EPPF moet dringend stappe teen Molefe doen, sê Solidariteit

Brian Molefe.

Solidariteit maan die Eskom Pension and Provident Fund (EPPF) om so spoedig moontlik al die nodige stappe te doen om te verseker dat die voormalige Eskom-bestuurshoof, Brian Molefe, gehoor gee aan die Pretoriase hooggeregshof se bevel.

Dit volg op die EPPF se aansoek by die hooggeregshof vir ’n bevel wat Molefe sal dwing om die beweerde R7,769 miljoen wat onregmatig aan hom betaal is, terug te betaal. Die hooggeregshof het in 2019 bevind dat Molefe persoonlik betrokke was by die onwettige toekenning van pensioengeld ter waarde van R30 miljoen. R10 miljoen daarvan is aan hom persoonlik uitbetaal.

“Dit is vir ons duidelik dat die EPPF eienaarskap en verantwoordelikheid neem vir hul wangedrag en onwettige aksies toe hulle aan Molefe sekere pensioengeld betaal het, maar dit is belangrik dat daar nou resultate sal wees,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, wat oorspronklik die saak teen Molefe aangevoer het.

Van der Bijl is bekommerd dat Solidariteit nie by die laaste hofaansoek ingesluit is nie, aangesien die vakbond die dryfkrag agter die oorspronklike saak teen Molefe was, en nie die EPPF wat aanvanklik geweier het om Molefe te vervolg nie.

“Dit is maar net nog ʼn voorbeeld van die onnodige gesloer en vertragings wat reusewantroue in die EPPF by ons lede en ander Eskom-werkers tot gevolg het. Ons hoop regtig dat hierdie hoofstuk nou tot ’n einde kan kom, nie net ter wille van huidige Eskom-werknemers nie, maar ook ter wille van die Eskom-pensioenfonds se begunstigdes wat wag dat hierdie saak gefinaliseer moet word. Dit is verregaande dat so ʼn groot oorwinning teen korrupsie nie afgehandel word nie, bloot omdat die EPPF weier om die nodige stappe te doen om ʼn hofbevel af te dwing,” voeg Van der Bijl by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis ·

Norme en standaarde wat deur opvoeding en voorbeeld van ouers en die gemeenskap deel gemaak is van ‘n individu se menswees wat ook sy gewete insluit, gaan ons grootste stryd in Suid-Afrika word. Die bewyslas le by diegene wat weet wat die regte ding is om te doen. ‘n Enorme taak inderdaad. Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.