Esbé Koster-moord: 18-jarige terug in hof

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Rethabile Pooe (18), die jong man wat aangekla word van die moord op Esbé Koster (50) van Brits in Noordwes, sal Woensdag weer in die hooggeregshof in Pretoria verskyn.

Pooe is een van twee beskuldigdes wat van die moord op Koster aangekla is. Die eerste beskuldigde, Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala (18), het reeds vroeër skuld op die aanklagte beken en is in Mei gevonnis. Pooe ontken skuld op die aanklagte teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei.

Pooe se verhoor moes egter verlede maand uitgestel word weens ʼn probleem rondom die vertolking van getuienis. Pooe was besig om deur adv. Annelie Coetzee, staatsaanklaer, kruisondervra te word toe dit aan die lig gekom het dat die hoftolk vermoedelik sy vroeëre getuienis verkeerd vertaal het.

Nadat die teenstrydigheid tussen Pooe se oorspronklike getuienis en die vertolking daarvan uitgewys is, is die kruisondervraging gestaak.

Marius du Toit, Pooe se regsverteenwoordiger, het vroeër aan Maroela Media verduidelik indien die beskuldigde se getuienis wel verkeerd vertolk is, skep dit ʼn wesenlike probleem en sal daar vrae ontstaan rondom al die getuienis wat gelewer is die dag wat dié betrokke tolk aan diens was. Die tolk wat die dag aan diens was, was nie die hof se amptelike tolk nie, maar ʼn hulptolk wat ingestaan het.

Die hof se amptelike tolk sou voor vandag die klankopnames en transkripsies van die betrokke dag se getuienis bestudeer het en seker maak dat Pooe se getuienis akkuraat vertolk is. Indien daar enige foute is, sou dit uitgewys word en die staat en die verdediging sou van die korrekte transkripsies voorsien word.

Indien die kwessie uitgeklaar is, sal die staat se kruisondervraging van Pooe vandag hervat.

Maroela Media het vroeër berig Koster, die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School, se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet. Pooe en Tshabalala, twee leerders van die skool – toe onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is die dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wondermaarnet ·

Die tolk was dalk omgekoop. Dit is 100% moontlik in SA.

Willie ·

Hulle teer op die blankes se goedheid, en gebruik ook die blanke se goedheid om lokvalle te plaas….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.