Erger sprinkaanuitbrekings dreig in 2023

(Foto: Verskaf)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sal nou al moet spring indien hulle nóg ’n sprinkaanplaag volgende jaar wil verhoed.

Sprinkaanuitbrekings in 2021 en 2022 was die ergste in 25 jaar, met meer as 23 miljoen ha wat  geraak is. Amper alles was landbougrond. Agri SA is nou bekommerd dat die 2022/’23-somerseisoen ʼn selfs ernstiger sprinkaanuitbreking tot gevolg kan hê, aangesien sprinkane reeds gebiede geïnfiltreer het.

Andrea Campher, Agri SA se risiko- en rampbestuurder, sê nou vernietigende swerms kan in die 2022/’23-somerseisoen voorkom namate sprinkaaneiers op die geïnfiltreerde grond uitbroei.

Volgens Campher is uitbrekings in dele van die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Wes-Kaap reeds “in volle swang” terwyl die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) bogemiddelde reënval hierdie somer verwag.

Om sake te vererger is die kontrakte van sprinkaanbeamptes in die betrokke provinsies nie betyds hernu nie.

Campher waarsku nou boere kan nóg groter verliese in 2023 verwag indien daar nie dringend ingegryp word nie.

Agri SA het daarom ʼn dringende vergadering met Thoko Didiza, minister van landbou, en Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van landbou, se kantoor belê om die departement van landbou se reaksie op hierdie dreigende ramp te bespreek.

Die dringende uitreiking van sprinkaanbeamptes se kontrakte wat nog nie gefinaliseer is nie, die verkryging van insekdodervoorrade en spuittoerusting; die verspreiding van beskermingstoerusting vir beamptes en die opleiding van nuwe beamptes sal onder meer tydens die vergadering bespreek word.

Volgens Campher sal verskeie uitdagings wat in 2021 en 2022 kop uitgesteek het, ook aandag kry.

“Baie van hierdie sake het voorheen slegs met behulp van privaatsektorbefondsing aandag gekry om die impak van die openbare sektor se tekortkominge te versag. Die goeie nuus is dat die departement die brandstoftariewe sedert 2013 vir die bekamping van springkaanuitbrekings hersien het, wat dus die volhoubaarheid van beheer en bekampingsmaatreëls deur sprinkaanbeamptes sal verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marius ·

Gaan huur die sjinese se eende . Hul verorber dit binne ‘n paar dae . Hierdie spul in beheer sal nie ‘n vinger verroer nie .

E ·

wat van daai wynplaas wat eende aanhou vir die slakke? Omgewingsvriendelik ens,

Goldy ·

Klink na n uitstekende plan vir biologiese beheer. Ek hoop landbou organisasies weet hiervan sn beplan vooruit.

Johann ·

M.a.w die korrupte onbevoegde kaders moet vooruit dink en beplan? In Suid Afrika? Nou skielik na jare se absolute onbesonne wan administrasie en slapgat geit? Of doen wat hulle beste doen en dis iemand anders dit laat doen…sit terug en doen NIKS totdat iemand ander IETS doen! Sien al hoe vreet die comrades springkaan….

Goldy ·

Kry nette reg soos die waarin vinke gevang word, vang die massas springkane, droog, maal en verkoop as dierevoer soos vismeel. Baie voedsaam.

Casper ·

Hier word gepraat van sprinkane nie visse nie.Wat dink jy wie gaan die vangwerk doen as hulle nie eers die spuitwerk kan doen nie.

Casper ·

As kind was daar twee middels wat gebruik was vir vrugtevlieë,sprinkane,luise,bosluise en muskiete,DDT en Dubbel Bennix.Die boer en sy werkers op elke plaas met rugspuite het vinnig en doeltreffend die plaag beheer en diere het nie die goed gevreet nie.

Danie ·

Spuit die goed met n vliegtuig en raak ontslae van toekomstige plae.

Goldy ·

Wat van lugbespuiting met drones? Daardie springkane beweeg laag en in bondels, ideaal vir dronespuit dink ek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.