Entstowwe, werksgeleenthede 2021 se prioriteit – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede. (Foto: GCIS)

Die regering gaan die komende jaar op slegs vier prioriteite fokus. Dit behels die bekamping van die koronavirus, ekonomiese herstel, die implementering van ekonomiese hervormings om volhoubare werksgeleenthede te skep en inklusiewe groei te bevorder, asook die bekamping van korrupsie en die versterking van die staat.

Ramaphosa het meer inligting bekendgemaak oor Covid-19-entstowwe wat bestel is, die implementering van infrastruktuurprojekte en die herstel van Eskom.

Bekamping van die koronavirus

Ramaphosa het gedurende sy toespraak gesê Suid-Afrika moet vanjaar alles in sy vermoë doen om die verspreiding van Covid-19 te beperk en eindelik te oorkom.

Gesondheidswerkers sal nou gedurende fase 1 van die regering se entstofplan met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt word. Die regering het reeds 9 miljoen dosisse van dié entstof bekom waarvan die eerste 80 000 dosisse volgende week in die land sal aankom.

Nog besendings, wat in totaal 500 000 dosisse sal uitmaak, sal oor die volgende vier weke volg.

Pfizer sal op sy beurt 20 miljoen dosisse teen die einde van die eerste kwartaal begin lewer, terwyl die regering nog 12 miljoen dosisse deur die Covax-entstofprogram sal bekom. Dié entstowwe sal aangevul word met ander entstowwe wat met behulp van die Afrika-unie bekom word.

“Ons sal hierdie uitdaging oorkom. Dit is egter nie net hierdie virus wat ons moet oorkom nie, maar ook armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid.”

Werkskepping

Suid-Afrika se werkloosheidsyfer staan ​​nou op ’n verbysterende 30,8%.

Altesaam 1,7 miljoen minder landsburgers was gedurende die derde kwartaal van 2020 in diens, in vergelyking met die eerste kwartaal (voordat die Covid-19-pandemie kop uitgesteek het).

Die Nasionale Vergadering tydens die staatsrede. (Foto: GCIS)

Die president het verder daarop gewys dat die land se ekonomie gedurende die derde kwartaal 6% kleiner was vergeleke met die laaste kwartaal van 2019.

Die regering verwag egter dat al meer mense weer in diens gestel sal word namate die ekonomie weer oopgestel word.

Ramaphosa sê meer as R57 miljard is tot op hede deur middel van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike verligtingskema (Ters) aan meer as 4,5 miljoen werkers uitbetaal, terwyl meer as R1,3 miljard beskikbaar gestel is om hoofsaaklik klein en mediumgrootte ondernemings gedurende die afsonderingstydperk te ondersteun.

Meer as R70 miljard se belastingverligting is uitgereik na besighede in nood en R18,9 miljard se lenings is goedgekeur vir 13 000 ondernemings.

Infrastruktuur

Wat infrastruktuur betref, is ’n infrastruktuur-beleggingsprojek van R340 miljard in netwerkbedrywe soos energie, water, vervoer en telekommunikasie ontwikkel en vordering word reeds gemaak. Dit sluit in verskeie groot waterinfrastruktuurprojekte, waaronder die Mokolo- en Krokodilrivier-projek, en die uMkhomazi-waterprojek.

Hulpbronne vanuit die fiskus word gebruik vir konstruksie aan die N1-, N2- en N3-snelweë.

Volgens Ramaphosa is ’n infrastruktuurfonds van R100 miljard reeds in volle werking. “Hierdie fonds sal lei tot die herlewing van die konstruksiebedryf en die skep van broodnodige werksgeleenthede.”

Produksie

Die regering wil ook in die komende jaar plaaslike produksie beter ondersteun en beoog om Suid-Afrika se afhanklikheid van invoere oor die volgende vyf jaar met 20% te verminder.

Altesaam 42 produkte is reeds geïdentifiseer – van eetbare olies tot meubels, vrugtekonsentrate, persoonlike beskermingstoerusting, staalprodukte en insette vir groen ekonomie – wat plaaslik vervaardig kan word.

“Indien ons ons teiken bereik, sal Suid-Afrika sy produktiewe ekonomie aansienlik uitbrei en moontlik meer as R200 miljard tot die land se jaarlikse produksie toevoeg.”

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede. (Foto: GCIS)

Ramaphosa het tydens verlede jaar se staatsrede gesê meesterplanne moet opgestel word om sleutelbedrywe te vernuwe en te laat groei. Vier meesterplanne is intussen voltooi en onderteken.

Deur die implementering van die pluimvee-meesterplan is sowat R800 miljoen in dié bedryf belê om sy produksie op te gradeer. Suid-Afrika produseer nou elke week ’n bykomende miljoen hoenders.

Die suiker-meesterplan is tydens die afsonderingstydperk onderteken, met die verbintenis van groot gebruikers van suiker om minstens 80% van hul suikerbehoeftes by plaaslike produsente te bekom.

