Ereveldwagter sterf terwyl hy passie uitleef

Alké Gous is Saterdag dood nadat hy geval en sy kop teen ʼn klip in die Golden Gate Nasionale Park gestamp het. Dié foto is Saterdag geneem. (Foto: Verskaf)

ʼn Ereveldwagter van Heuwelsig in Bloemfontein is Saterdag dood nadat hy geval en sy kop teen ʼn klip in die Golden Gate Nasionale Park in die Vrystaat gestamp het.

Alké Gous (78), ʼn ervare stapper en jarelange lid van die ereveldwagters in die Vrystaat, was besig om ʼn staproete saam met nog ereveldwagters in dié park skoon te maak toe hy sy balans verloor en agteroor geval het.

Paul Colditz, nasionale voorsitter van die SANParke-ereveldwagters, sê Gous het ernstige bloeding op die brein opgedoen. Vanweë die ligging van die betrokke staproete het dit nooddienwerkers sowat drie uur geneem om tot by Gous te kom en hom na ʼn ambulans te neem.

“Hy is afgevoer na die Mediclinic in Bethlehem waar ʼn helikopter hom sou kry om hom na Bloemfontein te neem. Daar sou hy ʼn operasie ondergaan om die bloeding te stop en te dreineer,” het Colditz Maandag aan Maroela Media gesê.

Gous is egter dood nog voordat die helikopter hom by dié hospitaal kon oplaai. Hy het ook nooit sy bewussyn herwin nadat hy geval het nie.

Hoewel Colditz Gous se dood as ʼn enorme verlies beskou, sê hy dat Gous gesterf het waar hy sy passie uitgeleef het.

“Hy was ʼn baie ywerige stapper en absoluut ʼn natuurmens. As jy ʼn staproete in Suid-Afrika opgenoem het, het Alké hom al gestap.

Alké Gous saam met Ronel Wessels, ook ’n ereveldwagter. (Foto: Verskaf)

“Ek dink as ʼn mens vir Alké sou vra op watter manier hy eendag sou wou gaan, sou hy sê in die veld terwyl hy besig is op te stap. Hy het gedoen waarvoor hy geleef het – stap en werk in die natuur.”

Colditz sê Gous was ʼn “ongelooflike, wonderlike mens”.

“Hy was verskriklik nederig en hardwerkend. Hy was altyd die ou op wie se knoppie jy kon druk om iewers in ʼn park te gaan help.”

Colditz sê Gous het ook ʼn baie hegte verhouding met sy vrou, Tersia, gehad.

“Sy het later jare ook by die ereveldwagters aangesluit. Hulle het ʼn baie liefdevolle verhouding gehad. Sy is absoluut stukkend.”

Colditz sê sedert Gous se dood het hy boodskappe regoor die land ontvang wat getuig van die impak wat Gous op ander gehad het.

“Hier in die Vrystaat is ons harte bitter seer omdat hy so ʼn geliefde mens en gewaardeerde lid van die ereveldwagters was. Boodskappe van medelye het egter landwyd ingestroom.”

Gous was 42 jaar lank ʼn dosent in anatomie aan die Mediese Fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat.

Hy laat ook sy dogter, Michelle, agter, asook sy broer Dean, ondervoorsitter van die Karoo-streek-ereveldwagters in Beaufort-Wes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre ·

Wat ‘n groot verlies, en simpatie aan sy familie en vriende.

Suzette ·

Baie sterkte aan sy familie en vriende. Wat n voorreg om te gaan terwyl jy besig is om te doen waarvoor jy lief is. RIV Alke

Swanie ·

Ek het so paar maande in Beaufort gewerk en daar was twee ere veldwagters in die maatskapy , hulle is baie passievolle mense wat hulle eie tyd en meer in die nature bele. Baie jammer vir sy gesin , mag julle troos en berusting behind.

Samuel ·

Dit is ‘n groot verlies. Rus in vrede en innige simpatie met sy familie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.