Entstof moet vertroue in sukkelende gasvryheidsbedryf help herstel

So naby en tog so ver. Toeriste kyk na die leë hoofstrand by Langebaan. (Foto: Marco Longari/AFP)

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) het ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn entstof teen Covid-19 so gou moontlik beskikbaar te stel om te verseker Suid-Afrika bly ʼn aantreklike bestemming vir internasionale reisigers.

As deel van die aangepaste vlak 3-afsonderingsregulasies is die meeste strande in alle provisies behalwe die Noord-Kaap gesluit. ʼn Aandklokreël geld en ondernemings, ook restaurante, moet teen 20:00 hulle deure sluit. Dit was ʼn hernieude terugslag vir die gasvryheidsbedryf wat reeds onder die vorige ronde regulasies steier.

Die vereniging sê Suid-Afrika se mededingendheid as internasionale reisbestemming hang af van die persepsie van veiligheid wat besoekers hierheen het.

Fedhasa sê die vertraging met die beskikbaarstelling van ʼn entstof tot die tweede kwartaal aanstaande jaar, gaan Suid-Afrika op die agtervoet plaas terwyl die land probeer om vertroue in inkomende internasionale reise hierheen terug te wen.

Rosemary Anderson, voorsitter van die vereniging, sê Fedhasa hoop die goedkeuring van die Oxford/AstraZeneca-entstof vir gebruik in die Verenigde Koninkryk laat hoop opvlam dat ʼn doeltreffende entstof vir Suid-Afrika vroeër eerder as later beskikbaar gestel sal word.

Die entstof word ook in Suid-Afrika getoets en is goedkoper as die Pfizer- en die Moderna-entstof. Dit kan ook teen yskastemperatuur gestoor word en is veel meer toeganklik vir gebruik deur algemene praktisyns en selfs versorgingstehuise.

“Ons moet Suid-Afrika in ooreenstemming bring met lande wat reeds dié proses begin het sodat die bestemming internasionaal lewensvatbaar kan wees.

Suid-Afrika bied wonderlike en uiteenlopende ervarings aan besoekers. (Foto: Love South Africa/Facebook)

“Ons is van mening dat reis – en by implikasie ons toerisme- en gasvryheidsbedryf – net na een of ander mate van normaliteit gaan terugkeer wanneer ons ernstig met die entstofprogram in Suid-Afrika begin. Daar is bloot geen ander opsies as om die program te bespoedig nie,” het Anderson gesê.

“Ons toerisme- en gasvryheidsbedryf word steeds uiters swaar getref deur die uitwerking van die Covid-19-afsonderingstyd. Ons kan nie bekostig om nié hierdie optrede, waarvan honderde duisende lewens en werksgeleenthede afhang, te prioritiseer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.