Esbé Koster-moord: Verdediging wil aansoek doen om ontslag

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Die staat het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria sy saak gesluit in die verhoor teen Rethabile Pooe (18) wat aangekla word van die moord op Esbé Koster (50).

Die verhoor is ná middagete hervat met AO Moses Mmatli, die ondersoekbeampte in die saak, se getuienis.

Marius du Toit, Pooe se regsverteenwoordiger, het Mmatli kruisondervra. Mmatli het erken dat hy vir die eerste keer vandeesweek in die hof te hore gekom het van Keorapetse “Tshabi” Tshabalala (18) se verweer dat hy en Pooe wel Koster se motor gekaap het om die onderdele te kry om ʼn Golf van Pooe se familie te herstel.

Tshabalala (18), wat saam met Pooe van Koster se moord aangekla is, het reeds vroeër skuld op die aanklagte beken en is in Mei gevonnis.

Daar is in dié stadium nog nie duidelikheid daaroor of die Golf waaroor Tshabalala getuig het wel bestaan of nie. Tshabalala beweer hy het slegs ʼn selfoonfoto van die “rooi Golf” gesien.

Mmatli het ook erken dat hy nie sedert die misdaad op 22 November 2016 een keer by Pooe se huis was nie. Volgens hom het ʼn kollega van hom die adres wel vir borgtogdoeleindes geverifieer.

Du Toit het ook vir Mmatli gepols oor ballistiese toetse wat Mmatli erken het nooit uitgevoer is nie. Mmatli het gesê dit is nie gedoen nie omdat daar nie bewyse was dat skote van naby afgevuur is of ʼn koeël in die grond ingeskiet is nie. “Daar is metaalverklikkers op die toneel gebruik en niks is gevind nie,” het Mmatli gesê.

Tshabalala het gister getuig hy het die doppies van die patrone wat hy afgevuur het, opgetel van die toneel.

Pooe voer aan die kwessie oor die maskeerband is eers by die polisiestasie bespreek. Mmatli het egter volgehou dat hy by die skool met ander onderwysers bespreek het dat Koster vasgebind was waarna hulle gesê het twee leerders het die oggend by “oom Andries” [van der Walt] maskeerband geleen.

Daar was ook onduidelikheid oor waar presies Tshabalala erken het dat hy die een was wat Koster geskiet het. Mmatli het erken dat hy dalk ʼn fout kon gemaak het in sy getuienis oor waar die skulderkenning gemaak is. Waarnemende regter Johan Hattingh het druk op Mmatli geplaas waarna hy gesê het toe hulle by Tshabalala se huis was, het hy voor sy pa, vir wie hy bang was, gesê Pooe het geskiet, maar later by die polisiestasie tog erken dit was hy wat die sneller getrek het.

Mmatli het gesê Tshabalala het vir hom gesê hulle wou Koster se kar hê, want “hy hou van hoe dit ry”. Tshabalala het gister in teenstelling hiermee getuig dat hulle die motor wou roof om die onderdele te gebruik.

Die staat het sy saak gesluit en Du Toit het aangedui dat hy van plan is om ʼn aansoek om ontslag in te dien. Du Toit en Coetzee het hierna Hattingh in sy kamers gaan spreek.

Die verhoor duur Donderdag voort.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elvira ·

Aansoek om ontslag? Verstaan ek nou verkeerd? Liewe genade die lot lieg heen en weer. Kan hierdie regter en staatsaanklaer en prokureurs onthou dat n vrou VERMOOR is en dat hierdie misdadigers erken het en nou wil julle die hasepad kies??? Aikona. Doen julle werk REG.

kas ·

Elvira,net een het skuld erken.Die ander een het onskuldig gepleit.As hy saam was toe die moord gepleeg is,is hy ook skuldig want hy het nie fluitjie geblaas nie.Maar ek stem saam hulle lieg vreeslik oor en weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.