Esbé Koster-moord: ‘Ek het omgedraai, ek wou nie kyk nie’

Die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Maroela Media

Die verhoor van Rethabile Pooe (18), die man wat aangekla word van die moord op Esbé Koster, die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School, is Donderdag ná middagete voortgesit met Pooe wat vir die eerste keer self getuig het.

Dít nadat Marius du Toit, sy regsverteenwoordiger, se aansoek om ontslag vroeër Donderdag deur waarnemende regter Johan Hattingh van die hand gewys is.

Pooe is een van twee beskuldigdes wat van die moord op Koster aangekla is. Die eerste beskuldigde, Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala (18), het reeds vroeër skuld op die aanklagte beken en is in Mei gevonnis. Pooe ontken skuld teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei.

Pooe het getuig dat hy regtig nie geweet het Tshabalala (18) was op 22 November 2016, die dag van die moord, van plan om Koster se motor te kaap nie.

Pooe het getuig dat hy die oggend by die skool die magasyn van die vuurwapen gesien het toe Tshabalala dit vir hom gewys het, maar nie die vuurwapen self nie. Hy het wel verstaan dat Tshabalala ʼn vuurwapen by hom gehad het.

Tshabalala het gister getuig dat hy nie direk na skool wou huis toe gaan nie omdat sy ma hom sou dwing om te leer en hy nie dadelik wou nie. Die twee het nie ná skool per taxi huis toe gegaan soos gewoonlik nie en Tshabalala het voorgestel hul vra vir “tannie Esbé” vir ʼn rygeleentheid na die taxi-staanplek.

“Ek het vir ma’am [Koster] gevra vir ʼn saamrygeleentheid na die taxistaanplek en sy het gesê sy gaan winkelsentrum toe, maar dis reg ons kan saamry. Ek het toe gesê nee, dis reg, ons kan stap, maar Tshabi het aangedring ons moet saam met haar ry.”

Poee vertel dat hy in die motor ʼn geluid van die vuurwapen wat oorgehaal word gehoor het en toe omgekyk het en gesien het dat Tshabi die wapen teen Koster se linkersy hou. “Change of plans. This is a hijacking, we are taking this car,” het hy glo vir haar gesê.

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Pooe het vertel hoe hy geskrik het en vir Tshabalala gesê het: “Wat doen jy? Dit is verkeerd.”

Die beskuldigde het begin huil toe hy vertel het hoe Koster hulle gesmeek het om dit nie te doen nie en gesê het sy het hulle soos haar eie kinders in haar motor in geneem. Pooe het vir Tshabalala gesê: “Luister vir juffrou, hou op.” Tshabalala het glo ongeduldig met hom geraak en vir hom gesê hy moet vir hom luister en sy mond hou.

Koster het glo gepleit vir haar lewe en by Tshabalala gesmeek dat sy nog haar kleinkind wou sien.

Tshabalala het vir Koster gewys waar om te ry en die motor het toe stilgehou langs die pad.

Pooe het vertel hoe Tshabalala vir hom opdrag gegee het om Koster se hande vas te bind en hy het twee keer geweier. Hy beweer Tshabalala het vir hom gesê: “Jy begin my nou sonder respek hanteer, doen wat ek vir jou sê!”

Tshabalala het gesukkel met die kattebak en het vir Pooe opdrag gegee om dit te kom oophou sodat Koster daar kan inklim. Sy het geweier en Tshabalala het haar glo laat struikel. “Hy het die wapen op haar gerig en ek het my rug gedraai. Ek wou nie kyk nie…. Ek het twee skote gehoor. Toe ek omdraai het ma’am uit haar kop uit gebloei.”

Die twee is vort in Koster se motor, Tshabalala het bestuur en wou nie vir Pooe by sy huis gaan aflaai nie en het hom na sy huis geneem. Tshabalala het vir Pooe later die aand ʼn ent weg van sy huis afgelaai en glo vir hom gesê hy wil weer verby die toneel ry.

Die twee is die volgende dag by die skool in hegtenis geneem. Pooe het getuig dat hy by die polisiestasie vertel het wat gebeur het nadat die polisie hom in kennis gestel het Tshabalala is besig om in ʼn ander vertrek met die hele sak patats vorendag te kom. Pooe sê hy is glo ook deur die polisie aangerand.

