Esbé Koster-moord: ‘Ek kan nie glo hy kon só ʼn misdaad beplan nie’

Die hooggeregshof in Pretoria (Foto: Maroela Media)

Die Pretoria-hooggeregshof het Woensdag gehoor dat die Rabboni Christian School in Brits se adjunk- en dissiplinêre hoof tot vandag toe nie kan glo dat Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala in staat was tot die moord op Esbé Koster, destyds die sekretaresse van die skool, nie.

Koster is in November 2016 vermoor en haar liggaam is langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind.

Tshabalala het reeds vroeër skuld op die aanklagte beken en is in Mei gevonnis. Sy medebeskuldigde, Rethabile Pooe (18), ontken skuld op die aanklagte teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei. Pooe se verhoor is tans aan die gang.

Marius du Toit, Pooe se prokureur, het Woensdag vir Christiaan Cornelius Benadé, adjunkhoof en hoof van dissipline by die Rabboni Christian School, as sy eerste getuie opgeroep. Hy het ʼn bundel van Tshabalala se rapporte, briewe aan sy ouers en dissiplinêre rekords voorgehou. Benade het wel aangedui dat daar ʼn lêer met dissiplinêre oortredings is wat die skool nie kon opspoor nie.

Luidens die bundel het Tshabalala verskeie kere gedruip. Hy het ook melding gemaak van ʼn voorval waartydens Tshabalala, toe hy 10 jaar oud was, glo ʼn meisie op haar skouer geskraap het met ‘n mes in ʼn skoolbus toe sy aangehou het om hom te spot en te sê sy is “lief” vir hom.

Daar is ook melding gemaak van ʼn voorval tydens ʼn atletiekbyeenkoms waartydens ʼn boksie dagga by Tshababala gevind is, maar hy en sy ouers het ontken dat dit aan hom behoort. Hy is einde 2015 gevra om nie terug te keer na die skool in 2016 nie weens herhaaldelike oortredings. “Begin 2016 het sy ma kom mooipraat en ons het hom nog ʼn kans gegee op voorwaarde dat hy nie weer oortree nie,” het Benadé gesê.

Staatsaanklaer adv. Annelie Coetzee het Benadé daarna ondervra. Hy het gesê hy ken Tshabalala as ʼn “huilerige persoon” wat sommer gou na ʼn onderwyser of die kantoor sou gaan as hy nie sy sin kry nie en dat sy ma sy gevegte vir hom veg.

“As hy ʼn nuwe hoed of ʼn tabletrekenaar of iets wou hê, dan was dit waaroor sy lewe gegaan het.”

Benadé het by navraag erken hy dink Tshabalala is glad nie intelligent nie en hy is geskok dat hy ʼn plan sou beraam om so ʼn misdaad uit te voer. “Ek kan dink hy het dit dalk beplan, maar glad nie goed nie. Die manier waarop hulle die volgende oggend net na vore gekom het … Ek kan glo dat hy nie gedink het aan die gevolge van sy dade nie.”

Toe waarnemende regter Johan Hattingh vir Benadé vra of hy nou terugskouend sou kon glo Tshabalala sou iemand kon doodmaak, het hy “nee” geantwoord. “Uiteraard weet ek hy het dit gedoen, maar soos ek hom geken het, kan ek dit nie glo nie.” Hy het gesê dit het in 2016 “eintlik goed gegaan met Tshabi by die skool”.

Prof. Gérard Labuschagne, ʼn kliniese sielkundige met ʼn omvattende CV wat onder meer die pos as hoof van die Suid-Afrikaanse ondersoekende sielkundige eenheid insluit, is daarna na die getuiebank opgeroep.

Hy het Tshabalala se voorvonnisverslag, wat hy geskryf het, aan die hof voorgehou. Dit het kortom bevind dat Tshabalala ʼn medium tot hoë risiko is om weer iets gewelddadigs te doen.

Labuschagne het laat hoor dat hy twee onderhoude met Tshabalala gevoer het. “Tydens die eerste onderhoud het hy berou getoon ter wille van homself, die feit dat hý nou nie meer saam met sy ouers mag wees en dat hý nou nie meer kan sokker speel nie, en so meer. Tydens die tweede onderhoud het hy die éérste keer melding gemaak dat hy besef hy het iemand se ma weggeneem,” het Labuschagne gesê.

Labuschagne het bygevoeg die enigste rede waarom hy Tshabalala nie as iemand met ʼn gedragsversteuring (ʼn term wat volgens hom gebruik word om “junior psigopate” onder 18 jaar oud te diagnoseer) sou klassifiseer nie, is omdat al die voorvalle waarby hy betrokke was by die skool en nie buite die skool plaasgevind het nie.

Volgens Labuschagne beskik Tshabalala oor drie uit die 20 faktore waaraan die waarskynlikheid van toekomstige gewelddadige gedrag gemeet kan word. “Twee van die drie is baie ernstig en al drie is staties wat beteken dit kan nie verander word nie.”

Die hof het verdaag en word Donderdagoggend hervat.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann cb ·

Volgens hierdie berig, het die jong man glad nie ‘n goeie rekord nie!

Amelda Ferreira ·

En as die skool hom nie teruggevat het nie, het die moord nie gebeur nie. Raboni is ook skuldig!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.