Erg ontbinde liggaam dalk dié van vermiste tienjarige

Miguel Louw. Foto: Facebook.

Die polisie in KwaZulu-Natal kon teen Dinsdagoggend steeds nie bevestig of die erg ontbinde liggaam van ʼn jong seun wat gister in Phoenix in KwaZulu-Natal opgespoor is, dié van Miguel Louw, die tienjarige seun wat in Julie vanjaar vermis geraak het, is nie.

Miguel het op 17 Julie naby sy skool in Sydenham vermis geraak. Dié voorval het die land geruk en sy verpletterde gesin het ʼn R50 000-kontantbeloning “sonder enige vrae” vir sy veilige terugkeer uitgeloof.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het gesê ʼn liggaam is Maandag in Longburyweg in Phoenix aangetref toe beamptes na ʼn verdagte in ʼn onverwante voorval gesoek het in dié omgewing.

“Hulle het ʼn hond gebruik om die verdagte se spoor te volg toe die hond skielik in ʼn ander rigting begin hardloop het. Dit is toe dat hulle die erg ontbinde liggaam aangetref het,” het Mbele gesê.

Sy het bevestig dat die liggaam van ʼn seun, ongeveer tien jaar oud, in ʼn skoolsweetpak geklee was.

“Ons kan in dié stadium nie bevestig of dit Louw is nét in terme van die klere nie. Die polisie is vandag besig met DNS-toetse en die nadoodse ondersoek sal môre afgehandel word. Eers dán sal ons die seun se identiteit kan bevestig.”

Volgens talle plakkate wat ná Miguel se verdwyning versprei is, het hy ʼn skoolsweetpak aangehad die dag toe hy verdwyn het.

Kevin Louw, ʼn familielid van Miguel het intussen op Facebook geskryf “Rest in peace my nephew” met ʼn foto van Miguel daarby. Medelye vir die familie stroom ondanks ʼn gebrek aan amptelike bevestiging in.

Mohammed Vahed Ebrahim, ʼn man wat bekend is aan Louw se familie, is in Julie ʼn paar dae ná die voorval in hegtenis geneem in verband met Miguel se ontvoering en is later aangekla van mensehandel.

Hy is verlede Woensdag borgtog van R2 500 in die Durban-landdroshof toegestaan, maar kon die bedrag nie betaal nie en was teen Maandag nog in aanhouding in Durban se Westville-gevangenis.

Hy moet op 17 September weer in die hof verskyn.

Ebrahim word met Miguel se verdwyning verbind nadat kringtelevisiebeeldmateriaal van hom wat die seun na ʼn kitskoswinkel naby die skool neem aan die lig gekom het. Miguel se geboortesertifikaat is glo ook by hom aangetref.

Ebrahim ontken enige betrokkenheid by die seun se verdwyning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Molly ·

Ag sies tog, ek weet nie of ek moet bid dat dit hy is en sy mamma kan sekerheid kry nie of ek moet bid dis nie hy nie.

MissDemeanor ·

Maak nie regtig saak nie Molly, jy kan nie die uitkoms verander van iets wat alreeds gebeur het nie.

Mags ·

Miss Demeanor, wat sy bedoel, is dat Indien hy oorlede is, kan hulle afsluiting kry, en indien dit nie hy is nie, is daar nog hoop dat hy lewend gevind kan word, , hoe skraal ook al.. maar om nie te weet nie, is die ergste.

Leser ·

Daai arme kind, en sy familie. Ek wens nie so iets om selfs met my grootste vyand oor te kom nie. Dit is wreed verby…

Petro ·

Wat vir ‘n siek samelewing is dit nie waar kinders so wreed vermoor word nie. Rus in vrede pragtige seun. Glo en vertrou jy sit by Jesus se voete ? Mag Hy jou mamma en familie en vriende troos.

prima ·

die rape and kill stokperdjie is nwr eenvoudig wreed. mense ons het God en Sy wet nosig in ons lewe

Katerina ·

Afgryslik..en die verdagte word R2500 borgtog toegestaan..Obseen en siek verby. Nee kyk Hierdie land..

leser ·

sterkte aan familie
indien ‘n ligaam met so ‘n skool sweetpak en ander gegewens gevind word
en daar is nie nog ‘n kind wat vermis word uit die skool nie
wat is die kanse dat dit miguel kan wees, 99%

Pink ·

Ek het so gehoop en bid hulle kry hom veilig terug, dis bitter hartseer. Waarheen gaan ons wereld?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.