Erge hooikoorsjaar verwag vir SA

Hierdie tyd van die jaar begin hooikoors altyd sy kop uitsteek, maar vanjaar kan die situasie selfs erger wees vir die 17,5 miljoen Suid-Afrikaners wat met hooikoors sukkel.

Volgens die Universiteit van Kaapstad (UK) se long-instituut is die hoogste vlak stuifmeel wat nog aangeteken is vanjaar in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad in die lug gemeet. Die meeste stuifmeel is afkomstig van sipres-, populier-, eike- en olyfbome.

Prof. Jonny Peter, hoof van die instituut se allergie-en-immunologie-eenheid, sê die Covid-19-pandemie kan allergie-lyers hiperbewus maak van elke nies en snuif, aangesien sekere simptome oorvleuel.

“Hooikoors word geaktiveer deur allergieë in die lug soos stuifmeel, wat lei tot ʼn loopneus, jeukerige keel en tranerige oë. Hoewel Covid-19 en hooikoors sekere simptome deel is daar sleutelverskille waarvoor jy kan uitkyk, “ sê Peter.

“Covid-19 veroorsaak lyfseer, hoofpyn en koors. ʼn Jeukerige neus en nies is nie algemene Covid-19-simptome nie.”

Gedeelde simptome sluit wel ʼn loopneus, geblokkeerde sinusse, hoes, ʼn seer keel, kort van asem wees en moegheid in.

Suid-Afrika se hooikoorsseisoen verskil van natuurstreek tot natuurstreek in die land en dit is hoekom UK probeer om stuifmeelmonitorstasies in elke provinsie te vestig. Peter sê wel dit is algemeen dat mense met ʼn allergie vir stuifmeel die meeste sukkel in September en Oktober.

Peter sê daar mag wel vanjaar ʼn silwer randjie wees wanneer dit by Covid-19 en hooikoors kom.

Aangesien mense verplig word om meeste van die tyd ʼn masker te dra, kan die masker ʼn sekere hoeveelheid beskerming bied vir mense wat sensitief vir stuifmeel is.

“Die masker kan voorkom dat groter hoeveelhede stuifmeel ingeasem word, maar kleiner deeltjies kan steeds deur ʼn masker dring. Daarom moet ʼn masker nie jou enigste vorm van beskerming wees nie.

“Hou in gedagte dat stuifmeel ʼn fyn poeier is, mikroskopies in grootte. Dit kan tot diep in die neus en longe vervoer word. Hoe hoër die konsentrasie stuifmeel in die lug, hoe groter is die kans vir ʼn allergiese reaksie.

“Dit is ook belangrik om jou masker na elke dra te was, want stuifmeel kan daaraan vassit en simptome vererger.”

Hier is ʼn paar wenke om hooikoors vanjaar te beheer:

  • Besoek gereeld pollencount.co.za om te sien hoeveel stuifmeel daar in jou gebied is. Beperk jou tyd buite wanneer telling hoog is.
  • Gebruik ʼn lugfilter in een of twee vertrekke in jou huis om die lug skoon te hou.
  • Hou deure en vensters toe in die oggend en middag. Die laagste stuifmeeltellings is gewoonlik in die namiddag.
  • Doen buitemuurse aktiwiteite, soos oefening en grassny, eerder in die namiddag.
  • As jy klere buite gedra het, trek dit uit en was jou hande en vel wanneer jy weer ingaan.
  • ʼn Tuimeldroër kan help dat stuifmeel nie aan jou klere vassit wanneer dit buite hang om droog te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Adam Adriaan ·

Hoekom wil mense altyd paniek skep?. 90% van alle dinge waaroor ‘n mens jou bekommer gebeur nooit nie. As ‘n mens glo sal daar nooit sulke bindings ‘n mens tref nie. Pasop wat uit die mond uitkom. Kyk maar dit wat jy spreek oorjouself gebeur normaalweg. Die twee grootste sondes wat daar is, is om te vrees en om nie te glo nie, want as jy vrees Glo jy nie en as jy Glo kan jy nie vrees nie!!!

Adriaan ·

Covid-19 het geblyk nie die pandemie te wees wat sommiges gehoop het dit sou wees nie en nou word voorbrand gemaak vir die volgende “ergste nog” toestand?

Anoniem ·

Ja Marius ek is nou ook al goed gvol vir al die dinge wat mense kwytraak.

DieKriek ·

Ek reken byeboere juig oor baie stuifmeel. Die laaste paar jaar was baie erg vir heuning produsente.

nicolaas ·

As die regering hiervan hoor is die land weer terug op vlak 5.

Lorette ·

Ha-ha – liewers nie. Die maskers maar my benoud genoeg! Sien nog kans vir dit langer dra nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.