Erik Holm spog met nuwe rolstoel

Erik Holm (Foto: Verskaf)

Die sepiester, Erik Holm, het onlangs splinternuwe wiele gekry.

Holm, wat gereeld in Binnelanders as Rian Malherbe te siene is, spog met ’n nuwe rolstoel wat op Suid-Afrikaanse bodem vervaardig is.

“Mense besef nie hoe duur rolstoele is nie,” het Holm aan Maroela Media vertel.

“Dit begin hier by R2 000 ’n rolstoel, maar om eerlik te wees breek rolstoele onder R10 000 vreeslik maklik.”

Hy verduidelik verder dat ’n ordentlike rolstoel ʼn mens tot en met R120 000 uit die sak kan jaag. Elektriese rolstoele is nóg duurder en kan enige iets tussen R60 000 en R280 000 kos.

“Daar is ongelooflike tegnologie wat daarin gaan, maar dis nie altyd toeganklik vir almal nie.”

Dit is juis wat die nuwe rolstoel waarin hy rondrits so spesiaal maak.

“Die organisasie wat my stoel gemaak het, CE Mobility, is daarop uit om mense te help.”

Hy is beïndruk met hoe vinnig hy by die nuwe stoel kon aanpas.

“Ek het seker nou al drie verskillende soorte stoele probeer. Dit het nog elke keer maande geneem om aan die nuwe stoel gewoond te raak. Met die een het dit my egter net ʼn week gevat.”

Die rede hiervoor is die aanpasbaarheid van die stoel.

“Dis soos ʼn one size fits all-tipe stoel. Baie organisasies maak verskillende stoele vir verskillende gebrekke. Dié een kan gestel word om deur enige iemand wat dit sou nodig hê, gebruik te word. Dit beteken dat die stel daarvan baie makliker is en sommer by die huis gedoen kan word.”

Die feit dat die stoele op tuisbodem vervaardig word, dra ook tot die voordelige aard van die stoel by.

“Jy hoef nie aan oorsese lande se deure te klop vir onderdele nie, alles word hier vervaardig. Die stoele is ook gemaak om deur rowwer areas te kan beweeg sonder dat dit breek. Vir my wat op ʼn berg bly en baie moet reis, werk dit uitstekend.”

Die stoel ruk ook nie die sak nie.

“Dit kan kers vashou by stoele wat vir R60 000 verkoop word, alhoewel dit vir R30 000 en minder beskikbaar is.”

CE Mobility het ook talle gestremde werknemers en fokus daarop om gestremde mense in Suid-Afrika daadwerklik te help.

“Omdat die stoel so aanpasbaar is, kan dit weer aan iemand anders wat dit nodig het, geskenk word. Dit beteken dat hulle op die ou einde eintlik minder stoele verkoop, maar meer mense help.”

Holm vertel dat hy die een dag daar aangekom het terwyl die werkers by CE Mobility besig was om ʼn sesjarige dogtertjie se stoel aan te pas.

“Dit was ʼn klein Mutant Ninja Turtle-stoel. Dis oulik, maar ook vreeslik hartseer. Dis al klaar erg genoeg om gestremd te wees, om met geld te sukkel of ʼn kind te wees, is net ʼn trappie erger. Ek is bitter dankbaar vir hulle [CE Mobility].”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SwartBees ·

Alles is net betaal betaal betaal. Is local nie veronderstel om (kwansuis) baie goedkoper te wees nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.