Erg ontbinde liggaam naby lodge laat polisie kopkrap

misdaadtoneel

Argieffoto

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat die erg ontbinde liggaam van ʼn man naby ʼn lodge buite Middelburg, Mpumalanga, gevind is.

Kapt. Khanyisile Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die liggaam is op 9 Augustus deur die eienaar van Avontuur-lodge net buite die perseel gevind. “Die liggaam was só erg ontbind dat die ras van die persoon nie bepaal kon word nie. Ons kon egter aan die tekstuur van die hare aflei dat die persoon beslis nie swart of bruin is nie, maar kan nie met sekerheid sê of dit ʼn wit of Indiër-persoon is nie,” het sy gesê. Die persoon was vermoedelik tussen 35 en 40 jaar oud.

Volgens Zwane was die man se hande agter sy kop vasgemaak en ʼn swart plastieksak om sy kop gebind. Die liggaam was in komberse toegedraai.

“Dit lyk asof hy aangerand was, want daar was ʼn wond aan die linkerkant van sy gesig. Hy is moontlik met die plastieksak versmoor, maar dit kan nie nou met sekerheid gesê word nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal hopelik die oorsaak van die dood kan bepaal.”

Zwane het gesê die liggaam het in direkte sonlig gelê wat die ontbindingsproses bespoedig het, maar patoloë meen die liggaam het ongeveer twee weke daar gelê. Die man was kaalvoet en het ʼn beigekleurige broek en rooi T-hemp aangehad.

“Ons weet nie of die persoon elders vermoor en die liggaam net daar gestort is en of die moord wel op die plek plaasgevind het nie,” het Zwane gesê. “Dit sal deel vorm van die polisieondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.