Esidimeni: ‘Beamptes beskerm hulself om tronk vry te spring’

verwaarloosde-hospitaal-bed

Foto: Pixabay.com

Staatsamptenare en nieregeringsorganisasies probeer klaarblyklik hulself beskerm om tronkstraf vry te spring, het die suster van een van die slagoffers van die Esidimeni-tragedie, Maandag gesê.

Christine Nxumalo, wie se sussie Virginia Machapela by die NRO Precious Angels gesterf het, het tydens die arbitrasieverhoor onder leiding van oudregter Dikgang Moseneke, gesê sy hoop dat hulle die waarheid sal hoor tydens die verhoor.

“Ons het gedink ons sal by die arbitrasie die antwoorde kry, maar al die beamptes het nog nie antwoorde gegee nie, en dit maak my kwaad. Hulle beskerm eerder hulself. Ons is nou al in die derde week [van die arbitrasieverhoor], en ons is nog presies waar ons was toe ons begin het,” het sy gesê.

Minstens 141 verstandelik gestremde pasiënte is by verskeie ongelisensieerde NRO’s oorlede nadat hulle deur die Gautengse departement van gesondheid van Life Healthcare Esidimeni oorgeplaas is.

“Ek het gehoop Ethel Ncube [eienaar van Precious Angels] sou nie hierheen kom en krokodiltrane huil nie, maar eerder die waarheid vertel van wat met my sussie gebeur het … en waarom sy oor die datum van afsterwe gejok het … en nie hierheen gekom het om te huil en vir haarself jammer te voel nie. [Levy] Mosenogi [hoof direkteur van beplanning van die provinsiale departement van gesondheid] het ook nie enigiets gesê nie. Hy was die projekleier, maar het niks gesê nie.”

Nxumalo het gesê die arbitrasieproses moes die begin gewees het van die genesingsproses, maar omdat daar nie antwoorde is oor wat met haar sussie gebeur het nie, en geen patologiese verslag is nie, help die verhoor nie.

Sy het gesê die hoofde van die NRO’s, soos Ncube, moet “ophou om te sê wat hulle dink ons behoort te hoor, maar erken dat hulle nie die kundigheid gehad het nie, dat hulle nie in staat was om vir die pasiënte te sorg of om hulle te voed nie”.

Adv. Adila Hassim, wat meer as 50 gesinne van die Esidimeni-slagoffers namens die organisasie Section 27 verteenwoordig, wou by haar weet of sy van enige ander staatsamptenaar iets wou hoor.

“Ek wil van [Gauteng se direkteur van geestelike gesondheid dr. Makgabo] Manamela en [voormalige LUR van gesondheid] Qedani Mahlangu hoor. [Mahlangu] moet kom getuig en vir ons kom sê wat gebeur het. Sy het as LUR afgeteken hierop, selfs toe ons protes aangeteken het, het hulle voortgegaan en die pasiënte geskuif,” het Nxumalo gesê.

Moseneke wou weet of sy enige metode kan voorstel vir die verhoor om by die waarheid uit te kom oor die pasiënte se sterftes.

“Niemand van ons weet hoe hulle dood is nie. Ek dink die enigste manier sou wees om vir hulle amnestie te bied. Ek dink dis die enigste manier hoe hulle iets sou sê. Regter, ek dink dis ʼn natuurlike reaksie om nie die waarheid te praat nie, as dit jou in die tronk kan laat beland. Dit is hulle reaksie.”

Machapela was ʼn Alzheimer-pasiënt by Life Esidimeni. Nxumalo, wat deel was van die komitee namens die families wat gekant was teen die oorplasings. Sy het gesê sy het ʼn SMS in Junie verlede jaar ontvang om haar in te lig dat Machapela na Cullinan in Pretoria oorgeplaas word, en dat Life Esidimeni se deure gesluit word. Sy het later gehoor Machapela is by Precious Angels in Atteridgeville, wes van Pretoria.

“My sussie was baie gelukkig by Life Esidimeni … sy het gewig opgetel en het selfs ons ou grappe onthou,” het Nxumalo gesê.

Machapela is by Precious Angels oorlede. Nxumalo het gesê sy het gesukkel om haar sussie se liggaam te kry en moes ʼn saak by die polisie aanhangig maak om die liggaam te kry. Die lykshuis, waar haar sussie se liggaam gehou is, het geweier om die liggaam vry te stel en hulle het geëis dat sy van hul dienste gebruik maak om Machapela te begrawe.

Mahlangu het in Februarie vanjaar, in die lig van ʼn verdoemende verslag deur die ombudsman van gesondheid, Malegapuru Makgoba, bedank. Makgoba het bevind dat die pasiënte as gevolg van verwaarlosing en uithongering gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stoffel ·

Julle mense moet ook pasop vir tehuise wat soos paddastoele opspring die afgelope tyd. Die helfte van hulle is nie eers geregistreer nie, die verpleegsters is partykeer nie eers bewus daarvan nie. Orals probeer mense net geld maak en voel n veer vir die res

Hans ·

Wat hulle gedoen het is wreed en onmenslik teenoor weerlose en hulpelose mense. In die Bybelse tyd sou die hele lot gestenig gewees het.

Luister ·

Behalwe vir die tragiese verlies van lewens, gaan hierdie skandaal die Gesondheidsdepartement BAIE meer kos as wat hulle wou bespaar.

chris.l ·

Net om na daai bed en matras te kykis om voor dood tegaan dis n skande om te sien dat n plek so lyk GAGA

Frik ·

Hulle moet almal aangekla word van moord ..nog n skandaal op die Anc se lys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.