Esbé Koster-moord: Beskuldigde vertel hy was ‘bang’

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Die 18-jarige seun wat teregstaan op aanklag van moord in verband met die skietdood van Esbé Koster van Brits in Noordwes, het Woensdag die hooggeregshof in Pretoria probeer oortuig dat hy nooit die misdaad by owerhede aangemeld het nie aangesien hy bang was vir sy vriend wat betrokke was by Koster se moord.

Rethabile Pooe (18) word aangekla van die moord op Koster wat op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits doodgeskiet is. Pooe se medebeskuldigde, Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala (18), het reeds vroeër skuld op die aanklagte beken en is in Mei gevonnis. Pooe ontken skuld op die aanklagte teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei.

Adv. Annelie Coetzee, die staatsaanklaer, het Woensdag haar kruisondervraging van Pooe voortgesit. Coetzee het gehamer op Pooe se bewering dat hy ná Koster se moord nooit weer vir Tshababala wou sien nie. Sy het hom gevra hoekom hy dan steeds die volgende dag skool toe is asof niks gebeur het nie.

Waarnemende regter Johan Hattingh het dit in ʼn stadium aan Pooe gestel dat hy sekerlik uit die motor kon probeer spring het toe hy gesien het Tshabalala het ʼn vuurwapen indien hy nie deel wou wees van die misdaad nie. Pooe het gesê hy was bang om uit ʼn bewegende motor te spring, asook bang vir die wapen.

Hattingh het dit ook aan Pooe gestel dat hy verskeie mense in magsposisies teëgekom het ná die misdaad, onder wie sy ouers en die skoolhoof, wat hy kon vertel wat gebeur het. Pooe het volgehou as Tshabalala by hom was, was hy bang om iets te sê of selfs iets vir sy ouers te sê aangesien Tshabalala hom gedreig het. Hy het gesê die oomblik dat hy by die polisiestasie gekom het nadat die twee die oggend ná die moord by die skool in hegtenis geneem is, en hy weg van Tshabalala af was, het hy die waarheid vertel.

Coetzee het dit aan Pooe gestel dat sy weergawe dat hy so bang vir Tshabalala was nie water hou nie aangesien Tshabalala self erken het hy was deel van die beplanning van die roof, die steel van die vuurwapen en die uitvoer van die misdaad. “Tshabalala sou niks daarby gebaat het om jou te betrek by die misdaad nie,” het Coetzee gesê.

Marius du Toit, Pooe se prokureur, het Pooe ondervra en Pooe het beweer dat hy regtig gedink het Tshabalala sou hom en sy familie leed aandoen en sy dreigemente uitvoer as hy met die sak patats vorendag gekom het.

Kenny Pooe, Rethabile se pa, is ook na die getuiebank geroep en het sy seun as stil, gehoorsaam en respekvol teenoor ouer mense beskryf. Hy het getuig dat hy die aand van die moord by verskeie geleenthede agtergekom het iets skort met sy seun.

Eerstens, toe hy die aand by die huis kom, het Rethabile nie vinnig saam met sy suster uit die huis gekom om pakkies uit die motor te haal soos gewoonlik nie. Kenny het getuig hy het ook vir Pooe met sy kop tussen sy bene sittend op sy bed aangetref. Volgens hom het Pooe geweier om aandete te eet en drie maal opgespring terwyl hulle nog besig was om te eet asof iets hom gepla of bang gemaak het. Hy het getuig Pooe het later in die oggendure net op en af in die gang geloop.

Kenny beweer hy het gedink die eksamen wat Pooe die volgende dag moes skryf, was dalk vir hom stresvol.

Die volgende keer toe Kenny sy seun ná die aand van die misdaad gesien het, was by die polisiestasie. Hy sê hy en Pooe het albei gehuil. Volgens hom het hy gesien hoe ʼn wit polisiebeampte sy kind oophand klap voor hy sy verklaring aflê.

Hattingh het hom gevra hoekom hy nie ʼn klag van aanranding teen die beampte gelê het nie. Hy het beweer hy weet nie veel van die gereg nie.

Die saak duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Tanzie ·

“Dat ‘n wit polisieman sy kind”……. Kom ons gooi net gou weer die rasse kaart hierin uit. Daar kan geen saak verby gaan voordat daar nie ‘n ras spul ontketen word nie. Hoe pateties.

