Ernstige vrae oor ‘grondeisers’ in Bethlehem wat plase wil eis

Talle verbygangers vra grondeisvorms aan. Foto: AfriForum

Talle verbygangers vra grondeisvorms aan. Foto: AfriForum

Inwoners van Bethlehem in die Vrystaat is diep bekommerd oor honderde inwoners uit die township wat die afgelope week opgeroep is om grondeise-verklarings by die stadsaal in te dien.

’n Inwoner het AfriForum via Facebook ingelig dat talle inwoners sedert die begin van die week by die stadsaal op die hoek van President Boshoff- en Highstraat in lang rye wag om sogenaamde grondeise-vorms te voltooi.

Sy het navraag by haar werknemers gedoen wat gesê het hulle is almal gevra om die vorms te gaan invul.

Die vorm, Claimant Information, is in die vorm van ’n beëdigde verklaring waarop individue hul persoonlike inligting moet invul en inligting verskaf soos van wie hulle grond eis, wat hul verhouding met die persoon is van wie hulle eis, waar hulle vroeër gebly het, in terme van watter regte (ploeg, weiding of verblyf) hulle eis, die jaar wat hulle van die plek verskuif is waar hulle nou verblyfreg eis en of hulle enige vergoeding gekry het.

AfriForum het verneem talle mense het die vorms voltooi en ingehandig nadat dit deur verteenwoordigers van die polisie gestempel is.

Dit is onduidelik wie agter die proses sit, maar na wat verneem word, is daar nie van aansoekers verwag om enige administrasiefooi te betaal nie. Volgens die inwoner is wat nou gebeur uiters kommerwekkend omdat haar werknemers wat die vorm voltooi het, nog nooit “hul voet op ’n plaas gesit het nie”.

Die bus van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Foto: AfriForum

Die bus van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Foto: AfriForum

Cyril Atkins, voorsitter van AfriForum se tak op die dorp, het gesê dit lyk of van die mense met busse aangery is waarop die embleem van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming (land claims) aangebring is.

Toe Atkins in die ry wou inval om self ’n vorm te bekom, is hy deur ’n amptenaar wat glo in beheer van die toelatingsproses is, afgejak en toegesnou dat hy nie daar hoort nie en dat dit nie die ou bedeling is waar mense kan maak wat hulle wil nie. Volgens Atkins het ’n polisielid vir hom gesê die doel van die proses is om al die mense te tel wat voorheen op plase was en afgesit is sodat die regering hulle kan vergoed.

Nog ’n inwoner het gesê haar huiswerker het haar meegedeel Julius Malema se EFF het glo vir hulle gesê om die eise in te dien omdat hulle vergoed sal word vir die ongerief van die verlede.

Tarien Cooks, veiligheidskoördineerder by AfriForum, het gesê dit is duidelik daar is ’n slang in die gras omdat die “eisvorm” nie op ’n amptelike dokument is nie. ’n Geldige eisvorm wat aansoekers moet voltooi, is ’n hele paar bladsye lank.

Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum en uitvoerende hoof van AfriSake, het gesê dit is die begin van chaos rondom grondeise sedert die 1913-afsnydatum gewysig is.

“Dit is duidelik daar is politieke inmenging omdat soveel mense moontlik aangemoedig en aangery word om eise in te dien ongeag of hulle ooit op plase gewoon of gewerk het.”

Hy het gesê die afgelope maand is eise selfs tot by die Wes-Kaap ook ingedien.

“Die verwagting wat nou onder arm swart mense verhoog word dat hulle almal grond gaan kry, gaan veroorsaak dat die regering hom in ’n posisie plaas waar hy boere se eiendomsregte gaan skaad.”

Jansen van Rensburg sê dis van sleutelbelang dat mense met eiendom gereeld op die departement se webtuiste gaan kyk of hul eiendom nie gelys is om geëis te word nie. Hy het gemeenskappe aangeraai om situasies soos wat nou op Bethlehem afspeel onder AfriForum en AfriSake se aandag te bring. “Dit is die begin van ’n politieke kookpot wat vergelykbaar is met wat oorlogsveterane in Zimbabwe begin doen het.”

