Erasmus se skorsing behoort nie Bokke te ontspoor

Rassie Erasmus. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Wêreldrugby se verdoemende uitspraak teen Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, kan op die oog af verreikende gevolge vir die Springbokspan inhou, maar dit moet eerder tot voordeel ingespan word en die deur vir afrigter Jacques Nienaber oopmaak om gedurende die volgende tien maande sy bloudruk op die span af te druk.

Erasmus, wat saam met Saru teen sy skorsing en die unie se boete van £20 000 (sowat R421 000) appelleer, mag vir die volgende twee maande nie by enige rugbyaktiwiteite betrokke wees nie en mag tot 30 September aanstaande jaar nie op wedstryddae by enige rugbyaktiwiteite, waaronder afrigting, kontak met wedstrydbeamptes en mediaverpligtinge, betrokke wees nie.

Dit beteken dat Erasmus nie by tien toetswedstryde (Saterdag se laaste jaareindtoets teen Engeland, drie toetse teen Wallis tussen 9 en 23 Julie aanstaande jaar en ses toetse in die Rugbykampioenskappe teen die All Blacks, Wallabies, en Argentynse Poemas) op wedstryddae betrokke mag wees nie.

Wêreldrugby het in sy uitspraak gesê dat Erasmus nie die nasionale afrigter is nie en dat sy skorsing nie teen veel impak op die Bokke op wedstryddae sal hê nie.

Saru het skriftelik Erasmus se rol as direkteur van afrigting by die verhoor ingedien, wat onder meer behels om die strategiese pad vir Suid-Afrikaanse rugby uit te stippel, spelersontwikkeling, die bestuur van die SA Rugbyakademie, afrigtersontwikkeling, die vertoning van alle nasionale spanne (mans, vroue, sewes en rugby op alle vlakke), die kiesbeleid ten opsigte van alle nasionale spanne, die monitering van alle franchise en provinsiale spanne se vertonings, die vertonings van Saru se elite-skeidsregterspaneel, en die doeltreffende bestuur van Suid-Afrikaanse rugby se sportwetenskappe en mediese dienste (onder meer kondisionering en voeding).

Op die oog af behoort die skorsing nie veel invloed op die Bokke te hê nie, maar almal weet watter groot rol Erasmus speel, hoe hy die span laat groei het en die grondslag vir die Bokke se welslae by Wêreldbekertoernooi in Japan en die Rugbykampioenskap in 2019 gelê het.

Die Springbokspan vir Saterdag se wedstryd teen Engeland. (Foto: Springboks/Twitter)

Gaan kyk maar net weer na die dokumentêre program “Chasing the Sun”.

Hoe dan gemaak?

Nienaber het ʼn groot rol as Erasmus se adjudant (en sedert hy as hoofafrigter aangestel is) gespeel, hoewel die Bokke se twee nederlae teen die Wallabies in vanjaar se Rugbykampioenskappe krake in die mondering laat onstaan het.

Maar dit was ʼn tydelike spoedbult, wat alle spanne die een of ander tyd tref. Die Bokke het sedertdien die All Blacks getroef en hulle is onoorwonne op die jaareindtoer en is weer eerste op die wêreldranglys.

Jacques Nienaber (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Nou is dit Nienaber se groot kans.

Hy sal beslis nie van Erasmus se spelpatroon afwyk nie, want hoekom gaan krap waar dit nie jeuk nie.

Die Bokke se sukses lê by hul monsterpak, by twee voorrye wat die teenstanders pap skrum, by ysterslotte Eben Etzebeth, Lood de jager en Franco Mostert wat die donkiewerk doen, en losvoorspelers wat saam jag, die teenstanders se besit stadig maak en saam met die res van die pak die teenstanders se nerwe afduik.

Dan speel taktiese skopwerk ʼn baie groot rol terwyl twee bieliesenters en vleuels se opskietverdediging die teenstanders die horries gee.

Tik my met ʼn veertjie om, maar ek glo saam met Wêreldrugby dat die skorsing baie min impak op die Bokke se vertonings sal hê.

Erasmus sal wel nie op wedstryddae betrokke wees nie, sy dae as waterdraer is dalk (tydelik) getel, maar dis ʼn druppel in die emmer.

Boonop sal die Bokke na alle waarskynlikheid die skorsing en die emosie daarom tot hul voordeel kan inspan om hulself verder te motiveer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Rudi ·

Rassie het ‘n groot invloed op die span net met sy fisiese teenwoordigheid. Ek sien swaar tye kom vir die Bokke.

JohanR ·

Kan daar nie ‘n “cardboard cutout” van Rassie daar by die Bokke se op veld sitplek aangebring word nie?

Harley Davidson ·

Nou hoekom spreek hy hom nie uit oor die kwota sisteem nie?

casper ·

Jip – Die refs kan maar maak soos hulle wil sonder dat kritiek gelewer mag word !! – Klink bekend ne !!!

Michael ·

Nienaber is geen hoofafrigter nie-bokke die 1e span waarvan hy hoofafrig is-natuurlik danksy Erasmus. Hulle is dus hoofafrigterloos nou vir 2 maande. Die span gaan erg sukkel sonder Rassie se direkte insette, op oefenveld en langs die veld. Sonder Rassie wat tydens wedstryde as waterboy vir hulle dink en lei sal hulle moontlik nie die mas opkom nie. Kom ons kyk maar wat gebeur vandag en of my waarnemings reg is.

Sobymykoolkop ·

Rassie het gesorg dat Nienaber aangestel word maar sorg dat hy als beheer, al is dit deur water aan te dra. Vermoed Rassie weet Nienaber was nie die beste man vir afrigter nie

Jacobus ·

Die skeidsregters het klaarblyklik carte blanche om te maak soos hulle wil. Die uitspraak is een van die kwaadwilligste stukkie skryfwerk wat ek nog gelees het. Die vrees vir Rassie is duidelik. Dit is ook duidelik dat die aasvoël pers insae gehad het in die inhoud voor ons gewone plebs.
Daar heers ook dieselfde negatiwiteit in die krieket. Die Engelse kommentators se amper histeriese aanprysing van die Engelse span was uiters steurend. Hulle het tot hulle eie “boks” video toertjies saamgevat om hulle ghoenies verder te “polish”.

Jr ·

South Africa moet altyd 19 manne speel. 15 spelers, 1 ref, 2 kant lyn refs, en n televisie beampte.

JohanR ·

Ek het nog nooit soe gehoop dat die Bokke die Engelse vrot speel soos vandag nie. Trek hulle kaal uit Bokke!

Shakespeare ·

Omseil dit Rassie, die tegnologie is tot jou beskikking.

Harley Davidson ·

Ek het ‘n stille betoging teen enige span wat ‘n speler kies agv velkleur en nie op meriete.

piet ·

Eben het weer nie geluister hoe hy sy hande moet vou vir die foto nie. LOL

Politikus ·

Hahaha! Ten minste het hy darem sy hande gevou. Gewoonlik gebruik hy daardie hande om opponente seer te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.