‘Entstowwe vir ons werkers,’ pleit Shoprite  

Shoprite sê sy werknemers werk elke maand met altesaam 25 miljoen klante en verdien om geprioritiseer te word. (Foto: Verskaf)

Die kleinhandelgroep Shoprite het Dinsdag ’n dringende beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om sy meer as 140 000 werknemers te midde ’n derde Covid-19-vlaag teen die koronavirus in te ent.

Die groep sê in ’n verklaring dat sy werknemers elke maand met 25 miljoen klante by Shoprite se onderskeie winkels werk en dat dit van kardinale belang is dat hulle ingeënt word.

Dít volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangedui het dat fokus op mynbou, nywerheid en die taxibedryf tydens die regering se vierde reeks inentingsprogramme geplaas sal word.

“Ons werkers, onder wie kassiere, handelaars en lynbestuurders, is sedert die aanvang van die pandemie op hul pos. Hulle werk onverpoos om te verseker dat ons kos, noodsaaklikhede en medisyne aan die nasie kan lewer,” sê Pieter Engelbrecht, Shoprite se uitvoerende hoof.

“Ons glo sterk dat ons werknemers geprioritiseer moet word om die entstof te ontvang en is gereed om inentingsprogramme namens die regering aan ons werknemers te bied.”

Dít, sê Engelbrecht, sal Shoprite op sy eie onkoste en deur sy eie farmaseutiese en logistieke strukture doen.

“Die groep is gretig dat die voortsetting van die regering se inentingsprogram bespoedig word. Ons kan daarmee help indien die regering entstowwe vir ons werknemers beskikbaar stel terwyl ons sélf die toediening en koste daarvan hanteer.”

Maroela Media het onlangs berig dat die groep bykomende maatreëls ingestel het om sy werkers sowel as kliënte teen die koronavirus te beskerm. Werknemers se temperatuur word daagliks geneem wanneer hulle vir diens aanmeld en die groep het reeds vier mobiele klinieke – in Brackenfell, Canelands, Centurion en Cilmor – beskikbaar gestel terwyl staatsklinieke tans onder groot druk verkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius Gerhardus ·

Wat van anner winkels? Wie sal Checkers nou dink is hulle om so n versuk toe gestaan te word? Vra ook maar net….

Ansie ·

Hulle het net namens hulleself gepraat omdat hulle bereid is om die onkoste daaraan verbonde te dra. Het nie gesê ander winkels moet uitgesluit word nie.

Ansie ·

Goeie punt. Ek dink hulle kom met baie meer mense in aanraking as enigiemand anders.

Martie Smartie ·

Gn mens weet hoekom die regering die entstof program so absoluut beheer nie. Dit gaan 100 keer labger neem as wat die privaat sektor dit sou kon doen. Skrik wakker ANC, daar is ‘n pandemie aan die gang en mense moet dringend ge-ent word, dis nie nou die tyd om baas te probeer speel nie

Hennie ·

Ja ja… Die ANC kan nie MINDER omgee nie! As ‘n werker sterf word hy/sy gou vervang met ‘n nuwe till slaner….

Tanniepetoors ·

Baie redelike, logiese versoek. Regering moet begin LUISTER na nugter versoeke en raad en ophou doelloos voortploeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.