Deur die implementering van dié plan, is ’n toename in plaaslike produksie en ’n afname in ingevoerde suiker verlede jaar opgemerk, wat stabiliteit skep vir ’n bedryf wat ongeveer 85 000 werknemers in diens neem.

Ford se onlangse belegging van R16 miljard om hul vervaardigingsaanleg in Tshwane uit te brei, sal die groei van ongeveer 12 klein en mediumgrootte ondernemings in die vervaardiging van motoronderdele ondersteun.

Deur die presidensiële werkverskaffingstimulus is meer as 430 000 nuwe werksgeleenthede geskep en 180 000 ander sal na verwagting binnekort geskep word.

Herstel van Eskom

Ramaphosa het verder gesê daar word beoog om die land se energieopwekkingskapasiteit uit te brei. Die herstel van Eskom se bedryf- en finansiële gesondheid is van kern belang hiervoor.

Eskom is daarom herstruktureer in drie afsonderlike entiteite vir opwekking, versending en verspreiding. Dit sal die grondslag lê vir ’n doeltreffende, moderne en mededingende energiestelsel.

(Argieffoto)

“Eskom maak aansienlike vordering met sy intensiewe instandhouding- en bedryfsprogramme om die betroubaarheid van sy steenkoolvloot te verbeter.

“Ons werk nou saam met Eskom aan voorstelle om sy finansiële posisie te verbeter, sy skuld te bestuur en sy afhanklikheid van die fiskus te verminder,” het die president gesê.

Met dié doel in gedagte sal die regering ook binnekort die verkryging van ʼn bykomende 11 800 megawatt krag uit hernubare energie, natuurlike gas, batteryberging en steenkool in werking stel, in ooreenstemming met die Geïntegreerde Hulpbronplan 2019.

“Ten spyte hiervan voorspel Eskom dat daar sonder bykomende kapasiteit oor die volgende vyf jaar ’n tekort van tussen 4 000 en 6 000 megawatt aan elektrisiteitsvoorsiening gaan wees aangesien ou steenkoolkragstasies die einde van hul lewensduur bereik.”

Korrupsie

Volgens Ramaphosa het die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskapings se onthullings tot dusver die omvang van staatskaping en verwante korrupsie blootgelê.

Die president meen daar is tog vordering gemaak om wetstoepassingsliggame in staat te stel om korrupsie te beveg. “Daar is beter samewerking en die deel van hulpbronne tussen die onderskeie wetstoepassingsagentskappe, wat ’n meer geïntegreerde benadering tot ondersoeke en vervolging moontlik maak.”

Lede vir die regering se Nasionale Adviesraad vir Korrupsie sal ook binnekort aangestel word. “Toe daar verlede jaar berigte aan die lig gekom het oor moontlike bedrog en korrupsie in die verkryging van Covid-19-verwante goedere en dienste, het ons daadwerklik opgetree om hierdie praktyke stop te sit, alle bewerings te ondersoek en teen die verantwoordelikes op te tree.”

Die regering beoog ook om misdaad oor die algemeen te bekamp. “Die bekamping van misdaad is belangrik vir die sukses van ons herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Persheks Adri ·

Ag Cyril asb jy glo jouself! Ek sien nie dat 1 van julle agter tralies sit met die korrupsie nie pffft! Ons sien jy’s baie ernstig oor korrupsie gggmmmfff

Hier moet jy jouself bedank met die stelling: “Ons sal hierdie uitdaging oorkom. Dit is egter nie net hierdie virus wat ons moet oorkom nie, maar ook armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid.”

Hier gaan ons al weer met BEE oe ee ee aikona pffft gee my krag

skinderbek ·

Dieselfde ou storie oor en oor, maar niks gebeur nie. Hierdie land sal nooit verbeter onder hulle bewind nie.

Alleen Wolf ·

Of enige ander bewind wat deir die people invest word nie

Jack ·

Nee wat ongelukkig kan jy nie almal ‘n rat voor die oë draai nie.Our people mag alles glo wat hy kwytraak maar ons weet die ANC het geen benul of behoefte om enige iets te verander of te red nie.Droom maar voort.Ons ken julle al te goed.

Pieter ·

Waar van praat jy cyril is te danke aan julle siek ANC regering dat nou nog meer mense sonder werk sit. Dit te danke aan jou en kop doek. Al waar jy werk skep is in jou regering want ons belasting betalers betaal julle klomp narre se selarisse. Een woord vir jou wat n president is VOETSEK

koos ·

Prediker 10: 5 Daar is ‘n verkeerde ding wat ek in hierdie wêreld gesien het, ‘n fout wat begaan word deur een wat gesag het: 6 die dwaas kry hoë aansien en die rykes ontvang geen eer nie. 7 Ek het slawe te perd gesien en vorste te voet op die grond soos slawe.

