Esidimeni-beamptes ontvang glo meer as R2 miljoen

Barney Selebano (Foto: ANA)

Meer as R2 miljoen is glo betaal aan twee hoës van die Gautengse departement van gesondheid wat bedank het nadat hulle in Februarie 2017 met salaris geskors is as gevolg van hulle betrokkenheid by die Life Esidimeni-tragedie waarin minstens 143 pasiënte gesterf het.

Jack Bloom, DA-LPW, het gesê volgens sy beraming het Barney Selebano, die voormalige hoof van die departement, meer as R1,5 miljoen ontvang tydens die tydperk waarin hy geskors is. Makgabo Manamela, die geskorste direkteur van geestesgesondheid, is glo R700 000 betaal.

Selebano het Dinsdag bedank en Manamela Woensdag. Selebano en Manamela was deel van die beamptes wat in 2017 Life Esidimeni- psigiatriese pasiënte na ongelisensieerde NRO’s geskuif het waarna 143 van die pasiënte gesterf het. Die meeste pasiënte het hoofsaaklik aan hongersnood en erge verwaarlosing gesterf.

Bloom het gesê dit is jammer dat die dissiplinêre aksie teen Selebano en Manamela vertraag is deur hul mislukte appèl teen die gesondheidsombudsman se bevindings. Volgens hom het hulle ook ander vertragingstegnieke gebruik.

Hy het bygevoeg dat Selebano en Manamela albei ʼn ruim pensioen sal ontvang.

“Ek voorsien dat Selebano en Manamela strafregtelike aanklagtes in die gesig sal moet staar ná die polisie se ondersoek na die sterftes. Dit sal waarskynlik strafbare manslag, bedrog en die oortreding van die Wet op geestesgesondheid wees. Ware geregtigheid en verantwoordbaarheid sal net plaasvind wanneer hul aanspreeklikheid deur ʼn hof bepaal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PENSIOEN ·

Nog nooit het ek van enige land gehoor waar iemand ‘n paar maande werk of ‘n paar jaar en ‘n R30 miljoen of meer pensioen ontvang nie. Ons arme ou urke werk 20 jaar en dink twee miljoen is baie wat jy bymekaar gemaak het. Moet jou pensioen nie jou BYDRAES reflekteer wat jy elke maand bygedra het (met ‘n bietjie groei nie)? Die ESKOM man het 3 maande gewerk, NIE bygedra tot die pensioenfonds nie EN daar is ‘n R30 miljoen uitbetaling aan hom gemaak .hoe werk die pensioenfondse of is dit ‘n onuitpuntlike bron van ANDER mense se geld wat so uitgedeel word en as jy die dag met pensioen wil gaan kom jy agter die goue handdrukke wat uitgedeel is is alles uit die PENSIOEN koekieblik gevat?

Luister ·

Skandalig dat hierdie gewetenlose mense ENIGE geld ontvang. Hoop hulle gaan tronk toe, waar hulle hoort! Die arme slagoffers het nie maar net gesterf nie, hul is van honger en dors dood, en nog sonder hul medikasie ook.

christa ·

as jy afbetaal is deurdat jy skelm was moet jy geen pakket kry nie. Net jou gewone salaris en diensjare. Maar die regeringsmense is skelm om afbetaal te word want hulle weet hulle kry goue handdruk. Plaas daardie geld vir skoolgelde en medies aangewend word.

Kobus ·

Adv Gerrie Nel gaan hopelik hierdie twee op sy “to do” lysie voeg

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.