Esbé Koster se moordenaar gevonnis

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Die jong man wat erken het dat hy Esbé Koster (50), ʼn sekretaresse van ʼn skool in Brits in Noordwes, koelbloedig vermoor het, is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria gevonnis.

Regter Bert Bam het die 18-jarige man, wie se naam nie bekendgemaak word nie aangesien hy minderjarig was ten tyde van die misdaad, tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van moord, 10 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede, 10 jaar vir ontvoering, vyf jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen, drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie en nog 10 jaar vir diefstal van ʼn vuurwapen.

Die vonnisse vir ontvoering, onwettige besit van ʼn vuurwapen, onwettige besit van ammunisie en diefstal sal gelyklopend met dié vir die ander twee aanklagte uitgedien word. Hy sal dus effektief 25 jaar tronkstraf uitdien.

Koster se familie was in die hof toe die vonnisuitspraak gelewer is. Jan Koster, Esbé se man, het ná afloop van die hofverrigtinge aan Maroela Media gesê geen vonnis sal ooit sy vrou kan terugbring nie, maar die familie is wel tevrede met die vonnis.

Maroela Media het vroeër berig Koster, die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School, se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet. Twee leerders van die skool, toe onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is die dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem.

Die tweede beskuldigde in die saak het skuld op al die aanklagte teen hom ontken. Die twee beskuldigdes se sake is gevolglik van mekaar geskei en beskuldigde nommer twee sal 18 tot 22 Junie in die hooggeregshof verhoor word.

Hou Maroela Media dop vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ook dankbaar ·

Ek is ook dankbaar vir Regter Bam & due vonnis. Verder is ek dankbaar die jong man staan sy man, as jy verkeerd opgetree het en jy man-up is daar hoop vir jou, maar daardie 1 wat stry is verlore en kos die belasting betaler meer geld,

Plantasiegorilla ·

Swart moord – 15 jr. Wit kis dreigement – 15 jr. ???!! Huh, iewers is n skroef los. Viva rsa se nie rassigge demokrasie.

JoeV ·

Smaak my ook die hof kan nie onthou hoekom ons hom in diens geneem het nie, sal seker eersdags maar self moet sien en kom klaar!

Ekwilibrium ·

Selfs al sit hy die volle 25 jaar, gaan hy maar 43 jaar oud wees as hy uitkom. Wat gaan hy dán doen? ‘n Getroue, bydraende lid van die samelewing wees? Asseblief…

Geskok ·

Hy gaan geleerd daar uitkom, want hulle kry mos al die wonderlike voordele in die tronk.

christa ·

Dankie regter Bam dat jy die moordenaar sommer ‘n goeie vonnis op gele het. So jammer vir die agtergeblewendes.

Lizl ·

Ek dink die straf kon maar swaarder gewees het. Wanneer gaan howe begin om `n standpunt in te neem deur lewenslank te vonnis vir moord ?

Fanie Oosthuysen ·

Vir moord en verkragtings moet doodstraf weer terug gebring word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.