Esbé Koster moord: Tweede beskuldigde hoor sy lot

Rethabile Pooe se familielede omhels mekaar nadat die uitspraak gelewer is (10 September 2018). Foto: Landi Slatter

Rethabile Pooe (18), een van die beskuldigdes wat aangekla is van die moord op Esbé Koster, die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School in Brits, het Maandagoggend ʼn vry man uit die hooggeregshof in Pretoria gestap.

Waarnemende regter Johan Hattingh het Pooe onskuldig bevind op al die aanklagte teen hom.

Hattingh het slegs die hoofaspekte van sy deeglike uitspraak van 56 bladsye aan die hof voorgehou.

Hy het klem gelê op die beweerde ooreenkoms wat op 21 November 2016 tussen Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala en Pooe aangegaan is om Koster se motor, ʼn wit Volkswagen Golf, te steel omdat hulle glo ʼn motor nodig gehad het om mee rond te ry.

Pooe het ontken dat daar ooit so ʼn ooreenkoms tussen hulle was. Hattingh het gesê in só ʼn geval waar die hof net een persoon se getuienis het om mee te werk, is dit nodig om Tshabalala en Pooe se getuienis te vergelyk en ʼn oordeel te fel in terme van die geloofwaardigheid van hul getuienis.

Hy het verder gegaan deur talle teenstrydighede in Tshabalala se getuienis uit te wys. Hattingh het onder meer oor Pooe gesê dat sy skoolrekord, in skrille kontras met Tshabalala sʼn, byna vlekkeloos is.

Esbé Koster se dogters, Merlin Barnard en Jeanbie Scheepers, en haar man, Jan Koster, buite die hof. Foto: Landi Slatter

Hattingh het hom uitgespreek daaroor dat Pooe nie die betrokke aand vir sy ouers van die voorval vertel het óf die volgende oggend vir ʼn onderwyser nie. Hy het wel gesê dit is duidelik dat Pooe gevrees het vir sy lewe en dit daarom nie gedoen het nie.

Hattingh het gevolglik gelas die staat kon nie bo enige redelike twyfel hul saak bewys nie en Pooe is vrygespreek op alle aanklagte teen hom. Hy het tereggestaan op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Pooe se familie was ooglopend verlig toe die uitspraak gelewer word en trane van blydskap het gerol terwyl hulle mekaar omhels het.

Koster se man, Jan, en dogters, Merlin Barnard en Jeanbie Scheepers, het ná die uitspraak gesê ongeag wat die uitspraak is, kan niks hul ma terugbring nie. Hulle het gesê hulle is verlig dat Tshabalala in die tronk sit en gesê “as dit die uitspraak is, is dit soos dit is”.

Tshabalala het reeds vroeër skuld op die aanklagte teen hom beken en is in Mei gevonnis.

Koster is op 22 November 2016 vermoor en haar liggaam is langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

leser ·

sterkte aan familie
pooe het deel aan die moord gehad, afgesien dat tshabalala die meesterbrein van die moord was, het pooe gehelp

Lindi ·

My hart breek van vooraf vir die familie.
Ek het saam met Me Koster gewerk en sy was die liefste mens.
Sterkte vir elkeen wat na aan haar was, sowel as haar familie.

Amelda Ferreira ·

Baie dankie vir jou mooi woorde. Ons mis haar elke dag!!!

Dis belaglik ·

DIs darem te lekker as jy van ‘n sekere ETNIESE Groep in SA is word jy ONSKULDIG bevind aan moord maar as jy ‘n WIT ou is en iemand in doodskis indwing is hy skuldig aan POGING TOT MOORD> .. ek het GEEN VERTROUE IN SA SE REGSTELSEL NIE . dit is belaglik … HATTINGH — ek hoop jy kan slaap in die nag .. ek sou nie kon nie.

Nina ·

Liewe familie van Esbé
Ons het nie woorde om te troos nie, maar ons huil saam met julle. Weet net dat julle kosbaar is vir ons hemelse Vader en dat Hy julle nooit verlaat nie. Kosbaar in Sy oë is ook die dood van Sy gunsgenote… Kyk maar net op.

Amelda Ferreira ·

Baie dankie. Ons mis haar elke dag. Dis nie maklik nie, en niemand s ooit weet wat dit aan my pa en ma gedoen het nie!!!

George ·

Wat van ‘n ware spreekwoord…..die deler is so goed as die steler?

Devilla Cruelle ·

Kan al die leuenstoelregters asseblief net ophou sanik oor die uitspraak. Die uitspraak is 100% regstegnies korrek. Dit was gebaseer op getuienis en dit wat voor die hof gelê is. Ek is seker die meeste van julle “kenners” het beswaarlik matriek, wat nog te sê ‘n regsgraad. Derhalwe die emosionele histerie in die kommentare.

Hofuitsprake word gebaseer op feite en getuienis. Nie emosionele duimsuig nie.

Lisa ·

Ek stem 100% saam met jou. Regters se uitsprake is net feite en getuienis en geensins emosionele duimsuig nie. Dit vat dae en nagte se ondersoek, getuienis bestudeer en as die feite daar is dat iemand onskuldig is, is dit die feit. Die waarnemende regter in hierdie saak is ‘n man van standaard en kaliber – definitief iemand wat sy storie ken.

anton ·

Ag asb. aan die twee wat so opkom vir die regters!!!
Ek is persoonlik deur n hofsaak waar ek die slagoffer was en die skuldige het weg gekom met n verkeerde uitspraak a.g.v die regter wat of omgekoop is of iemand het vir iemand toutjies getrek.
Daagliks sien ons in die land hoe swak ons regstelsel is. Net party mense is te blind om dit te sien!!!

Devilla Cruelle ·

Anton,
Ons regstelsel is beslis nie perfek nie. My kommentaar was egter nie oor die regstelsel nie, maar oor die regter in hierdie spesifieke saak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.