Esbé se moordenaar ‘was nie moeilikheidmaker’

Esbé Koster. Foto: Verskaf

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag gehoor dat die jong man wat skuld beken het vir die moord op Esbé Koster (50), die destydse sekretaresse van die Rabboni Christian School in Brits, nie ʼn moeilikheidmaker was nie en “net soms nie sy huiswerk gedoen het nie”.

Kgodisho Tima Tau (19), ʼn leerder aan die Rabboni Christian School ten tyde van Koster se moord, was Woensdag in die getuiebank om te getuig in die moordverhoor teen Rethabile Pooe (18).

Koster se liggaam is op 22 November 2016 langs die Ou Lethlabile-pad naby Brits gevind. Sy is in haar kop geskiet. Twee leerders van die skool is ʼn dag ná die moord by die skool in hegtenis geneem. Pooe ontken skuld op die aanklagte teen hom. Sy medebeskuldigde, Keorapetsa “Tshabi” Tshabalala (18), het reeds vroeër skuld op die aanklagte beken en is in Mei gevonnis.

Tau, wat twee grade hoër as Pooe en Tshabalala op skool was, het tydens ondervraging deur adv. Annelie Coetzee, die staatsaanklaer, gesê hy weet dat Tshabalala soms na die hoof se kantoor ontbied is. Hy is egter nie bewus daarvan dat Tshabalala ooit geskors of met dagga by die skool betrap is nie.

Tshabalala het Dinsdag in sy getuienis erken hy is twee keer uit die skool geskors “omdat hy ʼn slegte groep vriende gehad het”, asook dat hy met dagga in sy besit op die skoolterrein betrap is.

Tau het verder getuig hy het die dag van Koster se moord vir Tshabalala en Pooe saam met haar in haar motor gesien. Hy sê die twee het aan hom gesê dat hulle haar vir ʼn saamrygeleentheid gevra het.

AO Moses “Bushy” Mmatli, die ondersoekbeampte, het in sy getuienis gesê nadat Koster se liggaam in ʼn veld gevind is, het hy inligting ontvang dat twee leerders met Rabboni Christian School-uniforms saam met Koster in haar motor gesien is.

Mmatli het die volgende dag die skool besoek en die hoof gevra om tydens die saalopening te vra dat enigiemand wat laaste vir Koster gesien het na vore moet kom. Tau, Tshabalala en Pooe het wel na vore gekom. Tau het toe aan die ander twee gesê: “Kom, praat die waarheid. Julle was by haar.”

Pooe en Tshabalala het erken dat hulle saam met Koster gery het, maar beweer hulle het by ʼn verkeerslig uitgeklim.

Mmatli het verder in sy getuienis gesê daar het tydens dié gesprek ook die kwessie van maskeerband ter sprake gekom. Koster se hande was met maskeerband vasgebind.

Tshabalala het toe aan Mmatli gesê die maskeerband wat hy vroeër by die skool geleen het, is by sy huis en dat hy dit geleen het om ʼn boek te herstel wat hy weer aan die skool moes terugbesorg. Mmatli is daarna saam met Tshabalala na sy huis.

Tshabalala het Dinsdag erken hy het met opset vir die ondersoekbeampte die verkeerde soort maskeerband gegee in ʼn poging om die ondersoekspan op ʼn dwaalspoor te lei.

Die hof het hierna verdaag vir middagete. Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Esbé Koster op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.