Hanna Hoekom ·

Wanneer word die raskaart gespeel? Wanneer jy nie meer enige argument het nie! Glo my, daardie dorp sou al gebrand het as dit wel die geval was…

Johan ·

As iemand agtien jaar oud is, is hy nie meer n seun nie. Dis n jong man wat baie goed weet wat reg en wat verkeerd is. Sy verskonings dat hy eintlik onskuldig is, is flou. Baie flou.

Johan ·

Sommige van ons was op die ouderdom tussen 18 en 19 jaar oud bevelvoerders in n oorlogsituasie. Verseker weet jy presies wat jy doen op daardie ouderdom

Cherokee ·

Hoop nie hy dink die ‘oophand’ klap wat sy seun na bewering gekry het, is ernstiger as moord nie. ‘n Klap is buitendien altyd met ‘n oop hand.

A ·

Regtig. Nadat sy kind medepligtige is aan moord probeer hy wragtig die raskaart ook speel

Skandelik ·

Hoe gerieflik is dit nou ‘n 18 jarige SEUN?? Nou moet almal hom jammer kry of wat? Die Waterkloof ouens was 16 en hulle is as volwassenes gevonnis .daar is gewag TOTDAT hulle oud genoeg was om hulle as volwassenes te verhoor en te vonnis .NOOIT is daar na hulle as SEUNS verwys nie .. EK HOOP REGTIG dat geregtigheid hier sal geskied en dit nie onder die mat in gevee word soos baie van die ander moorde wat die ‘seuns’ pleeg nie. Nou skielik het ‘n WIT POLISIEMAN se kind geklap? En so sal hulle die RASKAART speel tot die belhamel VRY is …

Lizl ·

Ja die alewige rassekaart! As jy nie kan antwoord of in die knyp is, maak dit gou `n rasse storie. Hy is skuldig, punt.

Irene ·

Te maklik om mense dood te maak en met ander stories voor te kom

Belaglik ·

Wit vrou word vermoor na sy hulle uithelp en die man kla oor n wit man wat sy seun klap…

Koos de Meyer. ·

Natuurlik sal hy lieg. Die rasse kaart is al hol rug gery. 18 jaar oud en hy weet nie van die reg nie, snert.

Sandra v Zyl ·

Wie is ons om te oordeel? Die oordeel kom ons nie toe nie. Ek wil nie party trek nie…n moord is gepleeg en geregtigheid moet plaasvind! Maar net n ouer wat reeds kinders van 18 het…of gehad het…sal verstaan dat 18 eintlik nog kind is en hulle doen ‘DOM’ dinge op daardie ouderdom…en dat hulle ‘BANG’ kan wees as iemand hulle manipuleer en dreig! Baie van ons het groen koring op die lande…jong kinders…en ek glo mens wys nie vingers as dieselfde dalk met jou kan gebeur nie.

Amelda Ferreira ·

Jy praat baie maklik. Dis my suster wat vermoor is deur die onskuldige ou seuntjie. Jy kan ook nie oordeel tensy een van jou familielede so wreed vermoor is en jy met n gebroke pa en ma agterbly nie. So dink weer voor jy praat!!!

Sandra v Zyl ·

Amelda…wie se vir jou ek…ons gesin is nie ook al deur geweld in die land beinvloed nie? Wie se vir jou dat moord nie ookal deel was van ons hartseer nie? Dit gee my die reg om my boodskap te kon plaas. Sterkte aan jou gesin in julle verlies. Maar tot hy nie skuldig bevind is nie, het ons nie die reg om hom te oordeel nie.

Johan ·

Sal nooit met jou saamstem nie. Ons generasie het met gelaaide R1 gewere oorlog gemaak op daardie ouderdom, en daar was geen genade as jy n verkeerde besluit geneem het nie. Ky is nie meer n kind op 18 nie

Dennis ·

Ja, op 18 is mens nog n kind se julle. Dit hang seker van jou maatstaf af. Op 17 was ek te jonk om te drink, te jonk om te stem, te jonk om n moter te bestuur, te jonk om by n nagklub in te gaan, maar ek was darem oud genoeg om oorlog toe te gaan en vir my land te sterf. 18 is nie meer n kind nie, jy weet wat moord is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.