Esidimeni: 17 kinders het óók gesterf

verwaarloosde-hospitaal-bed

Foto: Pixabay.com

Sewentien verstandelik gestremde kinders het in 2007 by ʼn nieregeringsorganisasie in Soweto gesterf nadat hulle deur die departement van gesondheid van Life Esidimeni oorgeplaas is, het die arbitrasieverhoor Woensdag in Johannesburg gehoor.

Die inligting is by die verhoor, onder leiding van afgetrede regter Dikgang Moseneke, bekend gemaak deur dr. Morgan Mkhatshwa, bestuurder van Life Esidimeni.

Die tragedie, waar talle pasiënte gesterf het nadat hulle van Esidimeni na nieregeringsorganisasies oorgeplaas is, was deel van die departement van gesondheid se plan om pasiënte, wat aan geestelike versteurings lei, na NRO’s oor te plaas. Die departement het gesê die besluit het ten doel gehad om kostes te bespaar en nuwe gesondheidsdiensverskaffers toe te laat.

“Die kinders is uit Life Esidimeni na ʼn NRO genaamd Khwezilokusa in Soweto oorgeplaas. Sewentien het gesterf. Diegene wat oorleef het, is deur die departement na Esidimeni teruggestuur,” het Mkhatshwa aan die geskokte gehoor gesê. “Toe hulle teruggekeer het, was hulle ondervoed en erg gedehidreer.”

Mkhatshwa was Woensdag baie emosioneel toe hy aan die verhoor verduidelik het dat sy instansie die departement se plan versoek het vir die oordrag van die pasiënte. “Hierdie pasiënte was nie gewone pasiënte met geestelike versteurings nie, hulle is gereeld deur kenners ondersoek en nie die tipe pasiënte wat mens na gemeenskappe kon stuur nie. Ons wou weet waarheen hulle geneem sou word, en ons het spanne kenners aangebied om die NRO-fasiliteite te ondersoek. Dié aanbod is verwerp.”

Hy het gesê die departement is in kennis gestel dat dit nie moontlik óf veilig gaan wees om 2 000 pasiënte binne ʼn maand oor te plaas nie.

“Personeel by Esidimeni was só kwaad, dat hulle byna gedreig het om te bedank te midde van die departement se rampspoedige plan. Ons het hulle egter versoek om te bly en seker te maak dat die pasiënte na die NRO’s oorgeplaas word.”

Hy het gesê dis jammer om te sien hoe mense toegee onder politieke druk.

“Ek verwys na mediese professionele persone met wonderlike getuigskrifte wat nie bereid was om op te staan teen iets wat teen hul eed was nie. Die hoëprofielbeamptes het net daar gesit en gesê, ‘dis jammer’, en hulle het toegegee onder die druk van hul base,” het Mkhatshwa gesê.

Die personeel van Esidimeni het baie goeie verhoudings gehad met talle van die pasiënte wat gesterf het, en hulle het hulle in ʼn professionele omgewing geken en verstaan.

David Makhura, premier van Gauteng, het in Februarie die departementshoof Barney Selebano geskors op aanbeveling van die ombudsman vir gesondheid, Malegapuru Makgoba, ná talle pasiënte by verskeie NRO’s gesterf het.

Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid, het in daardie stadium haar bedanking ingedien.

Volgens Makgoba se verslag in daardie stadium het minstens 94 pasiënte, wat van Esidimeni na ongelisensieerde sentra oorgeplaas is, gesterf as gevolg van wanvoeding en verwaarlosing.

Die getal sterftes het toegeneem toe meer inligting aan Makgoba bekend gemaak is en dit is uiteindelik tot 118 aangepas – ʼn getal wat hy verlede week tydens die verhoor bekend gemaak het. Die getal is weer na 141 aangepas, toe die waarnemende hoof van die departement, Enerst Kenoshi, by die arbitrasieverhoor getuig het. Nog 59 pasiënte word vermis ná die chaotiese oordrag van Esidimeni.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Life Healthcare Esidimeni op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MissDemeanor ·

Dit is verskriklik. Die mense het nie die respek en versorging gekry wat hul verdien nie.

Willie ·

Wreed en selfsutig.. mens kanie glo dat so iets kan gebeur nie… Kinders wat hulself nie kan help nie.. die grootste probleem, behalwe kos, water en medisyne, is dat hierdie pasieente baie spanning beleef tydens sulke skuiwe.. Sies op almal betrokke, vir die wrede massamoord!

Willem ·

Die onbevoegdheid van die “ontplooide kaders” gaan die RSA sink.

Eish ·

Die dame wie se oë geblindoek is en wat die skaal in die een hand en die swaard in die ander het, sal graag die politieke base en hul meelopers n dag of drie in die hof wil gee. Strabare manslag, moord ens.

Ons kan nou duidelik sien hoe dodelik gevaarlik kaderontplooing is. Nie net stel dit lewens in gevaar nie, maar sink ook gevestigde ondernemings. SAA, Eskom, Denel, eenvoudig alles wat hul bestuur verkrummel weens n totale gebrek aan kapasiteit.

Willie ·

Dis seker lellik om te se, maar ek weet presies hoekom daar “A” was….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.