Enorme tariefverhogings kan Goudstad-skole knou

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Talle skole in Johannesburg sal van Vrydag 1 Julie astronomiese rekeninge van die Johannesburgse metroraad ontvang nadat dié metro aanpassings aan sy beleid op eiendomsbelasting gemaak het. Die gevolg is dat spesiale belastingvergunnings wat voorheen aan onderwysinstellings gemaak is, nou van die baan is. Dít glo sonder die wete van onderwysgroepe en belanghebbende organisasies.

In die nuwe beleid word openbare skole nou as ʼn eiendom ten bate van die publiek gekategoriseer, terwyl onafhanklike skole as sakeondernemings aangeslaan word. Dít sal beteken dat openbare skole en onderwysinstellings tot ses keer meer gaan betaal, terwyl private skole soveel as tien keer meer sal moet opdok.

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake by AfriForum, is ʼn openbare skool volgens die nuwe kategorie nou aan ʼn ratio van 1:1,5 onderwerp (teenoor 1:0,25 verlede jaar), wat die skool se maandelikse tarief van ongeveer R12 073 tot R75 952 sal opstoot. Die ratio verteenwoordig ʼn persentasie van die bedrag waarvoor die skool gewaardeer is. Hoe groter die skoolgebou dus is, hoe meer sal die bestuur moet opdok vir eiendomsbelasting.

Private skole wat voorheen R12 073 betaal het, is nou aan ʼn ratio van 1:2,5 onderwerp, wat dié skole se rekeninge tot ʼn allemintige R94 941 sal opstoot, nadat ʼn afslag van 25% boonop ingereken is.

Hoewel private skole, kolleges en universiteite moontlik vir ʼn afslag van 25% kan kwalifiseer, is dié afslag nie gewaarborg nie. Sonder die afslag kan private instellings rekeninge van meer R120 000 per maand verwag.

AfriForum eis antwoorde

AfriForum het ʼn aanmaningsbrief aan die metro gestuur waarin dié burgerregteorganisasie dringend skriftelike verduidelikings van die metro eis.

Luidens die brief wil die organisasie weet waarom die kategorie waaronder skole nou val, anders lyk as die voorlegging wat tydens die openbare deelnameproses gebruik is – wat sou beteken dat skole in die nuwe finansiële jaar onder dieselfde kategorie as die vorige jaar sal val.

AfriForum wil weet waar die skielike verandering van tariewe vir skole vandaan kom, wanneer dit besluit is en wie dit goedgekeur het. Die redes vir die goedkeuring word ook versoek.

Die metroraad moet ook kan verduidelik waarom die tariewe vir skole in die finale beleid so drasties van die vorige jaar verskil en wat die rasionaal en verduideliking agter die besluit is aangesien dit verband hou met die grondwetlike reg tot basiese onderrig.

Indien die tariewe nie formeel goedgekeur is nie, versoek AfriForum dat die metro nie met die instelling daarvan voortgaan nie en dieselfde kategorie as die vorige jaar toepas, slegs met die goedgekeurde 4,85% verhoging.

Die organisasie sê dat hy die munisipaliteit se terugvoer teen Donderdag verwag.

Tariewe kan onderrig knou

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het intussen gesê hy is bekommerd dat duur munisipale dienste gehalte onderrig by skole knou en dat besluite soos dié tot nadeel van onderwys in Suid-Afrika is.

“Die regering (plaaslik en nasionaal) is verantwoordelik om die ideale omstandighede te skep waarbinne gehalte onderwys kan plaasvind. Munisipaliteite versuim lank reeds hul plig teenoor onderwys deur suksesvolle skole (met of sonder winsoogmerk) te teiken om te probeer vergoed vir hul eie swak finansiële bestuur. Die SOS doen ’n ernstige beroep op plaaslike regerings om skole se munisipale tariewe te sny, en gehalte onderwys op dié manier te ondersteun,” het Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, gesê.

Navorsing wat die SOS in Augustus 2019 onderneem het, wys dat skole toe reeds onder geweldige finansiële druk verkeer het weens die koste van water en elektrisiteit, wat jaarliks vinniger as inflasie styg. Hierdie druk lei direk tot die jaarlikse styging in skoolfonds.

“Weens astronomiese munisipale rekeninge bestee skole minder geld aan noodsaaklike uitgawes soos leerhulpbronne, addisionele onderwysers en die opknapping van infrastruktuur.”

