Esbé Koster-moord: Transkripsie steeds nie gereed

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag gehoor dat die transkripsie van die getuienis van die tweede beskuldigde wat aangekla word van die moord op Esbé Koster, die destydse sekretaresse van die Christian Rabboni School in Brits, steeds nie gereed is nie.

Adv. Annelie Coetzee, staatsaanklaer, het gesê dat daar glo Dinsdag eers ʼn nuwe kontrak vir die hof se transkriberingsdienste toegeken is en dat die transkripsie van Rethabile Pooe (18) se getuienis dus nog nie gereed is nie.

Die transkripsie sal glo eers teen Vrydag om 12:00 gereed wees en dan aan die hof se tolke oorhandig word vir vergelyking.

Pooe is een van twee beskuldigdes wat van die moord op Koster aangekla is. Die eerste beskuldigde, Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala (18), het reeds vroeër skuld op die aanklagte beken en is in Mei gevonnis. Pooe ontken skuld op die aanklagte teen hom en die twee se sake is gevolglik geskei.

Pooe se verhoor moes egter verlede maand uitgestel word weens ʼn probleem rondom die vertolking van getuienis. Pooe was besig om deur Coetzee kruisondervra te word toe dit aan die lig gekom het dat die hoftolk vermoedelik sy vroeëre getuienis verkeerd vertaal het.

Nadat die teenstrydigheid tussen Pooe se oorspronklike getuienis en die vertolking daarvan uitgewys is, is die kruisondervraging gestaak.

Waarnemende regter Johan Hattingh het Woensdag verduidelik dat daar intussen ʼn gesprek was tussen hom, Marius du Toit, die prokureur vir die verdediging, Coetzee en die hof se nuwe hooftolk en dat dié tolk hulle die versekering gegee het dat die transkripsie teen 24 Julie gereed sal wees.

Die saak is daarna tot 24 Julie uitgestel en Pooe se borgtog van R10 000 is verleng tot dán.

Maroela Media het vroeër berig Koster, se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet. Pooe en Tshabalala, twee leerders van die skool – toe onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is die dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Engels ·

‘n LEERDER by ‘n skool wat sekerlik ENGELS as vak het maar nou agter ‘n tolk moet wegkruip . amazing hoe hierdie mense sodra hulle hulleself in ‘n hoek vasgeverf het allerhande nuwe truuks probeer om die saak of uit te stel, te verleng of los te kom .. ek wed jou hy het Engels met die vrou gepraat wat vermoor is.

Koos ·

Hou op strooi praat. Elkeen mag in sy moedertaal getuig. Selfs in Oscar se saak was die tolk op stadium vervang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.