Esbé Koster-moord: Skieter gebruik vuurwapen ‘soos in die flieks’

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Die verhoor van die 18-jarige man wat beskuldig word van die moord op Esbé Koster (50), die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School in Brits wat in November 2016 koelbloedig doodgeskiet is, het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria hervat.

Rethabile Pooe se verhoor het Maandag in dié hof begin. Pooe was ten tyde van die moord ʼn leerder aan die Rabboni Christian School. Sy medebeskuldigde, Keorapetsa Tshabalala (18), het in Mei skuld op die aanklagte erken en is vir die moord op Koster gevonnis.

Pooe ontken egter skuld op die aanklagte teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei.

Adv. Annelie Coetzee, die staatsaanklaer, het Dinsdag vir Andries van der Walt (72), wat ten tyde van die moord by die skool werksaam was, ondervra. Van der Walt het getuig dat Pooe en Tshabalala die dag van die moord by die skool vir hom vir maskeerband gevra het en hy vir hulle die silwergrys maskeerband gegee het.

Hy het gesê leerders vra gereeld vir hom vir stukkies hout, maskeerband, draad, ens. om take te voltooi, daarom het hy nie gevra waarvoor hulle die maskeerband benodig nie.

Marius du Toit, Pooe se regsverteenwoordiger, het beklemtoon dat Van Der Walt sukkel om te hoor. Hy het Van Der Walt se oorspronklike verklaring aan hom voorgelees en uitgewys dat hy in sy oorspronklike verklaring gestel het dat Pooe en Tshabalala hom saam gevra het vir die band, maar Dinsdag getuig het net Pooe het hom daarvoor gevra.

Tshabalala, wat volgens sy eie erkenning die sneller getrek het, het volgende getuig. Dokumente wat aan die hof voorgehou is stel dit dat die koeël by die kant van Koster se wang in is en by die agterkant van haar nek haar liggaam verlaat het. Tshabalala het aanvanklik getuig dat hy die vuurwapen reguit na Koster gerig het en twee maal die sneller getrek het.

Toe Du Toit hom uitvra oor die hoek waarteen die koeël haar getref het, het hy gesê hy het die wapen afwaarts skuins gehou “soos hy in die flieks gesien het”. Hy het ook getuig dat Koster korter was as hy en dat dit moontlik was dat sy haar kop kon wegdraai. “Dit was die eerste keer wat ek ʼn vuurwapen afgevuur het. Ek was bang, want sy het met uitgestrekte arms na my toe gekom.”

Esbé Koster se familie in die hof (15 Mei 2018). Foto: Maroela Media

Pooe voer aan dat Tshabalala vir Koster met opset laat struikel het en haar geskiet het soos sy val.

Tshabalala het gesê dat hy aanvanklik in sy pa [wie se vuurwapen gesteel is om die misdaad mee te pleeg] se teenwoordigheid gesê het Pooe het die sneller getrek. Volgens hom was hy bang om voor sy pa te erken hy het self die sneller getrek. Hy het ook ʼn tipe maskeerband aan die polisie oorhandig wat ʼn ander tipe was as dié waarmee Koster vasgebind is met die doel om hulle te mislei of op ʼn dwaalspoor te lei.

Du Toit het hom gepols en hy het voor die hof erken dat hy ʼn beëdigde verklaring geteken het wat bevestig dat sy pleitverduideliking korrek is, wat inderdaad nie die geval was nie. “Ek het nie in daardie stadium omgegee wat ek teken nie. Dit was vier dae voor ek gevonnis is en ek het klaar geweet ek gaan tronk toe.”

Tshabalala het volgehou hulle het nooit gedink aan die gevolge van hul aksies nie en was net van plan om die motor te kaap om die onderdele te gebruik om Pooe se gebreekte Golf te herstel. “Ons wou ʼn kar hê om mee rond te ry.” Hy hou vol hulle wou Koster net vasbind en aan die kant van die pad los.

Maroela Media het vroeër berig Koster se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet. Die twee leerders van die skool, toe onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is die dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ontstoke ·

Maroela, ek woon op Brits en daar loop ‘n storie dat albei leerders terug is in dieselfde skool. Ek vertrou op julle om uit te vind of dit werklik so is, want dit sal meer opslae maak as julle met die waarheid uitkom. Ek gaan op, “hoorsê”.

Liberaal ·

Die liberale linkse Hollywood se geweldadige flieks veroorsaak geweld regoor die wereld, maar toemaar, die liberale misdaadbeskermende wetgewing sal die geinspireerde moordenaars beskerm. Vat ons linkses nie mediavryheid bietjie ver nie? Of sal ons maar net die ou verskoning gebruik van dat daar nie ‘n verband tussen geweld in werklikheid en geweld in flieks is nie?

RONEL ·

Bring die doodstraf terug. Die moorde raak belaglik en die redes vir die moorde nog meer. Absoluut absurd.

Nikita ·

Hulle sal nooit die doodstraf terug bring nie Ronel, nie soos moorde te kere gaan vandag in ons land nie….hoekom? Want die persoon met die beste prokureur wen of jy skuldig is of nie…nou word daar beweer dat “onskuldige” mense dalk doodstraf kan kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.