Ermelo-man verdwyn spoorloos

Fanie Grobler. Foto: Facebook

ʼn Man van Mpumalanga se gesin is rasend van kommer nadat hy Dinsdagoggend vermis geraak het.

Fanie Grobler (42), ʼn vlootbestuurder by ʼn vervoermaatskappy in Ermelo, is Dinsdagoggend die laaste keer gesien op pad Witbank toe. Hy het nooit in Witbank aangekom nie.

Marinda Grobler, Fanie se vrou, het aan Maroela Media gesê sy het omstreeks 08:00 vir die laaste keer met Fanie gepraat. “Hy sou eers in Trichardt gaan onderdele oplaai voordat hy Witbank toe sou ry, maar hy het nooit in Trichardt aangekom nie. Iemand het gesê hulle het hom omtrent 09:00 in Bethal met sy bakkie sien ry. Toe ons hom van 10:30 af begin bel, was sy selfoon afgeskakel,” sê Marinda.

Sy sê Fanie se bakkie het nie ʼn opsporingstelsel nie en sy selfoon is steeds afgeskakel. Gerugte dat hy in ʼn motorongeluk in Brits in Noordwes was, is ook nie waar nie.

Volgens Marinda volg die gesin elke moontlik leidraad op om Fanie op te spoor. “Iemand het laat weet hulle het sy bakkie in Standerton gesien, maar ʼn onbekende man het bestuur. Ons is nou hier in Standerton, maar hier is niks,” het sy gesê.

Sy het gesê Fanie is as vermis aangemeld by die Ermelo-polisiestasie en verskeie buurtwagte help ook met die soektog. Die egpaar het twee kinders.

Fanie is 1,8m lank en het bruin hare en bruin oë. Hy het ʼn blou hemp en denim kortbroek aangehad toe hy die laaste keer gesien is. Sy voertuig is ʼn silwer Toyota Hilux-bakkie met die nommerplaat HCM 522 MP.

Enigiemand met meer inligting word versoek om Ao. Fourie op 017 819 7803 of SA Community Crime Watch (SACCW) op 064 648 1577 of 079 974 4024 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

riana ·

Dit is baie sleg dat iemand net so kan verdwyn. Mense kom ons bid saam en ons glo dat die Here hom gaan bewaar en terug besorg aan sy familie.

anton ·

Met die baie hoe misdaad in die land, kon enige iets met hom gebeur het.

Renette ·

Propbeer en kontak Pienk Ladies for Missing Adults, as jul saak nommer het. Bid vir veilige en spoedige terug koms

Pierre ·

Die nuus is bietjie oud, die man is gevind. Hy was blykbaar in ‘n motorongeluk gewees.

Janie Monsieur ·

Dagsê Pierre, dankie vir jou kommentaar.
Gerugte dat hy in ʼn motorongeluk in Brits in Noordwes was, is nie waar nie. Maroela Media het pas met Grobler se vrou, Marinda, bevestig en hy is nog nie gevind nie.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Pierre ·

Wierd, vlg ene Engela Booysen op Facebook soek sy (met al sy detail voertuig reg nr, id ens) na sy mense aangesien hy in ‘n ongeluk betrokke was?

Leonora ·

Pierre hierdie man is nie gevind nie, dit my vriendin se broer

Pierre ·

Sien nou dat ek meer op FB rondkrap die Engela Booysen is ‘n hoax…. Siek mense wat tyd het vir sulke nonsens.

Cherokee ·

Ag Fanie, die berig sê tog dat die ongelukstorie nie waar is nie. En dan beskuldig jy die berig van ‘bietjie oud’ wees.

Ada ·

Hoop Pink Ladies kan hom vind. Die arme gesin. Dit moet traumaties veral vir die kinders wees. Help tog asb hierdie gesin

Sputnik ·

Watse siek soort mens probeer van so ‘n ernstige saak ‘n grap maak? Gaan vir berading, FB-speler!

Helene ·

Sputnik! Man, niemand probeer grap nie! Dis net oorvleueling van gebeure. Hoop regtig hierdie man word gevind. Jissie dis sleg as jy nie jou geliefde kan vind nie. Sterkte en ja, ons moet bid vir ondersteuning.

Petro Oelofse ·

My hart gaan uit na hierdie gesin wat seker al mal is van bekommernis – sterkte

Me ·

Hi mense, daar is op facebook mense wat opsoek is na sy Familie, die man was in ‘n motor ongeluk ..

Janie Monsieur ·

Dagsê Me,
Dankie vir jou kommentaar. Gerugte dat hy in ʼn motorongeluk in Brits in Noordwes was, is nie waar nie. Maroela Media het gister met Grobler se vrou, Marinda, bevestig en hy is nog nie gevind nie.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Jakes ·

Altyd so snaaks hoe die familie rasend is van bekommernis (met goeie reg) oor hul vermisde geliefde. Die hele land moet asseblief saam soek en bid en bewusmaak en almal is saam op hol…
En dan word die persoon opgespoor, en dadelik wil die famile GEEN inligting veskaf oor die omstandighede nie en vra almal bot om hul privaatheid te respekteer.

Ek stem saam Jakes ·

Jakes ek stem 100% met jou saam, die hele wereld word op hol gejaag, almal help soek, bidgroepies word gevorm, mense se harte gaan uit na hierdie mense en skielik moet jy hulle PRIVAATHEID respekteer as hulle nie meer jou hulp nodig het nie. EK wil iets oorkom daarvan, ek stem 100% saam. AS hulle kan BEDEL gee hulle alle privaat inligting uit, net soos die CELEBS, hulle kom was vuil wasgoed in die openbaar, gooi mekaar met sand, krap mekaar se hare om en bring tot skandes van stukkende onderklere uit, maar as een van hulle siek raak of hulle is in die skande gesteek, soek hulle skielik PRIVAATHEID. Ek is SO met jou op hierdie een JAKES.

UPDATE ·

DIE MAN IS GEVIND EN HY IS ONGEDEERD. Die familie wil net nie meer inligting verskaf nie. Die berig kan gerus opdateer word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.