Erger pandemies dalk nog wêreld se voorland – WGO

Rocco Veer, ‘n paramedikus verbonde aan die Tshwane-nooddienste, gaan toerusting in ‘n ambulans na. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Suid-Afrika het alkoholverkope verbied en die dra van maskers in die publiek van Dinsdag verpligtend gemaak ná ʼn styging in Covid-19-gevalle, maar die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) waarsku dat pandemies veel dodeliker as Covid-19 moontlik nog voorlê.

Lande wêreldwyd steier onder stygings in infeksies wat die internasionale getal gevalle tot 81 miljoen laat toeneem het. Dít terwyl die verspreiding van entstof in Noord-Amerika en Europa momentum begin kry.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag die verbod op drankverkope en die verpligte dra van maskers aangekondig nadat Suid-Afrika die eerste land in Afrika geword het om die eenmiljoenkerf van Covid-19-gevalle verby te steek.

“Ons het ons waaksaamheid verslap en ongelukkig betaal ons nou die prys,” het Ramaphosa gesê en terselfdertyd sogenaamde “superverspreider-byeenkomste” en ʼn “uiterste gebrek aan waaksaamheid in die vakansietyd” die skuld vir die toename gegee.

Ramaphosa sê data wys “uitermatige drankgebruik” lei tot ʼn toename in traumagevalle by hospitale en plaas “onnodige” druk op openbare gesondheidsfasiliteite.

ʼn Toename in gevalle het ook die owerhede in Rio de Janeiro – een van Brasilië se stede wat die swaarste deur die pandemie getref het – laat besluit om van 31 Desember toegang tot strande te verbied om te verhoed dat skares wat Nuwejaar vier, daar saamdrom.

In Spanje, waar die dodetal reeds 50 000 verbygesteek het, het die minister van gesondheid gesê die regering gaan ʼn register byhou van diegene wat weier om ingeënt te word. Hy gaan dié lys ook met ander lidlande van die Europese Unie (EU) deel.

Die eerste besending van Pfizer-BioNTech se Covid-19-entstof kom in Madrid aan. (Foto: D. Sinova/ Communidad de Madrid/AFP)

Inentings in Spanje en ander EU-lande het die afgelope naweek begin en die owerhede vrees dat huiwering om die entstof te ontvang dié pogings in die wiele kan ry – veral weens verkeerde inligting wat op sosiale media versprei word.

Vrees was egter nie ʼn oorweging vir die 75-jarige Jacques Collineau, ʼn inwoner van ʼn ouetehuis in Joue-le-Tours in Frankryk, nie. “Vrees? Vrees waarvoor? Ek is voorheen teen griep ingeënt en hierdie is dieselfde,” het Collineau gesê toe hy Maandag die entstof ontvang het.

“Ons maak nie entstof om mense dood te maak nie, ons maak entstof om hulle te probeer red.”

‘Nie die gróte’

Die koronaviruspandemie het lewens en ekonomieë wêreldwyd verwoes, maar die WGO het Maandag gewaarsku dat selfs erger pandemies kan voorlê. Hy het ʼn beroep op mense gedoen om erns te maak van voorbereidings daarop.

“Hierdie is ʼn wekroep,” het Michael Ryan, die WGO se hoof van noodgevalle, gesê. Hy het die waarskuwing gerig ʼn jaar nadat die organisasie die eerste keer van die nuwe virus – wat aanvanklik net deur China versprei het – te wete gekom het.

“Die pandemie … het wêreldwyd ongelooflik vinnig versprei en dit het elke uithoek van die planeet geraak. Maar dit is nie noodwendig die gróte nie,” het Ryan gesê.

“Ons moet voorberei vir iets wat in die toekoms selfs erger kan wees.”

Mense stap deur die Saara-mark in Rio de Janeiro. Die stad het ook strande gesluit in ‘n poging om die verspreiding van Covid-19 te stuit. (Foto: Mauro Pimentel/AFP)

Terwyl groot wetenskaplike vordering gemaak word om die virus te bestudeer en entstowwe teen ʼn rekordspoed te ontwikkel, het Bruce Aylward, ʼn senior raadgewer vir die WGO, gewaarsku dat die wêreld allermins gereed is vir die volgende pandemie.

“Ons is tans in die tweede en derde vlae van die virus en ons is steeds nie voorbereid om dit te bestuur nie,” het hy gesê.

“Hoewel ons beter voorberei is, is ons nie ten volle voorberei hiervoor nie, om nie eens te praat van die volgende een nie.”

Die waarskuwings word gesteun deur kommerwekkende syfers en neigings wat wêreldwyd aangemeld word.

Suid-Korea, een van die lande wat geloof word vir sy sukses tydens die eerste paar maande van die pandemie, het Dinsdag sy hoogste daaglikse sterftesyfer aangeteken terwyl hy steier onder ʼn derde vlaag infeksies.

Indië, met die tweede grootste getal gevalle ter wêreld, het ʼn nuwe stam van die virus aangemeld, maar amptenare sê die land se pandemie-riglyne is nie sedertdien aangepas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.