Esbé Koster-moord: Kruisondervraging kortgeknip

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Die verhoor van Rethabile Pooe (18), die man wat aangekla word van die moord op Esbé Koster (50) van Brits in Noordwes, moes Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria uitgestel word weens ʼn probleem rondom die vertolking van getuienis.

Pooe is een van twee beskuldigdes wat van die moord op Koster aangekla is. Die eerste beskuldigde, Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala (18), het reeds vroeër skuld op die aanklagte beken en is in Mei gevonnis. Pooe ontken skuld op die aanklagte teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei.

Pooe was Donderdag vir die eerste keer self in die getuiebank en sou vandag deur die staat kruisondervra word. Die kruisondervraging is gekniehalter nadat adv. Annelie Coetzee, staatsaanklaer, Pooe gewys het op ʼn teenstrydigheid in sy verklaring en sy getuienis van gister. Pooe het aangevoer dat die tolk sy getuienis verkeerd vertaal het en dat dít die rede vir die teenstrydigheid is.

Nadat ʼn tweede teenstrydigheid deur die staat uitgewys is en Pooe weereens aangevoer het sy woorde is verkeerd vertaal, is die kruisondervraging gestaak.

Marius du Toit, Pooe se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media gesê die tolk wat gister in die hof gebruik is, is ʼn deeltydse tolk wat nie voltyds vir die staat werk nie omdat die voltydse tolk nie beskikbaar was nie. “Indien die beskuldigde se getuienis wel verkeerd vertolk is, skep dit natuurlik ʼn wesenlike probleem en veroorsaak dit ʼn groot vraagteken rondom al die getuienis wat gister gelewer is,” het Du Toit gesê.

Hy het gesê die hof se amptelike tolk sal nou die klankopnames en transkripsies van gister se getuienis bestudeer en seker maak dat Pooe se getuienis akkuraat vertolk is. Indien daar enige foute is, sal dit uitgewys word en die staat en die verdediging sal van die korrekte transkripsies voorsien word.

Die saak is uitgestel tot 11 Julie wanneer die staat se kruisondervraging van Pooe sal hervat.

Maroela Media het vroeër berig Koster, die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School, se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Pooe en Tshabalala, twee leerders van die skool toe onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is die dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pikkewyn ·

Ek dink eerder daar is nou 2 “foutjies” waar hy homself weerspreek het vir hom uitgewys…..ongelukkig.
Indien dit wel ‘n fout is deur die tolk sal dit deur die amptelike tolk dan nou uitgesorteer word. Hoe dit ookal is ek hoop die volle waarheid kom uit want ek dink nie hy is heeltemal so onskuldig soos hy voorgee nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.