Entrepreneurs toor goudmyn uit rommelhoop

Van links: Anthea Simbya, Johan Titus, Magrieta Titus en Richardo Cloete (Foto: Anja van der Merwe)

“Ander inwoners het aanvanklik vir ons gelag omdat ons erf vol rommel lê. Nou wil almal deel wees van ons onderneming.”

Só vertel Magrieta Titus (56), inwoner van Pofadder in die Noord-Kaap, oor die herwinningsprojek wat nou, jare later, die note laat inrol en werk skep.

Sy, haar man en twee vriende het die projek hoofsaaklik begin om vir hulle ʼn huisie te bou. Vandag is dié entrepreneurs opgewonde oor wat die onderneming vir die omgewing én bevordering van die gemeenskap kan doen.

“Ons wil nie net die dorp skoonhou nie, maar ook werk skep in die plaaslike gemeenskap,” sê Titus.

Khai-ma Recycling is in 2014 amptelik as besigheid geregistreer, met Titus aan die stuur van die onderneming. Haar man, Johan (57), en vriende Anthea Simbya (40) en Richardo Cloete (42) is sakevennote.

Standard Bank het vanjaar ’n toelaag van R3 miljoen aan die onderneming toegestaan waarmee die nodige masjinerie gekoop en strukture opgerig gaan word. Die munisipaliteit het ook ’n stuk grond beskikbaar gestel wat die onderneming vir drie jaar kan huur met die opsie om te koop.

Titus het groot planne vir opleiding en werkskepping op lang termyn.

Ontstaan van die onderneming

Die munisipaliteit gaan vir die besigheid ‘n stuk grond uitsit waar die rommel gebêre kan word (Foto: Anja van der Merwe)

Titus en Simbya versamel sedert 2009 rommel en ruil dit vir geld in.

Hulle aanvanklike doel was om genoeg geld bymekaar te maak om vir hulle huise te bou.

“My eerste uitbetaling vir die herwinningsmateriaal wat ek versamel het, was R24 000. Ek het toe opgewonde aan my huisie met vier slaapkamers begin beplan,” vertel Titus. Die vermoorde sakeman Leon Brits het haar nog met die planne vir dié huisie gehelp.

Titus en Simbya het aanhou rommel optel totdat hulle genoeg geld gehad het om hul huise te kon bou. Die bouproses het in 2014 begin en is eindelik in 2019 afgehandel.

Titus vertel sy het op ’n dag in 2014 besef dat hulle wins uit die rommel kan maak.

“Ek het besef Pofadder is ’n goudmyn – hier lê baie geld.”

Titus, haar man en Simbya het op die ingewing van die oomblik besluit om die herwinningsonderneming te begin. Cloete – wat destyds op sy eie rommel versamel het – het ook by die besigheid betrokke geraak.

“Ons het so gou as moontlik die papierwerk agtermekaar gekry en die bal aan die rol gesit.”

Die vier inwoners moet self die kruiwa inspan en rommel optel (Foto: Anja van der Merwe)

Volgens Titus versamel hulle plastiek, glas, blik, koper en aluminium, wat hulle dan aan Nampac, Consol en SA Metal verkoop.

Dié maatskappye druk met die nodige masjinerie die rommel in blokke. Die blokke word dan geweeg en ’n bedrag geld word daarvoor betaal.

Volgens Titus kry hulle die rommel op vullishope, in die strate of by besighede op die dorp. Hulle vervoer die rommel in kruiwaens of in ’n tweedehandse bakkie wat Titus aangekoop het.

“Ons werk ons hande stompies en die son brand ons plooie, maar dit is die moeite werd.”

‘Die gogga het gebyt’

Volgens Titus het die herwinningsgogga hulle al in 2001 gebyt. Titus en Johan het daardie tyd in Kaapstad gebly – voordat hulle in 2009 na Pofadder verhuis het.

“Johan het in die Kaap blikkies opgetel en by SA Metal ingegee in ruil vir geld. Ek het eers nie verstaan waarom hy dit doen nie. Ek het die waarde daarvan besef toe hy vir ons ’n broodjie of krag kon koop met die geld wat hy vir die gemors in ons erf gekry het.

“In Pofadder het mense gedink ons is vreemd omdat ons rommel versamel. Dit het ons egter nie gestop nie. Toe die gemeenskap ook sien wat hulle daaruit kan kry, toe wil hulle betrokke raak.”

Titus sê daar is reeds ’n paar mense in die gemeenskap wat help om rommel op te tel, in ruil vir geld.

Bli(n)k toekoms

Die vier entrepreneurs versamel hulle plastiek, glas, blik, koper en aluminium (Foto: Anja van der Merwe)

Die vier entrepreneurs het talle planne vir die nuwe oop stuk grond.

“Ons dink buite die boks. Ons onderneming gaan nie net hier in Pofadder stop nie. Ons wil wyer kyk en ook na ander dorpe uitreik. Ons wil mense daar aanstel om rommel te versamel en só nog werksgeleenthede skep. Die doelwit is om in die volgende twee tot drie jaar meer as 200 werkers te hê.”

Volgens Titus wil sy op lang termyn ’n werkswinkel op die stuk grond oprig om sodoende nie net die rommel te herwin nie, maar ook in produkte te omskep.

“Ek wil vrouens – wat tuis sit en nie meer kan werk nie – inspan om by die werkswinkel betrokke te raak.”

Titus sê die visie met die onderneming is om Pofadder ’n beter en skoner dorp te maak.

“Ek besef dié onderneming gaan verder as wins. Ons kan werk skep in die gemeenskap en só mense help. Ons is tog op aarde geplaas om ’n verskil te maak.”

Titus sê as die strate skoner is, sal hulle ook trotser op hul dorp wees.

“Ons wil hê mense moet ons dorp besoek en keer op keer wil terugkom. Ons wil met ons dorp kan spog.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Harley Davidson ·

Hierdie mense is werklik ‘n inspirasie vir almal wat sukkel, help jouself niemand anders gaan jou help nie,ek hoop julle word skatryk.

Mier14 ·

So bly vir julle. Wat n inspirasie. Alle sterkte en sukses vir julle pad vorentoe!

dr. Petronella ·

Wat n bemoedigende verhaal in donker tye. Veels geluk! Mag julle van krag tot krag gaan en baie mense se harte blymaak omdat hulle n werkie gaan bekom! Die Here seën julle en die sakeonderneming!

Hasie ·

Ek hoop baie mense gat begin besef deur harde werk kan mens iets verdien en ni net sit en begeer wat ander het nie ….

Johanna ·

Wonderlike toekoms vir julle. Hardewerk maar dit sit kos op die tafel en n dak oor jou kop.
Daar is n sê-ding….n halwe brood is beter as geen brood nie. Well-Done vir julle.

Waarnemer ·

Baie geluk met die besigheid,mag julle van krag tot krag gaan.Daar is GROOT geld in die skroot metaal en rommel bedryf.

Karina ·

Dit is mense met ondernemingsgees. As ek nie werk kan kry nie, dan skep ek werk. Wel gedaan julle, ek wens julle alles van die beste toe. Mag daar meer en meer werkloses wees wat sulke besluite neem. Pofadder moet trots wees op julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.