Henry Geldenhuys, nasionale voorsitter van TLU SA en ʼn lid van Ermelo se beveiligingsnetwerk, het aan Maroela Media gesê ʼn vrou (48) is vanoggend buite ʼn bank deur vier mans en ʼn vrou oorrompel.
Die verdagtes het die vrou glo in ʼn motor geboender en met haar na ʼn plaaslike vliegveld gery. Daar het hulle haar met ʼn vuurwapen gedreig, aangerand en beroof.
Die rowers het op die vlug geslaan in ʼn wit Toyota Conquest. ʼn Ooggetuie wat die roof aanskou het, het alarm gemaak en die polisie en beveiligingsnetwerk was dadelik op die verdagtes se spoor.
Jannie Kasselman, eienaar van Kasselman-veiligheidsdienste, het gesê hulle het besluit om die verdagtes net na Morgenzon by die Grootdraaidam-afdraai voor te lê. “Ons was deurentyd met ander lede van die veiligheidsnetwerk in verbinding wat die verdagtes op ʼn veilige afstand gevolg en ons in kennis gestel het waar hulle ry,” het hy gesê.
Kasselman-veiligheidsdienste het daarin geslaag om die rowers af te trek en het vervalste geld, asook ongeveer R20 000 in egte note in hul besit gekry. ʼn Aantal bankkaarte en ID-dokumente is ook in die motor gevind. Volgens Kasselman was die polisie blitsig op die toneel om die verdagtes in hegtenis te neem en terug te neem Ermelo toe.
Kapt. Carla Prinsloo, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die verdagtes na verwagting Woensdag in die Ermelo-landdroshof sal verskyn op aanklag van gewapende roof.
Geldenhuys het beklemtoon dat hierdie ʼn sprekende voorbeeld is van hoe goeie samewerking tussen inwoners van die gemeenskap, plaaslike beveiligingsnetwerke en die polisie kan verseker dat misdadigers blitsig vasgetrek word. “As kommunikasie en strukture in plek is, is dit voordelig vir almal in die gemeenskap. Ek doen ʼn beroep op ander gemeenskappe om dieselfde te doen en die nodige netwerke in plek te kry,” het hy gesê.
Knap gedaan, baie dankie
Uitstekend Goeie werk Dankie