Esbé Koster-moord: ‘Dit was ʼn ware tragedie’

Esbé Koster se familie in die hof (15 Mei 2018). Foto: Maroela Media

Esbé Koster, die vrou van Brits in Noordwes wat in November 2016 koelbloedig doodgeskiet is, se man het Dinsdag in die hooggeregshof getuig hoe ʼn geweldige uitwerking haar dood op die familie gehad het.

Die 18-jarige beskuldigde, wie se naam nie bekendgemaak word nie aangesien hy minderjarig was ten tyde van die misdaad, het vroeër vanjaar erken dat hy Koster vermoor het. Hy is gevolglik skuldig bevind op al die aanklagte teen hom en Dinsdag tot effektief 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Jan Koster, Esbé se man, is voor die vonnisuitspraak na die getuiebank geroep om ter verswaring van vonnis te getuig. Hy het gesê dat die familie se eerste kleinkind gebore is ná Esbé se moord. Volgens Jan word die familie gedwing om met die reuseverlies saam te leef, maar Esbé se dood het daarbenewens ook ʼn geweldige emosionele uitwerking op hom en hul twee dogters gehad.

ʼn Verslag van Thomas Hendrik Frances, die hoof van die Rabboni Christian School waar Koster gewerk het, is ook voorgelees. Frances het gesê die hele skoolgemeenskap was geruk deur die voorval, onder wie die leerders se ouers. Dit was duidelik uit die verslag dat Koster geliefd was onder die leerders en personeel.

Die skool het volgens Frances ook ʼn finansiële verlies gely weens die negatiewe publisiteit ná die voorval, leerders wat die skool verlaat het, asook minder nuwe inskrywings by die skool as gewoonlik.

Staatsaanklaer Mokgaetji Makguatha het aangevoer dat die beskuldigde nie van die begin af berou getoon het nie. Sy het die hof versoek om ʼn minimum vonnis van 25 jaar tronkstraf op te lê. Makguatha het ook die vraag gestel of die beskuldigde nie die eintlike probleem is nie omdat die sogenaamde “verkeerde vriende” wat hy al gehad het voor 2016, toe die voorval plaasgevind het, uit die skool geskors is.

Sy het die hof daarop gewys dat die beskuldigde en sy makker spesifiek vir Koster by haar motor ingewag het en nooit van plan was om haar ongedeerd te laat gaan nie. Makguatha het gesê die hof moet in ag neem dat haar moord sinneloos en onnodig was.

Adv. Mavis Moloi, vir die verdediging, het gesê sy meen die beskuldigde moenie tronkstraf van langer as 20 jaar ontvang nie. Sy het ter versagting van vonnis aangevoer dat hy gerehabiliteer kan word, dat hy minderjarig was toe die misdaad gepleeg is, dat hy ʼn eerste oortreder is en skuld erken het.

Sy het ook aangevoer dat die vriende wat die beskuldigde gehad het ʼn groot invloed op sy optrede uitgeoefen het.

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Regter Bert Bam het gesê die enigste voordeel wat die verdediging het, is dat die beskuldigde nog minderjarig was ten tyde van die moord en dat daar dus vooruitsigte vir rehabilitasie kan wees.

Bam het gesê hy voel jammer vir die beskuldigde se ouers wie se pa in die Suid-Afrikaanse nasionale weermag (SANW) is en ma ʼn suksesvolle taxi-onderneming besit. Hy het die feit dat die voorval vooraf beplan was, beklemtoon. Hy het ook gesê die beskuldigde was nooit van plan om Koster lewend te laat nie.

Volgens Bam is die verswarende omstandighede in dié geval oorweldigend. Daar was ʼn vuurwapen betrokke, Koster was in geen posisie om haarself te verdedig nie, haar liggaam is net in ʼn veld agtergelaat en haar moordenaars het geen respek vir haar getoon nie.

Die beskuldigde het ook ná die moord Koster se voertuig gebruik wat hy gesteel het. “Dít is die gedrag van ʼn geharde misdadiger. Dit is verbasend dat hy net 16 jaar oud was.”

Bam het die voorval as ʼn “ware tragedie” bestempel, nie net vir Koster se gesin nie maar ook vir die familie van die beskuldigdes. “Daar is te veel sulke misdade in Suid-Afrika. Misdadigers word nie meer afgeskrik deur swaar strawwe nie,” het Bam gesê.

Maroela Media het vroeër berig Koster se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet. Twee leerders van die skool waar sy as sekretaresse gewerk het, toe onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is die dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem.

Die tweede beskuldigde in die saak het skuld op al die aanklagte teen hom ontken. Die twee beskuldigdes se sake is gevolglik van mekaar geskei en beskuldigde nommer twee sal van 18 tot 22 Junie in die hooggeregshof verhoor word. Hy is uit op borgtog tot sy volgende verskyning.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oom Kalahari ·

‘n Beplande tragedie. Al wat dit bring is woede, hartseer en vereensaming, waar dit vir ander ‘n ongevoelige nasionale sport geword het. Die lewenslange skade is aangerig en iemand van sy/haar reg op lewe is beroof. Die regering is verantwoordelik vir al die misdade.

GM ·

Rehabiliteerbaar? Regtig? Die kanse is soooooo skraal. Dis jammer dat moordenaars net aangaan met hul lewens en die vrou se familie moet agterbly met al die seer. Ek gaan maar daar stop, anders slaap ek dalk in die tronk.

pieter ·

En die 2de beskuldigde is op borgtog uit. Wat de wetter dink julle is die kanse dat hy gaan aanmeld vir sy verhoor? waarom word hy op borgtog uitgelaat? Seker omdat hy van n minder bevoorregte gemeenskap kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.