Die jong man wat skuldig bevind is aan die koelbloedige moord op Esbé Koster (50), ʼn sekretaresse van ʼn skool in Brits in Noordwes, het Donderdag weer in die hooggeregshof in Pretoria verskyn.
Die 18-jarige man, wie se naam nie bekendgemaak word nie aangesien hy minderjarig was ten tyde van die misdaad, het vroeër skuld erken op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, die onwettige besit van ʼn vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie, asook diefstal omdat hy sy pa se vuurwapen gesteel het om die misdade mee uit te voer.
Die vonnisverrigtinge sou na verwagting Donderdag begin, maar regter Bert Bam het die saak tot 15 Mei uitgestel aangesien die voorvonnisverslag nie gereed was nie.
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger het aan die hof gesê dat twee van die dokters wat hulle geraadpleeg het vir die verslag nie voldoende was nie. Die verdediging het nou nuwe dokters aangestel om die voorvonnisverslag op te stel en hulle het aangedui dat die verslag teen 15 Mei gereed sal wees.
Bam het sy misnoeë hiermee uitgespreek en gesê dit is jammer dat die saak weereens uitgestel moet word. Hy het dit egter duidelik gestel dat hy nie bereid is om die beskuldigde te vonnis alvorens die verslag beskikbaar is nie juis omdat die beskuldigde nog minderjarig was toe die misdaad gepleeg is.
Die beskuldigde sal in aanhouding bly tot sy volgende verskyning.
Maroela Media het vroeër berig Koster, die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School, se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet. Twee leerders van die skool, toe onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, is die dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem.
Die tweede beskuldigde in die saak het skuld op al die aanklagte teen hom ontken. Die twee beskuldigdes se sake is gevolglik van mekaar geskei en beskuldigde nommer twee sal op 18 tot 22 Junie in die hooggeregshof verhoor word. Hy is uit op borgtog tot sy volgende verskyning.
Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
So raak die regering ontslae van ons een vir een, asseblief, kom ons vra vir ander lande om ons in te neem terwyl ons nog kan vlug. As dit te laat is gaan ons nie maklik kan vlug nie, vra maar vir die mense in Sirie.
En hoekom nogal mag sy naam nie genoem word nie?????????? Don was 16 toe sy naam genoem is. Dubbel Standaarde?
Ek is altyd stomgeslaan oor sulke sake. Hulle is nooit te jonk om die mees bloeddorstige en afskuwelike misdade te pleeg nie. Dit maak ook blykbaar glad nie saak hoe erg die slagoffer se leiding was nie. Maar dan is dit tyd vir vonnisoplegging. Nou moet daar baie noukeurig gelet word op hoe die skuldige se gevolge gaan dra. Nou is dit belangrik dat talle mediese verslae (elkeen in besonder, behalwe natuurlik die volgende twee: nadoodse verslag van die slagoffer en die verslag van die misdaadtoneel ) oorweeg en deeglik nagegaan word. Die slagoffer hoef dit nie volle verantwoordelikheid en… Lees meer »
die opskrif is misleidend
en in die tydperk tot Mei maand toe, gaan die lat seker verdwyn