‘Enorme uitdaging as virus in informele nedersettings versprei’

Lindiwe Sisulu (Foto: Twitter)

Die gebrekkige infrastruktuur van informele nedersettings is nou ’n prioriteit te midde van die algehele landwye afsondering wat vandeesweek in werking gestel word om die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) hok te slaan.

Minister Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, het Dinsdag gedurende ’n mediakonferensie gesê dit sal ’n enorme uitdaging wees sou die virus in oorbevolkte gebiede soos informele nedersettings uitbreek.

Volgens Sisulu werk die departement reeds onverpoos om alle Suid-Afrikaners van water en sanitasie te voorsien. Dié pogings word nou opgeskerp te midde van die algehele landwye afsondering wat Donderdag om middernag (00:01 Vrydagoggend) ingestel sal word.

Landelike gebiede wat onlangs gebuk gegaan het onder droogte, moet nou van water voorsien word nie net om te drink nie, maar ook om hul hande gedurende die Covid-19-uitbreking te was.

informele-nedersetting-JHB-SA

‘n Argieffoto van ‘n informele nedersetting in Johannesburg ter illustrasie. Foto: Falco/Pixabay.com

Volgens Sisulu het die departement reeds sowat 2 000 gemeenskappe geïdentifiseer aan wie watertenks binne die komende weke verskaf sal word. Waterpunte en geriewe waar inwoners hul hande sal kan was, sal ook in die gemeenskappe opgerig word.

Die departement het ook 29 gebiede geïdentifiseer waar hulle gaan poog om inwoners verder van mekaar te versprei in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 in dié gebiede te bekamp. Dié gebiede is hoofsaaklik in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap geleë.

Bejaardes in landelike gebiede sal ook van emmers voorsien word om hul hande in te was.

Maatskaplike toelae en tehuise

Volgens Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, sal die departement van maatskaplike ontwikkeling gedurende die volgende drie weke sorg dat kos aan skuilings, ouetehuise en jeugsentrums voorsien word. Geen besoekers sal egter in hierdie tyd by dié sentrums toegelaat word nie.

Lindiwe Zulu (Foto: Twitter)

Zulu sê begunstigdes van maatskaplike toelae van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) sal te midde van die landwye afsondering steeds hul toelae by Sassa-betaalpunte kan afhaal. Lede van die polisie en weermag sal by betaalpunte ontplooi word om skares te beheer, sou mense in hul massas opdaag.

Volgens Zulu het die departement in samewerking met die tesourie verseker dat die toelae vroeër uitbetaal word. Ouer mense en mense met gestremdhede sal hul toelae op 30 en 31 Maart kan afhaal waarna alle ander toelae vanaf 1 April beskikbaar sal wees.

Geen aansoeke vir maatskaplike toelae sal egter gedurende die volgende 21 dae verwerk word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Johan Venter ·

Vergun my dat ek ook die statistiek hier plaas, net so vir perspektief. Als klink so onwerklik, dit nou na 25 jaar. 554 mense in die land het nou al, van die begin van die maand af, die virus opgedoen, genadiglik sonder enige sterftes, maar iets oor die 15 miljoen mense ontvang maandelikse regerings-toelaes en leef in haglike omstandighede. 7.5 miljoen mense het Vigs. Die amptelike gemiddelde moordkoers in die land is in die omgewing van 60 per dag.

En die totale bevolking in die land is so 56 miljoen mense.

Michael 1 ·

Dit is mos n duidelike bewys dat die anc nie n land kan regeer nie,dan lieg hulle president so dat niemand met n bietjie verstand hom meer glo nie en naïewe mense vertrou hom en sy regering om ons veiligheid te verseker.

Johan Venter ·

En hoeveel mense sterf jaarliks in die land van honger?

Jan Seerot ·

Ons wag vir die dag wanneer hierdie virus vastrapplek kry in Mosambiek. Boeta, dan gaan die poppe dans! Julle dink daardie is plakkerskampe, hier is dit die middelklas.

Johan Venter ·

Me Sisulu, en as mens die informele nedersettings, om die mense daar te beskerm, in ‘n staat van inperking plaas?

