Esbé Koster-moord: ‘Sê vir haar familie ek is jammer’

Die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Maroela Media

Die jong man wat skuldig bevind is aan die moord op Esbé Koster (50) het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria sy getuienis op ʼn onverwagse noot afgesluit deur die regter te vra om namens hom Koster se gesin om verskoning te vra.

Waarnemende regter Johan Hattingh het die dag se verrigtinge begin deur vir Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala (18), die man wat in Mei skuld op die aanklagte teen hom erken het en reeds gevonnis is, te ondervra.

Hattingh het Tshabalala daarop gewys dat verskeie feite in sy pleitverduideliking en sy getuienis teenstrydig is.

“Jy wil hê die hof moet glo dat jy alles wat hier gebeur het vir jou vriend gedoen het, sodat sy motor herstel kan word, en so meer, maar steeds is geen van die gesteelde goedere by hom aangetref nie – die kar, die skootrekenaar, die geheuestokkie en alle ander voorwerpe is by jou aangetref.”

Toe Tshabalala klaar getuig en Hattingh hom verskoon het, het Tshabalala opgestaan en gesê: “Mag ek asseblief een ding vra, edelagbare? Sal u asseblief my verskoning aan die Koster-familie oordra?”

Hattingh het gesê hy sal so maak. Koster se man en twee dogters was teenwoordig in die openbare galery.

Adv. Annelie Coetzee, die staatsaanklaer, het daarna vir Lehlohonolo Mkhuna, ʼn taxibestuurder wat vir Tshabalala se ma se taxidiens gewerk het, ondervra.

Mkhuna het getuig dat Tshabalala en Rethabile Pooe (18), die tweede beskuldigde in dié saak, die dag van die moord in die taxi saam met hom skool toe gery het, maar nie die middag weer in sy taxi teruggekeer het huis toe nie. Hy het getuig die twee seuns, destyds nog in graad 9, het hom wel gevra om hulle skoolsakke saam met hom huis toe te neem.

Die twee het toe later die dag glo by hom opgedaag. Mkhuna het getuig Tshabalala se ma het hom gebel en gesê hy moet R60 vir Pooe gee. Dié geld was glo vir vervoer na Rustenburg.

Marius du Toit, Pooe se regsverteenwoordiger, het ná die hof vir tee verdaag het, dit aan die hof gestel dat Pooe beweer Tshabalala het die plan beraam om geld in die hande te kry om petrol mee te koop.

Maroela Media het vroeër berig Koster se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet. Koster was destyds ʼn sekretaresse by die Rabboni Christian School in Brits. Pooe en Tshabalala was destyds albei leerders van dié skool.

Die twee, toe onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is die dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem. Tshabalala het in Mei skuld op die aanklagte erken en is vir die moord op Koster gevonnis.

Pooe ontken egter skuld op die aanklagte teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei.

Die verhoor teen Pooe duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sussie ·

Ag spaar jou asem jy is glad nie jammer nie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Tammy ·

Jammer gaan nie hierdie pragtige vrou terug bring nie. Julle skurke sal julle dag in die tronk kry!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.