Entstof vandag in SA; howe genader

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa en sy adjunk, David Mabuza, sal Maandag die land se eerste besending van die Covid-19-entstof in ontvangs neem.

Ramaphosa en Mabuza, hoof van die interministeriële komitee oor entstof, sal vergesel word deur dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, Jaideep Sarkar, hoë kommissaris vir Indië, en dr. Morena Makhoana, uitvoerende hoof van Biovac.

Die entstof sal teen 15:00 op die OR Tambo-lughawe in ontvangs geneem word. Die AstraZeneca-entstof is in samewerking met die Oxford-universiteit ontwikkel en deur die Serum-instituut in Indië vervaardig.

Biovac is ʼn biofarmaseutiese maatskappy wat in 2003 in ʼn vennootskap tussen die regering en private beleggers gestig is om plaaslik entstowwe te kan vervaardig. Biovac sal volgens die presidensie ʼn belangrike rol in gehaltebeheer, berging en verspreiding van die Covid-19-entstof speel.

Die aankoms van die eerste besending entstof in Suid-Afrika is deur Ramaphosa as die grootste en ingewikkeldste logistieke entstofprogram in die land se geskiedenis beskryf. Hy het gesê die doel van die entstofprogram is om kudde-immuniteit teen Covid-19 te bereik. In die eerste fase van die entstofprogram sal die land se 1,2 miljoen gesondheidswerkers ingeënt word.

Nadat die entstof vandag in ontvangs geneem is, sal dit na ʼn bergingsfasiliteit geneem word. Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) moet eers gehaltebeheer toepas terwyl die entstof in kwarantyn is en die proses sal na verwagting tussen 10 tot 14 dae neem waarna die entstof versprei sal word.

Howe genader oor entstof en entstofprogram

(Argieffoto: Unsplash)

AfriForum en Solidariteit sal op 2 Maart in die hof wees vir die saak teen Mkhize en die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, oor die regering se inwerkingstellingsplan vir die Covid-19-entstof.

AfriForum en Solidariteit voer in hul hofstukke aan dat die regering se verspreidingsplan vir entstowwe ongrondwetlik is. Volgens dié organisasies sluit die regering die privaat sektor doelbewus uit deur dié sektor nie toe te laat om self entstowwe te koop, versprei of toe te dien nie. Die twee instellings voer verder aan dat daar ʼn dringende behoefte aan entstowwe bestaan. Die verspreidingsproses word egter deur die staat se sentralisering van entstowwe vertraag.

“As ons vir die regering gaan wag om entstowwe alleen te verskaf, gaan ons jare wag; iets wat ons as privaat burgers bloot nie kan bekostig nie. Die privaat sektor moet in staat gestel word om by die aankoop en verspreiding van entstowwe betrokke te raak,” het Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gesê.

Die twee organisasies vra die hof dat die regering se verspreidingsplan ongrondwetlik verklaar word, asook dat die hof sal verklaar dat enige instelling buite die raamwerk van die regering die reg sal hê om entstowwe te verkry en toe te dien.

AfriForum se regspan het ook vroeër ʼn prokureursbrief aan pres. Ramaphosa gerig waarin hulle geskrewe bevestiging vra oor onlangse mediaberigte dat die regering beplan om swart ekonomiese bemagtigingsmaatreëls en -vereistes (SEB) toe te pas vir die aanskaffing, verspreiding en toediening van die Covid-19-entstof.

Die DA het hom intussen Vrydag in ʼn dringende aansoek tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend oor die regering se entstofplan. Die party se regsverteenwoordigers het ʼn week gelede aan pres. Ramaphosa geskryf en hom sewe dae gegee om ʼn omvattende verslag oor die regering se onderhandelings met entstofverskaffers te verskaf, asook besonderhede oor die staat se plan om die entstof aan burgers beskikbaar te stel. Die president het nie daarop geantwoord nie.

Die DA vra die hof vir ʼn verklarende bevel dat die regering se gedrag met die aankoop van entstowwe, asook sy voorbereiding vir die verspreiding van die entstof, ʼn skending van verskeie grondwetlike beginsels is.

“Ons het die hof gevra om die regering te beveel om ʼn omvattende en gekoördineerde entstofverspreidingsplan te ontwikkel en om dié plan binne ʼn maand ná die datum van die bevel beskikbaar te maak,” het John Steenhuisen, DA-leier, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dirk Mostert ·

Die eerste besending is AstraZeneca-entstof. In Duitsland word mense oor 65 jaar spesifiek uitgesluit hiervoor. Laat ons sien of dit hier ook die geval gaan wees.

Africangrey ·

Stem saam met jou Mel, ek wens ek kan net 1 in die hande kry om te ontleed?

Wakkerslaper ·

Sug…. ou-vrou en bang-maak stories maar GEEN bewyse daarvoor nie. Dr. Jenner moet in sy graf omdraai oor die TWAK wat mense 240 jaar later steeds oor inentings kwytraak. Daar is reeds 9 MILJOEN mense in Engeland ingeënt – hoor jy enigsens van massas mense wat dood gaan, of dalk nou skielik ‘n stertjie aangegroei het? Kom by man! Ons leef in die jaar 2021, nie die donker eeue nie!

annie ·

Alweer ‘n Guptaìaanse gedoente plus ‘n kader-gekonkel en ons sit met perfekte situasie wat Covid verder gaan laat prut. Cyril gaan groot munt probeer slaan uit entstof-toewysings so asof hy en sy trawante die redders van fellow soufefricans is. Higiène is die moeder van gesondheidsorg en dis hier waar die grootste mediese plan gaan duik.

Geo ·

Ek verneem betroubaar dat die Indiese entstof in Mild, Medium of Hot beskikbaar is.

Wielspore ·

ik hit vindag mei entstov inspytung gehaat en foel weer fyv jaar out

Anti-Verkramp ·

Darem verblydend om te sien dat Solidariteit en Afriforum oor die algemeen so positief is rakende die gebruik van die entstowwe. 60% van Maroela-lesers is daarteen. Dalk ‘n bietjie meer moeite doen om die vrese te besweer met ‘n inligtingskampanje, Maroela?

Anti-Verkramp ·

Ah, die martelaar-houding. Onthou ek het dit gedoen in die naam van bevryding…….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.