Die SOS het sy navorsing by 156 Afrikaanse skole reg oor die land gedoen. Meeste skole wat die vraelys voltooi het, is in Gauteng en die Wes-Kaap geleë waarvan die meeste kwintiel 4 en 5 skole is.

Die navorsing het onder meer bevind dat skole gemiddeld tussen R40 000 en R70 000 per maand aan munisipale uitgawes bestee, en een uit elke tien skole se munisipale rekeninge was toe reeds meer as R100 000 per maand.

Byna 14% van skole het in 2019 meer as 10% van hul bruto inkomste bestee om munisipale rekeninge te vereffen terwyl munisipale uitgawes vinniger as inflasie gegroei het.

Die SOS sê uit sy navorsing is dit duidelik dat munisipale tariewe ernstige gevolge vir skole se finansiële vooruitgang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JohanR ·

Nie ‘n probleem. Soos met alles in die land sal die hoer koste aan die belastbetalers aan gestuur word. Of in die gevel aan die ouers in skoolgeld.

Henri ·

‘Ratio’ is Engels. In Afrikaans is dit ‘verhouding’.

En wat is Lesufi se kommentaar op die skielike verhoging? Hy is sekerlik tog nog steeds die LUK van onderwys in Gauteng, asook die nuwe ANC voorsitter vir Gauteng…

miche ·

Die ANC , oftewel regering( doelbewus met ‘n kleinletter gespel)
se kraantjie loop nou vinnig leeg. So hul gaan natuurlik dink aan maniere om ons leeg te melk.

Pieter ·

Hulle kan loop ………………, vlieg. Dan sal my kind tuis onderrig ontvang,as ek nog ekstra skoolgeld moet betaal. Mooi SA, net soos kommuniste, word die kinders gekeer om kennis op te doen en te leer,want hoeveel kinders se ouers gaan duuder skoolfond kan betaal?

Jr ·

Viva cANCer viva. With le phoofi as head of cANCer in Gauteng. Probably one of his brainless ideas to control schools

Martin ·

Dit is wat gebeur wanneer dom en onbevoegde mense in beheer is om bestuur toe te pas… Geldgierig alles gaan mos oor geld deesdae, geen integriteit nie.

marthie ·

Dis belagliglik hoe gaan mense en dit oorleef als gaan op maar hul salarissre gaan nie op nie. En hoe gaan ouers skole kan betaal nee so onregverdig baie mense het nie eens geld nie soos ek kwaii arm mense word nog armer medium klas arm rykes smile dis om van te huil

Kokerboom ·

Tekenend van ‘n onsensitiewe diskresielose regering. Gierige kostes kan die kern van goeie onderwys erg ondermyn. Skole en onderwysinstellings moet vrygestel word. Regering skiet hulself in voet

Anel ·

Hoeveel Afrikaanse skole word van skoolgelde vrygestel? Ek glo nie een nie. Nou die spul skole wat nie skoolgelde in nie, moet aan die gang gehou word. So wat word gedoen? Maak die betalendes net meer betaal. Hulke het mos baie geld! Waar in jou lewe. Sovêr ek weet, het skole begrotings. Elke einde van die jaar word begroot vir volgende jaar. Hoe kan die munisipaliteit, in die middel van die jaar en tydens die skoolvakansie so ‘n besluit deurvoer? Hoeveel skole gaan dit kan bekostig wat op die ouers moet steun? Hoeveel ouers faan dit kan bekostig? Het die spul geldgieriges nou heeltemal mal geword? Ek hoop Solidariteit vat hulle hof toe. anc moet val, en baie gou ook. Hierdie land gaan hulle nie verder kan oirleef nie!!!

Johan ·

Soos ou lapdoek gesê het “dit is belasting, dit kan nie opraak nie”. Dit is hoe n kommunis/sosialis dink, solank as wat jy n kar besit kan jy meer belas word, totdat almal gelyk is. Dit is ook hierdie denkwyse wat die liberaliste nie verstaan nie, en waarom die weste in baie groot moeilikheid is.

NWT ·

Alle skole in die goudstad moet begin met n klasaksie hofaksie begin. Glo my hulle gaan wen. Klink meer as n gupta transaksie.

Grond ·

Wat hierdie enorme tariefverhogings betreunswaardig maak, dit kom van die sogenaamde DA koalisie NIE van die ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.