Ernstige vrae oor Joslin Smith-ondersoek

Joslin Joshlin Smith, vermis, Saldanha, Diazville, gesoek

Die vermiste Joslin Smith van Saldanha in die Wes-Kaap. (Foto: Wes-Kaap Polisie)

Ian Cameron, parlementêre kandidaat vir die DA en voormalige lid van die drukgroep Action Society, het Maandag te velde getrek teen mense wat skynbaar politieke gewin uit klein Joslin Smith se saak wou put.

“Vals inligting deur mense wat politieke geleenthede in die saak gesien het, het soektogte ontwrig en het daartoe gelei dat die fokus verskuif het na skarebeheer. Jy kan jou die skade aan moontlike leidrade en bewyse hiermee voorstel.”

Hy sê mense teen wie valse aantygings in die saak gemaak is, is gedwing om Saldanhabaai permanent te verlaat.

“Die inligting het daartoe gelei dat mense en hul kinders gedreig is en geen ander keuse gehad het as om die gebied te verlaat nie. Dit is omdat roekelose uitsprake agterdog gewek het oor onskuldige lede van die gemeenskap.”

Omdat dit geblyk het dat die verdwyning ʼn politieke fotosessie geword het in plaas van ʼn ware ondersoek na ʼn vermiste kind, het hy aanvanklik sy afstand gehou, sê hy.

Hy sê inligting wat ontvang is, het gelei tot die inhegtenisneming van vier mense, onder wie Joslin se ma en haar kêrel, maar dat onwaar inligting ook gelei het tot ʼn onregmatige inhegtenisneming.

Nadat Joslin op 19 Februarie weggeraak het van haar blyplek in Diazville, was die saak in die hande van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, mishandeling en seksuele oortredings (GKS) en verskeie ander eenhede, waaronder die polisie se lugvleuel, die K9-eenheid, die soek- en reddingseenheid, die marine-eenheid en die vloot.

Die stad Kaapstad het ook beduidende hulpbronne gestuur om te help met die soektog na Joslin. Die saak is later na die Valke oorgeplaas.

Cameron vra hoekom so ʼn uitgebreide ontplooiing van hulpbronne geen suksesvolle resultate opgelewer het om Joslin op te spoor nie. Hy wonder voorts of die huidige ondersoekspan die nodige kundigheid het met betrekking tot gevalle van vermiste kinders.

Cameron meen maatreëls moet getref word om die verspreiding van vals inligting en die gevolge daarvan te voorkom en strategieë moet heroorweeg of ingestel word om die soektog na Joslin te verskerp.

“Hoe word nuwe leidrade geskep en is daar ʼn plan om voorheen misgekykte of moontlike nuwe bewyse te herevalueer?”

Cameron sê meer as 3 500 kinders word tans in die land vermis.
“Dié vrae moet nadenke uitlok en optrede onder belanghebbendes en die gemeenskap aanwakker. Deur antwoorde te eis, kan ons help om die ondersoek na meer doeltreffende weë te rig en verseker dat alle pogings aangewend word om Joslin te vind en haar veilig huis toe te bring.”

Hy stel voor dat die polisie-eenheid wat ouer sake ondersoek, die saak oorneem. “ ʼn Nasionale eenheid, met geen vuil grondvlakpolitiek nie en ʼn bewese rekord,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Susanna ·

Joslin se verdwyning is gebruik as platform om die PA as politieke party te bevoordeel. Die ondersoek spanne se aandag is deur Gayton McKenzie afgelei op sosiale media platforms na persone wat geensins betrokke was by haar verdwyning nie. En dit net om stemme te werf. Waar is Joslin? Gayton McKenzie berig nie eens meer oor haar verdwyning nie. Mag hy gery word deur nagmerries

Martie ·

Dis vir my so vreemd dat mense in hegtenis geneem is maar steeds weet niemand waar die kind is nie. Hoekom is die mense dan in aanhouding of is daar ook weer ‘n slang in die gras. En ja natuurlik was politiekery ook weer voor in die koor en het hopeloos te veel mense ingemeng met die ondersoek, ook die gepeupel.

Ester ·

Ek was gisteraand so omgekrap na die nuus waar haar ma, met ‘n vreeslike tevrede, glimlagende gesig na die media kyk. So asof sy nou al die aandag geniet. DIT MAAK MY BOOS!

Yvonne ·

Siek land met siek mense wat sulke geleenhede misbruik vir eie gewin…sies

Cassie Carstens ·

Ester, ek stem saam met jou, maar hoe minder mens oor hierdie wreedaardige saak te sê het, hoe beter. My hart huil vir daardie dogtertjie.

Mariana ·

Net soos die ma wat breed glimlag asof sy nou beroemd is net so het die PA se leier ook na vore getree en kastig berig oor die kind se verdwyning. Ook maar net plek gesoek om sy party uit te lig uit die res en natuurlik homself ook, maar intussen is die kind steeds nie gevind nie en wie weet wat van haar geword het en in watter omstandighede sy nou haarself bevind nie. Eintlik het die saak nou stilgeword en kan die regte mense nou na haar soek, sonder die wat net hulself wil laat goed lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.