Nico ·

Koos, ek stem 100% saam met jou net jammer almal sien dit nie so nie, lees ook Job. 24. Die opskrif sê “Waarom is daar geen dag van afrekening vir die goddelose nie? Voorbeelde van hulle handelwyse.

Snowball ·

Siestog, nét toe die regering op die punt was om àlles reg te maak die 28ste Maart in 2020, toe moet ons die 27ste Maart in lockdown gaan. Toe is àlles wat sou reg wees in 2020 (waaraan hulle al 26 jaar werk) – Eskom, werkskepping, ongelykheid, korrupsie uitwissing, nét toe dit sou regkom, toe gebeur Covid. Kan een regering nou sulke ‘bad luck’ hê? Toe kry ons maar weer verlede jaar se ANC lorrie vol leë beloftes, met Super Cyril, Komissie Hero ( glorieryk in al die reenboogkleure, behalwe wit) wat op die deure pryk. ‘To infinity and beyond…’

Nie Verbaas ·

Praat oor ongelykheid. Wie gaan werk voor geskep word en presies wat is gedoen aan korrupsie want dit gaan net aan? Al die bewyse is daar maar niks word daaraan gedoen nie. Hy wil korrupsie bekamp maat ANC besit nie oor kapasiteit en integriteit om dit te doen nie.

Friedrich ·

Werk skepping? Suid Afrikaners wil nie werk nie, hulle staan liewer in die Sasa ry

Vlooitjie ·

My kind sou graag liewers wou werk en selfstandig onafhanklik wees.

Anoniem ·

Ja Friedrich, of hulle ontvang salaris sowel as Sassa, en dan toi-toi hulle buite hulle werkplekke.

Jaco ·

Twee keer tydens inperking het ramaphosa gesê inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. In sy staatsrede het hy dit egter nie gesê nie. Het hy dus “die lig gesien” en van mening verander, of is sy stilte daaroor gister net ‘n stilte voor die storm: ‘n storm waarin die wit deel van die ekonomie finaal vernietig gaan word?

Johan ·

Jammer,CR,lyk en klink of jy ń nuweling in die SA regering is. Daar is tè min ingenieurs,dokters,spesialiste,argitekte,boere,onderwysers,ambaglui,ens oor in die land om dit weer te laat ‘rise’. Jou redding is om jou ‘we,the people’ teen ń vet spoed op te voed tot op Westerse standaarde Die virus het net kom bevestig dat Afrika nie die mas gaan opkom nie.

Anoniem ·

CR kondig met trots aan dat hulle al sedert twee SONAS’s gelede besig is met ‘n massiewe behuisings projek naby Lanseria. Hy beweer mense het destyds vir hom gelag maar hy kan vandag bevestig dat oor ‘n klomp jare (tien?) hierdie ‘smart city’ beskikbaar sal wees vir tussen drie honderd duisend en vyf honderd duisend mense. Wat hy nie sê nie, is dat teen daardie tyd is daar veel meer (aanwas) aansoeke om verblyf sal wees. En wat nog van die instroming van buitelanders?

MakersMark ·

Soos gewoonlik baie praat min doen. Nog ‘n kommissie vir korrupsie “watch” wie is al tronk toe vir staatskaping, VBS, PPE korrupsie, Eskom gestelery ? zuma, ace en rooi oorpakkie en al hul dissipels gaan nog lekker aan. Nee wat die heersende party is useless. Weet hoe om welvaart te vat en uit te deel, maar om welvaart te skep en beskerm ..? Dis ‘n vlak te hoog daai.

netek ·

Meneer die President. As jy ernstig is oor die land en sy mense is die volgende opsies die aangewese opsies:
1 .Vergeet die politiek en die alewigevorige regering se “foute” en begin in jou party werk om die land na nuwe hoogtes te vat
2. Vergeet van swartbemagtiging en en. Laat mense met die kennis maatskappye begin en so almal n werk gee.
3. Kanseleer die minimum salaris. Dat mense tenminste
n salaris verdien en so doende kos op die tafel sit.
4. Die mense wat jy wil invoer vir kennis. Regtig. Jy sit met ongelooflike gekwalifeseerde mense in jou eie land. Hulle het die selfde vel kleur as die mense wat jy wil invoer. Gebruik jou eie landsburger en vergeet van die alewige vel kleur
5. Belasting verligting= Wat was dit, ek betaal nog elke maand my ten duurste belasting. As jy wil help sny ons belasting. Jy kan ook maar bietjie net `n broodjjie in die aand eet. Sal niks oorkom nie.
6. Vergeet jou nuwe stat en bou aan die huidiges om dit nuut te maak, En vele meer

Baardman ·

Jy en jou tjommies lewe op julle eie planeet Cyril. Dit sit nie in julle broeke om die land te red nie.

Jakes ·

Hierdie omvattende visie wat CR geskets het herinner my aan n houtpop wie se neus gegroei het elke keer as hy twak gepraat het.

Louis ·

Ek wonder watter maatjie in die ANC kry daardie N1 / N2 / N3 tenders

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.