Ernstige finansiële knou vir Cosatu

Irvin Jim, uitvoerende hoof van Numsa Foto: marxist.com

Irvin Jim, uitvoerende hoof van Numsa Foto: marxist.com

Cosatu sal maandeliks meer as R1 miljoen in ledegeld verloor nadat sy sentrale uitvoerende komitee besluit het om Numsa te skors.

Numsa se geraamde bydrae van R1 022 000 per maand is gebaseer op ʼn affiliasiefooi van R2.92 van elk van sy nagenoeg 350 000 lede. Dit beteken Cosatu kan jaarliks meer as R12 264 000 verloor sonder Numsa.

“Numsa het ook R38 000 vir die verteenwoordigerstydskrif betaal,” het Mphumzi Maqungo, tesourier van die National Union of Metalworkers of SA, gesê.

Patric Craven, woordvoerder vir die vakverbond Cosatu het gesê finansies is een van die kwessies wat Cosatu tans aanroer.

Cosatu se uitvoerende komitee het Numsa Saterdagoggend met 33 stemme teenoor 24 geskors.

Numsa en die vakverbond stamp al koppe sedert Zwelinzima Vavi, die vakbond se uitvoerende hoof, verlede jaar geskors is ná ʼn buite-egtelike verhouding met ʼn junior werknemer. Sy het aanvanklik aangevoer hy het haar verkrag, maar het nie klagtes by die polisie aanhangig gemaak nie.

Die arbeidsanalis Terry Bell het gesê die National Union of Mineworkers (NUM) was vermoedelik Cosatu se grootste finansiële bydraer voor Marikana. Altesaam 45 persone is in Augustus 2012 tydens ʼn gewelddadige staking by Lonmin se platinummyn in Marikana dood. ʼn Groot aantal NUM-lede het egter intussen by die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) aangesluit, en dié vakbond is nou die meerderheidvakbond by Lonmin.

Sewe ander Cosatu-filiale, die Food and Allied Workers Union, die Democratic Nurses Organisation of SA (Denosa), die SA Commercial Clothing and Allied Workers Union (Saccawu), die Communication Workers Union (CWU), die SA State and Allied Workers Union, die Public and Allied Workers Union of SA en die SA Football Players Union ondersteun almal Numsa en het onderneem om die skorsing teen te staan.

Volgens Bell lewer slegs Denosa, CWU en Saccawu noemenswaardige maandelikse bydraes aan Cosatu. “Maar indien dié maandelikse bydraes bymekaar getel word, is dit moontlik minstens R3 miljoen per maand.”

Lees meer oor die NUMSA-skorsing op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CAV ·

Die voordeel hier is. Dit kan nie aan apartheid en / of rasisme geblameer word nie √

LINDA ·

Wat is die wed dat wanneer hulle die implikasie besef gaan dit lyk soos brommer tyd soos wat hulle monde gaan oophang – en die besluit gaan terug getrek word met die verskoning dit was verkeerd verstaan….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.