Erge weerstoestande vir die Wes-Kaap voorspel

Verskeie dele van Khayelitsha het oorstroom tydens ‘n vorige storm. (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) het Saterdag gewaarsku dat ongure weerstoestande laat Saterdagaand en vroeg Sondagoggend in die Wes-Kaap sal voorkom.

Swaar reën word voorspel vir Drakenstein‑, Stellenbosch‑, Theewaterskloof‑ en Overstrand‑munisipaliteit.  Noordweste rukwinde van tussen 65 km/h en 75 km/h tussen Tafelbaai en Kaap Agulhas word ook vroeg Sondagoggend verwag.  In die Breedevallei en sentrale Karoo sal winde na verwagting ʼn spoed van tussen 55 km/h en 66 km/h bereik.

Die Wes-Kaapse sentrum vir rampbestuur het gewaarsku dat swaar reën plaaslike vloede kan veroorsaak.  Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê hoewel die provinsie die nat weer verwelkom, die regering vrees dat hierdie toestande verdere komplikasies tydens afsondering kan veroorsaak.

“Van die risiko’s met ongure weerstoestande is die ontstaan van modderstortings en brande in informele nedersettings,” sê Bredell.  “Provinsiale sowel as munisipale rampbestuursentrums is reeds op gereedheidsgrondslag geplaas.”

Hy het die publiek aangemoedig om hul naaste rampbestuursentrum so vinnig moontlik te kontak, sou ʼn noodgeval ontstaan.  “Die maklikste nommer om te onthou in só ʼn geval is 112 en kan tolvry van enige selfoon geskakel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ian ·

Wanneer gaan joernaliste leer dat “ongure” weer, goeie weer is?

Pieter ·

Langenhoven het gesê: “Van te veel mooi weer kom daar droogte”. Lekker om ‘n boer te wees en dit te verstaan.

Piet Snot ·

Nee Ian, “gure” en “ongure” weer is sinonieme. Nie net my vrou wat so sê nie; my HAT ook.

Alida ·

Ongure weer is wat ons vandag in Pretoria het. Lieflike sonskyn. Gure weer is wat in die Kaap gebeur. Maak asb julle fout reg. Dis soos die Engelse wat meestal praat van irregardless. Daar bestaan nie so ‘n woord, dis regardless.

Sune van Heerden ·

Dagsê Alida

“Guur” en “onguur” kan mekaar vervang wanneer daar na die weer verwys word.
Hulle is egter nie sinonieme wanneer daar na mense verwys word nie; dan word slegs “onguur” gebruik as mens byvoorbeeld na ‘n gemene persoon wil verwys (“‘n ongure vent”).

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Rodger17 ·

Ek dink nie ons het n keuse van weerpatrone wat ons sal pas nie.God is in beheer van die natuur en ongelukkig het ons,die mensdom,die aarde verswelg met oorbevolking en het ons die aarde sleg verinneweer met ons slegte leefwyses.Ons betaal nou die prys vir ons verwoesting van die aarde.Voor ons nie ons lewenswyse gaan verander nie,gaan die weer erger word en moet ons leer om daarmee saam te lewe.Ons het baie water nodig,só die liewe Heer gee dit soos hy goeddink ons moet maar aanvaar en aanpas.Water is immers lewe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.