‘Entstof ons enigste hoop’ – Mabuza

Adjunkpresident David Mabuza praat Woensdag gedurende ’n entstofveldtog by die FNB-stadion in Johannesburg. (Foto: GCIS)

Suid-Afrikaners sal hulle teen Covid-19 moet laat inent indien hulle wil hê dinge moet weer terugkeer na normaal.

Só het die adjunkpresident David Mabuza vroeër vandag (Woensdag) gedurende ’n entstofveldtog by die FNB-stadion in Johannesburg gesê.

Ook Mabuza is van mening dat die entstof teen Covid-19 ’n mens se kans op infeksie, hospitalisasie en sterfte weens die virus verminder.

Die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad het net vandeesweek ’n infografika bekend gemaak wat toon dat nie een pasiënt wat tans in dié hospitaal se hoësorgeenheid of waakeenheid opgeneem of aan ’n ventilator gekoppel is, ingeënt is nie.

Slegs drie van die hospitaal se 254 Covid-19-pasiënte is teen Covid-19 ingeënt. Dit wil dus voorkom of die entstof voorkom dat Suid-Afrikaners ernstig siek word.

Grootte Schuur se infografika rakende inentings. (Infografika: Twitter)

Alaric Jacobs, woordvoerder van die hospitaal, het die egtheid van dié infografika aan Maroela Media bevestig.

Jacobs sê die hospitaal het besluit om sy syfers bekend te maak om bewustheid rakende die doeltreffendheid van die entstof te skep.

Mabuza het op sy beurt gesê die entstof teen Covid-19 verskil nie van die inentings wat kinders teen algemene siektes soos masels, polio en waterpokkies ontvang nie.

Die adjunkpresident meen Suid-Afrikaners het ’n morele en etiese verantwoordelikheid teenoor hulself sowel as hul medelandsburgers by die werkplek, skool of ontspanningsgebiede om hul teen Covid-19 te laat ent.

“Benewens nie-farmaseutiese maatreëls, is die entstowwe sonder twyfel die enigste teenmiddel wat die Covid-19-pandemie deurslaggewend kan hanteer. Entstowwe bly ons hoop om die land weer oop te stel en te verseker dat die kreatiewe bedrywe en die sportekonomie na normaal terugkeer.”

Meer as 6 miljoen Suid-Afrikaners is in die stadium ten volle teen Covid-19 ingeënt, met meer as 13 miljoene entstofdosisse tot op hede toegedien.

Minstens 40 miljoen landsburgers moet egter ingeënt word indien die land kudde-immuniteit wil bereik.

Volgens Mabuza beoog die regering om die teiken teen einde Desember te haal.

“Ons belangrikste boodskap is dat entstowwe lewens red. Die volle heropening en herstel van ons ekonomie sal afhang van ons vermoë om ons inentingsprogram te versnel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.