Esbé Koster-moord: Beskuldigde vertel oor moord

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag gehoor Rethabile Pooe, die 18-jarige wat aangekla word van die moord op Esbé Koster (50), die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School in Brits, Noordwes, is in graad 8 vir maande lank byna daagliks geboelie omdat hy oorgewig was.

Pooe was ten tyde van Koster se moord ʼn leerder aan die Rabboni Christian School. Sy medebeskuldigde, Keorapetsa Tshabalala (18), het in Mei skuld op die aanklagte erken en is vir die moord op Koster gevonnis.

Pooe ontken egter skuld op die aanklagte teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei. Die misdaad is gepleeg toe die twee in graad 9 was.

Die verhoor teen Pooe het Maandag in die hooggeregshof begin. Tshabalala was Dinsdag in die getuiebank.

Marius du Toit, Pooe se regsverteenwoordiger, het aangevoer Tshabalala het ongeveer drie maande lank daagliks vir Pooe aangerand en geboelie. “Pooe sê hy het ʼn plan probeer maak om vriende met jou [Tshabalala] te maak sodat jy hom nie meer sou aanrand nie,” het Du Toit gesê.

Volgens Du Toit beweer Pooe ander leerders het Tshabalala gevrees omdat hy ʼn boelie was. Tshabalala het erken hy is meer as een keer uit die skool geskors. Vyf van sy vriende is ook al geskors.

Tshabalala het glo vir Pooe “vet” en “gay” genoem. Pooe is nou slank van figuur. Pooe beweer Tshabalala het ná hul vriende geword het hom slegs verbaal mishandel. Tshabalala het die aantygings deurgaans ontken.

Tshabalala het erken dat Pooe ʼn stil, gehoorsame leerder was en nooit probleme met die skool en onderwysers ervaar het nie. Du Toit het ook gesê Pooe beweer Tshabalala het dikwels gespog oor ʼn ouer persoon wat vir hom soos ʼn broer is wat dikwels betrokke was by misdaad.

Tshabalala het erken dat hy en Pooe byvoorbeeld nooit saam gaan fliek het of by mekaar se huise gaan kuier het nie en net vriende was by die skool.

Tshabalala se dissiplinêre rekord by die skool dui glo aan dat hy verskeie kere aangespreek is oor swak gedrag teenoor onderwysers en boelie-gedrag. Hy het die boelie-gedrag ontken, maar gesê hy is twee keer uit die skool geskors omdat hy in ʼn “slegte groep vriende was”.

Hy het ook erken dat hy aangespreek is oor die besit van dagga op die skoolterrein. Daar was ook aantygings dat hy ʼn leerder met ʼn mes gekap het op ʼn skoolbus, asook dat hy selfone gesteel het. Hy het dit ontken.

Du Toit het Dinsdag gesê Pooe ontken dat daar ooit enige plan was om ʼn kaping uit te voer. Hy het ook beweer dat hy opdragte wat Tshabalala vir hom gegee het uitgevoer het en dat Tshabalala glo gereeld gespog het dat hy vir hom ʼn vuurwapen gekoop het. “Jy het die dag wat jy die magasyn skool toe gebring het vir Pooe gesê: ‘Jy het my nie geglo nie, kyk hier,’” het du Toit aan Tshabalala gestel. Tshabalala het dit ontken.

Volgens Du Toit was dit die eerste keer in Pooe se lewe wat hy ʼn vuurwapen gesien het. Hy beweer ook dat Tshabalala met die sak waarin die vuurwapen was gespog het en gevra het mense moet raai wat daar binne is. “Jy het selfs gesê as jou meisie jou verneuk, sal jy haar nuwe kêrel gaan doodskiet,” het Du Toit gesê. Tshabalala het dit weereens ontken.

Pooe beweer Tshabalala het die dag van die moord aan hom gesê hy wou nie dadelik huis toe gaan nie, want sy ma gaan hom laat leer vir die volgende dag se eksamen en het gesê hulle moet vir “tannie Esbé” vir ʼn rygeleentheid vra.

Pooe het by monde van sy verteenwoordiger gesê Tshabalala het agter Koster in die motor gesit en hy links voor by haar. Hy het gehoor hoe word die vuurwapen oorgehaal en Tshabalala het glo gesê: “Change of plans. We are taking this car, this is a hijacking.” Tshabalala het ontken dat hy dit gesê het.

Koster het toe glo by hulle begin pleit om haar nie te vermoor nie. Tshabalala het erken hy het vir haar gesê as sy saamwerk sal hulle haar nie doodmaak nie.

Esbé Koster se familie in die hof (15 Mei 2018). Foto: Maroela Media

Pooe voer aan Koster het op Tshabalala se instruksie die motor van die pad afgetrek en gesê hulle is “soos seuns” vir haar en dat sy hulle “soos haar familie” ʼn geleentheid in haar motor gegee het. Pooe beweer hy het vir Tshabalala gesê om vir Koster te luister en hom gevra wat hy besig is om te doen.

Tshabalala het hier geantwoord: “Sy [Koster] het klomp goed gesê. Ek kan nie alles onthou nie. Ek wou net die motor vat en wegry.”

Pooe beweer dat Tshabalala hom opdrag gegee het om Koster se hande vas te bind. Sy het glo losgeruk en hy het die maskeerband toe vier keer om haar polse gedraai.

Pooe was tydens die hofverrigtinge opmerklik ontsteld en het deurentyd gehuil.

Du Toit het aangevoer Pooe beweer verder Tshabalala het hom opdrag gegee om hom te help om Koster in die motor se kattebak te gooi. “Hy sê hy het oorweeg om weg te hardloop, maar besluit om dit nie te doen nie as gevolg van die feit dat hy asma het en dat Tshabalala sterker en vinniger is as hy. Hy het gedink dat jy hom sou skiet,” het Du Toit aan Tshabalala gestel.

Volgens Pooe het Tshabalala Koster by die kattebak laat struikel en haar toe geskiet toe sy val. Die twee het van die toneel gery en Tshabalala het glo vir hom gesê: “Ek sien jy’s bang. Jy gaan vir mense vertel. Jy weet wie is my vriendekring en my pa sal die saak teen my laat verwyn en dan kom ek vir jou.”

Tshabalala het weereens dié woorde ontken.

Die verhoor duur Woensdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rob ·

Rip Esbe, hulle moet al twee vir ewig in die tronk sit die skuim.

Bullseye ·

Ongelooflik… Sommer net vir die pret vermoor hulle haar?

Domvraag ·

Lieg, lieg en nogmaals lieg. Net soos die van Breda geval. Almal besef dat iemand lieg behalwe die verdediging?
Wonder hoeveel dit kos om mamon jou god te maak sodat moordenaars vry kan kom?l

Liesbet ·

Dis duidelik wie die ware skuldige is en dat hy ‘n jarelange geskiedenis het . . . die outjie wat hom gehelp het, sal ook sy pak soos ‘n man moet vat, maar hy was nie die moordenaar wat hoe lank met ‘n wapen rondgeloop het en die vrou geskiet het nie. Hy moes baie lankal uit die samelewing verwyder gewees het, maar danksy die nuwe “skoolwette” mag die skool hom nie eens lewenslank geskors het nie – hys is elke keer terug skool toe . . . en dan moet onnies vir sulke misdadigers klas gee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.