met 11%.

Die minister het gesê vuurwapens bly steeds misdadigers se voorkeurwapen en daar is in die tydperk op 4 831 vuurwapens beslag gelê.

Oos-Kaapse polisielede besig met ‘n klopjag. Meer as 84 000 mense is in die spesifieke tydperk in hegtenis geneem. (Foto: SA Polisie)

“Meer [vermeende] dronkbestuurders is ook in die feestyd van ons paaie verwyder. Ondanks herhaalde waarskuwings, opvoeding- en bewusmakingsprojekte, is 24 827 dronkbestuurders as ʼn gevolg van polisieoptrede aangekeer,” het Cele gesê.

Altesaam 4 048 meer mense is in dié tyd in hegtenis geneem vir bestuur onder die invloed van alkohol en dwelms as in die vorige tydperk.

“Ek is vas oortuig dat alkohol ons samelewing se grootste vyand is en ʼn groot aandrywer is van kontakmisdade,” het Cele gesê.

Daar is in die tydperk toegeslaan op meer as 6 000 drankwinkels en tavernes wat nie aan verordeninge voldoen nie. Meer as 2 000 van dié plekke is in die Oos-Kaap.

Meer as 84 000 verdagtes is vir verskillende misdade in hegtenis geneem. Dit sluit in 173 mense wat vroeër op parool vrygelaat is. Sowat 17 000 van diegene wat aangekeer is, is steeds in aanhouding en gaan deur die regstelsel.

Cele het ook gesê daar was die afgelope tyd optrede van polisielede wat ʼn “verleentheid” is en “kommer wek”.

Die polisie het oor die Kerstyd op meer as 6 000 drankwinkels en tavernes toegeslaan. (Foto: SA Polisie)

“Ek is seker dat dit geïsoleerde voorvalle is. Dit word intern hanteer en die nodige stappe gaan gedoen word teen enige polisielid wat die polisie se goeie naam skade berokken. Ek twyfel egter geensins dat dié wonderlike organisasie grootliks bestaan uit toegewyde mans en vroue nie. Die suksesse van die afgelope feestyd is ʼn bewys van hulle harde werk.”

Die minister het gesê elke polisielid, van die topbestuur tot die studentekonstabels wat in Desember eers uitpasseer het, het bygedra tot die sukses. Hy het die polisielede bedank dat hulle onophoudelik gewerk het, terwyl miljoene Suid-Afrikaners ʼn blaaskans geneem het.

“Die land salueer julle.”

Cele het ook gewone burgers en gemeenskapspolisiëringsgroepe bedank vir hulle bydrae om misdaad hok te slaan.

“Die feestyd is verby, maar die stryd teen misdaad duur voort. My opdrag aan alle polisielede is om dieselfde gees, motivering en energievlakke oor die volgende dekade vol te hou terwyl ons werk aan die presidensiële doelwit om geweldsmisdaad binne die volgende tien jaar te halveer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Kobus ·

Dis eerder ‘n geval van misdaad wat nie meer gerapporteer word nie agv gebrekkige dienslewering by Polisiestasies – ek het self ‘n misdaad probeer aangee, en is van die een Polisiestasie na die ander verwys agv “jurisdiksie” en by die laaste Polisie stasie is ek meegedeel dat ek nie ‘n misdaad na 24-uur kan aangee nie – wat ek weet nie die waarheid is nie. Was teen hierdie tyd uitgeput en getraumatiseerd en het dit maar gelos…

Stem saam ·

Ek het presies dieselfde ervaring gehad. ‘n Betreder was 3 maal op my erf in 2 dae. Het hom op kamera gevang aldrie kere. Volgens die die polisie by twee verskillende stasies is dit nie ‘n misdaad as iemand in jou erf is nie. Jy mag hom nie eers vloek nie. Jy moet hom vra om jou erf te verlaat. Hulle het geweier om dit selfs aan te teken in die voorvalle boek. By Hercules polisie het hulle my uitgejaag met “Go make a noise somewhere else”.

Suzette ·

Ek weet darem nie so mooi nie. Ons ou klein dorpie is met meer inbrake as wat daar dae in die maand is, geteister in Desember en die polisie was net eenvoudig argeloos daaroor. Steeds is daar inbrake en niemand word toegesluit nie. Hul wil ook nie sake oopmaak nie. Nee wat, ek stem, hierdie statestieke is net om die mense te troos. Miskien moet hierdie polisie hoof net afklim van sy lekker ou stoel af en gaan kyk wat aangaan by sy polisiestasies én werk daarvan maak.

Sdl ·

???? daarom is 35000 deur president vrygelaat.
Misdaad inkomste is in rooi.

Stem saam ·

Hulle sê mos; statistiek is vir die redenaar soos ‘n lamppaal vir ‘n dronke. Hy staan daar nie vir die lig nie, maar om regop te bly.

Alida ·

Wens hy wil se hoeveel kriminele het al hul wapens ingehandig maar sal seker daaroor ook lieg.

johan ·

As hulle kan lieg oos Escom, SAL en plaasmoorde sal jy moet baie kortsigtig en goedgekeur wees in die anc regering om hierdie te glo

thelsa ·

Arme ou droom. Dis nie gerapprteer nie of indien gerapporterr is dit nerens opgetek nie

Dagdroom ·

My voertuig is ook oopgebreek , nie my tyd gemors om dit aan te meld. Belaglik om te dink misdaad neem af.

Db ·

Hierdie wese hou nog feesseisoen want sy denke is deurmekaar. Hy is die swakste van die swakkes wat probeer om die liegstories net mooier te maak en die op grondvlak glo hom. Siestog, gee vir hom verlof want klink my hy is bietjie moeg

Naas ·

Moet ons nou opgewonde raak oor 1.4% ? Lyk my Cele tel net so sleg soos Zuma.

Potjie ·

Hierdie misdaad syfers in die berig oortuig my dat misdaad al te lekker floreer. Wat wou afneem …. die staat is geheel buite orde. Wat n gegorrel! Wie gaan nou ontspan omdat “misdaad afgeneem het”! Gekkeparadys voorwaar. En dis “C” for Seriaas!

Potjie ·

Hoe verwag hy moet ons moet hom glo! Moet dink ons is dom. Uiters lagwekkend.

MANNY ·

Hierdie is nou anc propaganda op sy beste. Sy volgende gaan wees is omdat die onnosel wittes hulle wapens ingehandig het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.