Werner ·

In Israel wat n gedisiplineerde land is is die aansteek syfer tans tussen 200 tot 300 per dag is dit nodig om iets verder te se

Jaco ·

Waarom is daar dan, amper 26 jaar ná apartheid, nog steeds informele nedersettings? Wat dan van regstellende aksie en BEE? Dit behoort mos lankal die verkeerdheid en maatskaplike probleme van informele nedersettings “reggestel” het.

Anoniem ·

Jaco, jy vra ‘n baie geldige vraag. Was daar gedurende die apartheidsjare informele nedersettings?

Antoinette ·

En waarom nou eers wakker skrik om water en sanitasie te voorsien? Hoeveel ongelukkigheid en opstande oor die gebrek aan water en sanitasie was daar nie al vir jare nie? Moet dan daar eers ‘n krisis wees voordat die regering uit hulle slaap wakker geskud word?

twaalfboor ·

Wat sal met my gebeur as ek op my beret ñ landsvlag tesame met ñ AWB vlag dra, soos Lindiwe Zulu die Cuba vlag saam die SA vlag “wapper”?

Stefan ·

Ja, en dan word van ons verwag om haar ernstig op te neem, ha ha ha.

Michael 1 ·

Ons moet na ons self omsien die anc regime is nie bekommerd oor ons nie en dit is weereens bewys met die hulp net aan swart klein besighede.

AmY ·

Juis omdat ons gewoond daaraan is om na onsself om te sien, gaan meeste van ons dit maak.

frank ·

Zulu is die voorbok van die RENT A CROWD wat in die parliment gil en lawaai opskop as Pieter Groenewald praat.Van haar portifilje in die cabaal van die virus sal geen haan weer na kraai. Goed so!!!

Andre ·

Wat is die doel van die “lockdown” as die hordes steeds in ry gaan staan en publieke vervoer moet gebruik om die toelaes te gaan trek.
as daar oorgedrae word is die 21 dae te min om die virus te stuit.

Johan Venter ·

Praktiese uitvoerbaarheid? Een van die eerste maatreëls is dat individue nie hul huis in die 21 dae mag verlaat nie, buiten nou in sekere omstandighede soos bv om kos te gaan koop of toelaes te gaan ontvang. Nou vra ek, terwyl ek dit dalk te eng lees, hoe prakties moontlik is dit as jy nie ‘n stedeling is nie, maar op ‘n plot bly of op ‘n plaas woon waar diere versorg en geboer moet word, juis ook die mense in die nedersettings, hoe verwag jy van hulle, buiten in daardie sekere gevalle, om nie die huis/struktuur/woning in daardie tyd te verlaat nie? In sekere gebiede is daar gemeenskaplike groentetuine. Baie van die mense in die informele gebiede se huise bestaan uit een of twee vertrekke, buitetoilette is ‘n ent weg. En daar bly nie net een of twee mense in daardie huise nie.

Ek het idee ek sal ook maar, hier waar ons in die stad woon, so elke tweede dag die paar kilometer winkel toe stap om my brood en vars groente te gaan koop, dan raak die ou lyf darem nie te styf nie.

Johan Venter ·

Dalk is dit sommer ook die antwoord vir die diegene wat bietjie buitelug soek, wil draf of vir oefening stap, trek jou draf/stapklere aan en ‘n gryp n Spar/P nP sakkie. Al koop jy net ‘n paar stukkies groete, enigiets.

Johan Venter ·

En die roete hoef mos nou nie die kortste pad of in ‘n reguit lyn na die winkel toe te wees nie. Koop ‘n botteltjie water.

Andre ·

Waarom is daar na 26 jaar plakkerskampe? As die biljoene Rand nie so ooglopend tussen die kaders versprei was nie, was daar nie vandag plakkerskampe nie.

JM ·

Me Sisulu, nou skrik jy ewe skielik wakker oor watervoorsiening! Dit moes al jare terug in plek gewees het. Ek voorspel nog enorme gevolge.

Magda ·

Julle is 26 jaar te laat- Daar was veronderstel om GEEN informele nedersettings meer te wees nie- net weer n bewys van julle ONBEVOEGDHEID as n Parliament – SHAME ON YOU SISULU

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.