Esbé Koster-moord: Hof sê oor aansoek om ontslag

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Die verdediging in die saak teen Rethabile Pooe (18), wat aangekla word van die moord op Esbé Koster, die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School, het Donderdag die verrigtinge in die Pretoria-hooggeregshof begin deur ʼn aansoek om ontslag vir Pooe in te dien.

Pooe is een van twee beskuldigdes wat van die moord op Koster aangekla is. Die eerste beskuldigde, Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala (18), het reeds vroeër skuld op die aanklagte beken en is in Mei gevonnis. Pooe ontken skuld teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei.

Waarnemende regter Johan Hattingh het Marius du Toit, Pooe se regsverteenwoordiger, se redes vir sy aansoek om ontslag aangehoor.

Du Toit het aangevoer dat Tshabalala ʼn uiters swak getuie was en nie ʼn goeie indruk gewek het toe hy getuig het nie. “Ek het hom gevra, ‘het jy altyd volgehou jy was die skieter?’, en hy het ja geantwoord. Toe hou ek sy pa se verklaring aan hom voor dat hy aan sy pa gesê het Pooe was die skieter. Tóé kom hy en sê ‘ja, ek het oorspronklik so gesê, want ek was bang vir my pa’.”

ʼn Belangrike kwessie vir die verdediging was dat die bewyslas van die saak by die staat berus, asook dat die staat gekies het om vir Kgodisho Tima Tau (19), ʼn leerder aan die skool en vriend van Tshabalala, op te roep om te getuig. “Die persoon wat die beste kon kommentaar lewer oor Tshabalala se gedrag, mnr. Benadé – die skool se adjunk- en dissiplinêre hoof, is nie opgeroep nie.”

Adv. Annelie Coetzee, staatsaanklaer, het die aansoek om ontslag teengestaan en volgehou dat Tshabalala nooit sy weergawe voor die hof verander het nie en deurentyd konsekwent was in sy getuienis. Sy hou vol daar is ʼn verpligting op die beskuldigde om sy weergawe voor die hof te kom stel en dat dit voor die hand liggend is dat die beskuldigde ook van sy kant af moet verduidelik wat sy weergawe is.

Waarnemende regter Johan Hattingh het ná teetyd gelas dat die aansoek om ontslag van die hand gewys word.

Pooe sal nou self in die getuiebank verskyn om te getuig.

Koster se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet. Die twee beskuldigdes, destyds leerders by die Rabboni Christian School, is ʼn dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jaco ·

Wit Afrikaanse regter, waarnemende regter en staatsaanklaer. Waars die regstellende aksie en “transformasie” dan?

kas ·

Hierdie regsmense kies nie watter sak hulle wil hanteer nie.Die sake word aan hulle howe toegeken.Dankie tog die aansoek vir ontslag is van die hand gewys.

Jaco ·

dis net vreemd dat daar nog hoegenaamd wit mense. affrikaans nogal, in diens is by die howe. dag na dag hoor ons dan van regstellende aksie en transformasie en dat “wit mense het hulle kans gehad”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.