Entstof beskerm wel teen nuwe virusvariant – Nios

‘n Gesondheidswerker berei ‘n dosis van die J&J-entstof voor.
(Photo by Phill Magakoe/AFP)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê die gemuteerde groep verwante SARS-CoV-2-virusse in Suid-Afrika wat sedertdien C.1.2 gedoop is, is nou in al nege provinsies opgemerk.

Maroela Media het vroeër berig C.1.2 is ʼn afstammeling van C.1, wat die laaste keer in Januarie opgemerk is. Die nuwe variant het egter beduidend verander in vergelyking met C.1 en het talle mutasies ondergaan van die virus wat oorspronklik in Wuhan geïdentifiseer is.

Nios sê die afstammeling het mutasies binne-in die genoom, wat ook in ander Covid-19-variante van belang asook variante van kommer gevind is. Dit is ook gevind in ander nuwe mutasies.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Suid-Afrikaanse gesondheidsdepartement is in Julie vanjaar van die afstamming bewus gemaak.

“Waar die C.1.2-afstamming ʼn paar algemene mutasies met die Beta- en Delta-variante gemeen het, het die nuwe afstamming verskeie bykomende mutasies,” lui ʼn verklaring van Nios.

Navorsers het gewaarsku dat die mutasies moontlik entstowwe kan omseil en boonop meer aansteeklik kan wees.

“Gegrond op ons begrip van die mutasies in dié variant, vermoed ons dit kan ʼn immuunreaksie moontlik gedeeltelik omseil. Ten spyte hiervan, sal entstowwe steeds hoë vlakke van beskerming teen hospitalisasie en sterfte bied,” sê Nios.

Die instituut sê nuwe variante gaan aanhou kop uitsteek waar ook al die virus versprei.

“Inenting is steeds belangrik om diegene in die samelewing wat ʼn hoë risiko vir hospitalisering en sterfte het, te beskerm, en druk op die gesondheidsorgstelsel en oordrag te verminder.”

Nios sê inenting moet ook gekombineer word met alle ander openbare gesondheid- en sosiale maatreëls en mense word aangeraai om steeds alle Covid-19-protokolle te volg.

Die gemuteerde afstamming is gevind in meer as 100 monsters van laboratoriums in al nege provinsies. Volgens Nios is dit onwaarskynlik dat die mutasies ʼn uitwerking op PCR-toetse (ook bekend as polimerasekettingreaksie-toetse, waar monsters uit iemand se keel of neus geneem word) sal hê.

“Die PCR-toetse bespeur gewoonlik minstens twee verskillende SARS-CoV-2-teikens, wat as rugsteun dien ingeval ʼn mutasie in een voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.