'n Sogenaamde grondeisvorm. Foto: AfriForum

‘n Sogenaamde grondeisvorm. Foto: AfriForum

CW Els, AfriForum se koördineerder in die Vrystaat, het gesê die veiligheidsituasie op die dorp sal gemonitor word. “Ons vertrou nie die vrede met die sogenaamde opname nie en sal probeer vasstel wie agter dit sit.”

Me Lezzane Rungasamy, waarnemende hoofdirekteur van grondrestitusie in die Vrystaat, was nie bewus van die situasie nie. Sy het gesê die eenbladsy-dokument is nie ’n eisvorm nie, maar is as siftingsdokument gebruik om eisers te laat verstaan watter inligting van hulle nodig is wanneer die heropening van die grondeise-proses begin.

“Ek verstaan watse probleem nou geskep is en het opdrag gegee dat die vorms nie verder gebruik word nie. Grondeise-aansoeke sal binne-in die bus gedoen word waar ’n data-vaslegger van die kantoor van die streeksgrondeisekommissaris die inligting sal versamel.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, meen dit is niks anders as politieke opportunisme nie. “Grondeise moet deur ’n bepaalde wettige proses gaan wat geverifieer moet word. Niemand kan keer dat mense eise indien nie, maar die regte prosedures moet gevolg word. Regmatige eienaars sal in die toekoms ook geleentheid hê om onregmatige eise te betwis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Sekere mense is gebore om meesters in oneerlikheid te wees en sekere mense ” die ander ” wil bakhand staan en alles gratis te ontvang.

Gerhard Bezuidenhout ·

Sekere mense is gebore om meesters in oneerlikheid te wees en sekere mense ” die ander ” wil bakhand staan en alles gratis te ontvang.

Peet Schabort ·

‘n Grondeis op ‘n plaas is uiters ernstig. Die plaas mag nie verkoop word. Geen geld kan geleen word met die grond as waarborg. Uiteraard sal die eienaar ook nie verbeterings aanbring.
Ek glo boere sal meer inligting kan gee.

Gideon Roos ·

Hierdie grondeis besigheid is besig om die land in die grond te dryf. Ek is bewus van ‘n uiterse suksesvolle plaas in Noordwes, dit was ‘n paar jaar voor die eienaar van die grond afgesit is as een van die 10 mees vrugbare en produktiewe plase in the land gelys. Toe is die eienaar afgesit. Die nuwe eienaars het die plaashuis afgebreek en ‘n shack binne die mure gebou. Die enigste grond uit die hele meer as 10 000 hektar plaas wat gebruik word is die tuin waar hulle ‘n bietjie mielies en groente plant, en 3 beeste het wat wei.
9 997 hektar van vrugbare produktiewe gron produseer nou nie een mieliepit of een sonneblom saad nie. Dit is meer as 60 000 mense wat nou nie meer kos kry nie. En dit gebeur op die meerderheid van die plase wat ‘hervorm’ word. So sê vir my wat ons gaan doen oor tien jaar. Reg, almal gaan die grond hê wat hulle wil hê, maar almal gaan sonder kos sit. Volgens die Orde van Behoeftes, gee mensie nie om oor wie watter grond besit, of selfs wie watter regte het as hulle van honger sterf nie.

Die regering is besig om ons land in die grond in te dryf met hulle beleide, en ons is besig om hulle te bemagtig deur maar net gedurig die een wang na die ander vir hulle te draai. Daar kom ‘n punt wat jy moet opstaan vir jou regte, en vir die beswil van die land as ‘n geheel. As hulle nie ver genoeg in die toekoms in kyk om die uitkoms van hulle aksies te sien nie, het ons die verantwoordelikheid om dit dan vir hulle te doen en hulle reg te help. Ek weet dit gaan moeilik wees, aangesien hulle verskriklik hardkoppig en aspris is, maar ons kan nie langer nit ons skouers optrek nie.

Dalleen ·

Horrelpoot – Eben Venter (Ek dink altyd aan daardie boek as ek goed soos hierdie hoor)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.