Pooe het ook gesê hy glo Tshabalala blameer hom oor sy eie situasie en dat hy nou in die tronk is. Pooe het glo twee briewe geskryf, een vir die skool en een vir die Koster-familie om jammer te sê, maar die briewe is nooit gestuur nie.

Maroela Media het vroeër berig Koster se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Die twee leerders van die skool, toe onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is die dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem.

Die staat sal Pooe Vrydag kruisondervra.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

christa ·

geen dissepline is in die skole nie. As kinders sien daar is vuurwapens tussen leerders, hoekom nie daarvan gaan vertel vir die seniors nie. Klein-klein al wreedaards

Veronica ·

Maklik om nou die skuld op die ander een te pak! Die enigste een wat die waarheid weet is dood! Voel jammer vir haar familie.

Popsa ·

So maklik soos dit.

Rekenaarspeletjies, televisie-programme, die rolprentbedryf, die media en ‘n samelewing deurdrenk van bloed en doodslag verskaf dag vir dag aan jeugdiges die perfekte opleiding om koelbloedig te moor; om kits-moordenaars te word sonder om naastenby te begryp waarmee hulle besig is en wat die fenominale gevolge wat hul speletjies vir hulle eie en ander lewens sal behels. Karakters in rekenaarspeletjies word doodgeskiet, maar hul herleef netnou weer. So ook akteurs en sogenaamde celebrities in films en tv-reekse. Alles een reuse klugspel. ‘n Wêreld sonder realiteit. En jeugdiges wil die ingeoefende fantasieë en avonture uiteindelik prakties beproef. En veral die gevoel van mag beleef wat daarmee saamgaan…met wapens vrylik beskikbaar in ‘n korrupte omgewing en samelewing. Daarna, so onverwags soos yskoue water in jou rug in die winter, volg die harde, ware werklikheid…

Ja, die skuldige is skuldig. Maar onskuldige mense maai wat ander mense gesaai het. Gods water loop vir jare maar oor Gods akker, en só lyk die uiteinde daarvan.

Fransie ·

Ja, onskuldige mense soos Esbé. Baie sterkte aan haar geliefdes.

Skyspy007 ·

Sekerlik is daar rassisme Lerato, ons blankes is mos die na-saadte van Jan van Riebeeck…..en geen reg om hier te wees nie….dink maar self daaroor! Puik antwoord en kommentaar Popsa, Ons meegevoel aan Esbè en haar familie . Hierdie ou wêreld is verrot verby en net God weet waarheen alles oppad is. Nog is dit het einde niegd……

Jannie ·

Lerato, jy kan seker rasisme in enige iets sien as jy hard genoeg probeer.
Ek vermoed jy het hard genoeg probeer so wys dit as vir my.

Nikita ·

Klink my die Tshabalala het nou regtig gedink hy is in n fliek….doen te min huiswerk en kyk seker te veel riller flieks. Nou is n onskuldige vroutjie vermoor. Om 18 te wees is nog baie jonk…..” buig die boompie terwyl hy jonk is!!”. Hoop hy gaan lank toegesluit word. Sterkte aan die Koster familie.

panto ·

pooe het 24 uur of so sy mond gehou. hy is medepligrig. straf hom ook. moemamd het hom gedwing om te swyg nie. hy het ook nie probeer keer nie.

poplap ·

Dit gebeur omdat dat geen disipline geleer mag word nie. ‘n Goeie pak slae het nog altyd goed gedoen. Jy leer ook om mense om jou te respekteer. Maar nee, mense mag nie meer hul kinder pak gee nie. Dis hoekom ons in ‘n situasie sit waar mense dink hul kan doen wat hul wil. My ma het ons boude lekker warm geslaan as ons stout was, en vandag is ek ‘n goed opgevoede vrou, wat ander mense met respek behandel. Vir ons wat dit ondenkbaar om lellik met ‘n ouer person te praat…

ES ·

En die ergste is dat enige vorm van lyfstraf nou onwettig verklaar word…

ES ·

En so neem hy haar lewe vir absoluut geen rede nie… daar is te veel mense wat van ander se goedheid misbruik maak.

Blommie ·

Dis so onregverdig, dat onskuldige mense onder ander se wreedheid moet deurloop.
Sterkte aan die familie en ek hoop die mannetjie sit lank genoeg om oor sy boosheid te kan besin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.