‘Entstofgaping’ tussen ryk en arm al groter

Die Moderna-entstof teen Covid-19. (Foto: Joseph Prezioso/AFP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die groeiende gaping tussen die hoeveelheid Covid-19-entstof wat in ryk lande teenoor arm lande toegedien word, skerp gekap en daarna verwys as ʼn “morele vergryp”.

Die WGO het ingeklim onder welvarende lande wat nou jonger mense met ʼn laer risiko vir Covid-19 inent en in soveel woorde gesê hulle kos nou die lewe van kwesbare mense in lae-inkomste-lande.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, sê dit is “skokkend” hoe min tot dusver gedoen is om ʼn heeltemal voorspelbare “katastrofiese morele versuim” om die entstof wêreldwyd gelyk te versprei, te voorkom.

Die gaping word daagliks groter en meer buitensporig, het Tedros Maandag gesê.

“Lande wat nou jonger, gesonder mense met ʼn laer risiko vir die siekte inent, doen dit ten koste van die lewe van gesondheidswerkers, ouer mense en hoërisikogevalle in ander lande.

“Die ongelyke verspreiding van entstof is nie net ʼn morele vergryp nie. Dit is ook epidemiologies en ekonomies nutteloos.”

Tedros sê ryk lande gee hulself ʼn vals gevoel van veiligheid.

Hy sê hoe meer die virus oorgedra word, hoe meer variante gaan na vore kom – en hoe meer variante na vore kom, hoe meer geneig is dit om bestand teen ʼn entstof te wees.

Volgens ʼn opname van AFP is meer as 455 miljoene dosisse Covid-19-entstof al in 162 gebiede wêreldwyd toegedien. Sowat 56% hiervan is toegedien in hoëinkomstelande waar 16% van die wêreld se bevolking woon.

Slegs 0,1% van alle entstof is in die 29 lande met die laagste inkomste toegedien, maar dit is ook waar 29% van die wêreld se bevolking woon.

Die Covax-entstofprogram moet verseker dat 92 van die armste ekonomieë met die hulp van skenkers toegang tot entstof kry. Suid-Afrika is deel van dié program. Meer as 31 miljoen dosisse is tot dusver ingevolge die program in 57 lande versprei.

Die program hoop om genoeg dosisse te versprei om 27% van die bevolking in die 92 lande teen die einde van die jaar in te ent.

Tedros sê lande is in ʼn stryd gewikkel om infeksies te verminder en ryk lande moet hul woord gestand doen en armer lande help om entstof te bekom.

“Tensy ons die pandemie so gou moontlik stuit, gaan dit ons nog jare lank gyselaar hou,” sê hy.

Waarskuwing aan Europa

Europa ondervind in hierdie stadium weer ʼn styging in infeksies en sommige lande het hul inperkingsmaatreëls weer verskerp uit vrees vir ʼn derde vlaag. Michael Ryan, die WGO se hoof van noodgevalle, sê dié lande gryp na strooihalms en dink deur bloot baie mense in te ent, gaan ʼn maklike oplossing bied.

“Ek is jammer, dit gaan nie,” sê hy.

Ryan waarsku dat daar heeltemal te veel vertroue geplaas word in ʼn entstof as die enigste manier om die pandemie te stop.

Steun aan AstraZeneca

Die farmaseutiese reus AstraZeneca het Maandag gesê proewe wys sy Covid-19-entstof is 100% doeltreffend teen die beskerming van ernstige Covid-19.

“Die data is ʼn verdere bewys dat die Oxford-AstraZeneca-entstof veilig en doeltreffend is,” sê Tedros.

Verskeie Europese lande het verlede week die gebruik van die entstof opgeskort na geïsoleerde gevalle waar mense wat die entstof ontvang het, bloedklonte ontwikkel het.

Nadat die gevalle hersien is, het die WGO opnuut sy steun vir die entstof bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Piet ·

Korrek, jy is nie. Die proefkonynne het meer as ‘n jaar terug hulle inentings gekry

Marisa W ·

Ja dis seker maar omdat die welvarende lande beter beplan en hulle nie vergryp ten koste van hulle burgers nie

Charmain ·

Is dit nie altyd so nie…die wat werk en vorentoe beweeg moet altyd sorg vir die wat plunder en afbreek…maar hulle is baie gou om bakhand te staan by die “colonialists”

Francois Le Cochon ·

Netso. Arm lande se leiers is gewoontlik ryker as ryk lande se leiers.

E ·

Nou wat is die verskil nou skielik tussen corona virus en die masels virus of polio virus? Deur dekades het die lande wat die kennis en geld het om teen siektes in te ent dit gedoen. Niks verskil nou hier nie. Al verskil is dat ons nie te seker is van die veiligheid en effektiwiteit van die vaksines nie.

Stefan ·

Enige land se eerste prioriteit lè tog by sy eie inwoners.
Hulle raak dalk maar ‘n bietjie keelvol vir die bakhand brigades.

MakersMark ·

Dis waar, ANC skaar hul by muishond lande soos Kuba maar die ryk westerse lande met eerste wêreld ekonomieë en logistieke vermoe moet nou weer opdraf om die armes te red van hul eie “incompetence”. So tipies gaan al eeue so.

VaalDonkie ·

Hulle gaan nog Covid-19 entstowwe invoer, dan het ons al Covid-20,21,22,23,ens gehad. Corona-virusse muteer heeltyd. Nes die griep virus. Hulle gaan nooit voorkom nie. Dis maar net hoe dit is.

piper ·

al die armer lande het ook die hoogste korupsie en wanbestuur.

Piet ·

Trump, Biden, Clintons, Macron, Boris… dink jy die mense is nie korrup nie?

Piet ·

Matt 10:8 “Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.

Ons het so behep geword om profyt na te jaag dat ons Jesus se woorde vergeet het. En mense verdedig hierdie denke…

Stefan ·

Die mense wat dit ontwikkel het werk vir ‘n inkomste, soos jy en ek.
Sal jy verniet werk?

Piet ·

Volgens jesus moet mens siek mense verniet help. Jy kan dit eendag met Hom op vat

MakersMark ·

Genuine, so hoeveel CV19 pasiënte het jy al verniet gesond gemaak ?

Keith ·

And the WHO continue to talk us all into a longer period of slavery. And AstraZeneca’s vaccine has suddenly gone from 76% efficiency to 100%. Someone is talking bull.

lodewyk ·

En as die lande dit kan bekostig om hulle burgerlikes eerste te stel om dat hulle die geld het ,dan hoekom nie?,dus mos nie die ryk lande se skuld dat hulle met hulle geld kan werk nie en omdat hulle nie alles verwoes met oorloe en en oorbevolking nie?

Bella ·

Ag asseblief. Omdat “ryker” lande beter beplan, nou is hulle die varke in die verhaal? Wat n klomp twak. As ons regering hulself nie so sosialisties probeer hou nie en SAPHRA hulle werk doen sodat die entstof geregistreer kan word, dan kan meer entstof die land binnekom en heelwat meer mense inge-ent word. Sonder die “hulp” van die regering.

Mallie ·

Klink te veel soos Suid Afrika. Arm lande = Ryk lande, hier is dit swart = wit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.